Werkloses bou huise gratis vir ander
Tanja Bause
Agt werklose jong mans uit die informele nedersettings rondom Windhoek het vanjaar sonder betaling of vergoeding reeds 20 sinkhuise vir vreemde mense gebou, of huise vergroot en talle herstel.
Die projek Build Shacks is deur mnr. Peacemaker Imanga begin. ’n Vrywilliger van die Duitse Aktion Straßenkinder e.V.-organisasie, me. Elizabeth Meyer, het by die sopkombuis wat deur Imanga se ma, me. Monica Imanga, in die Goreangabdam informele nedersetting bedryf word, gaan uithelp. Sy het toe gehoor van ouma Garises wat met haar 16 kleinkinders in haglike omstandighede woon en ’n sinkhuis vir haar laat bou. Toe sy na Duitsland terugkeer, het sy en Imanga met Build Shacks begin.
Aktion Straßenkinder e.V. samel geld in Duitsland in en stuur dit na Namibië. Hier koop Imanga en sy vriende die nodige materiaal en vervoer dit na die plek waar die sinkhuis gebou of vergroot moet word. Hulle doen dan al die werk en die begunstigde familie kry ’n sinkhuis wat aan hulle behoort.
“Sodra ons geld ontvang, gaan ons na die informele nedersettings en praat met die mense oor wat hulle benodig. Ons help eers bejaardes, enkelouers en huishoudings wat deur kinders bestuur word,” het Imanga gesê.
Aan die begin van die jaar het hulle 16 huise in die informele nedersettings Okahandjapark, Otjomuise en Goreangabdam gebou en vergroot. Verlede week het hulle nog vier gebou.
“Soms bou ons vir die mense ’n heel nuwe huis. Soos vir die Sihafeneni-susters wat in ’n houthuisie gewoon het. Dit is baie gevaarlik, want as die kers omval, brand die huis baie vinnig af. Ons het ook ’n nuwe een gebou vir die 74-jarige oupa wat in ’n baie klein huisie gebly het wat uit ou, verroeste sinkplate aanmekaar geslaan was,” het Imanga gesê.
Ander kere bou hulle net ’n kamer aan die bestaande sinkhuis aan om dit te vergroot. Op dié wyse het hulle aan die begin van die jaar ’n kamer by ’n vrou in Okahandjapark vir haar seun aangebou. Verlede week het hulle nog ’n kamer vir haar ander seun aangebou.
“Wanneer ons so bou en ons sien daar is kinders of jong mense by die huis, dan gee ons vir hulle werk. Hulle moet help om die huise te bou of te verbeter. Ons sê vir hulle van die begin af dat hulle nie betaal gaan word nie. Dit is vir hulle en hulle moet hand bysit,” het mnr. Christoph Kondjeni gesê.
Build Shacks herstel ook sinkhuise se dakke wat lek en doen klein herstelwerk. In winter gee hulle ook komberse, warm klere en kos aan die families aan wie hulle hulp verleen.
Al die mans wat by die projek betrokke is, is tussen die ouderdomme van 17 en 30.
“Ons is gesonde, jong mense wat nie werk het nie, maar dit beteken nie dat ons niks moet of kan doen nie. Die lewe gaan nie net oor geld nie en dit laat my baie goed voel as ek iemand kan help. Die blydskap op die gesigte van die mense wat ons help, is genoeg betaling,” het Kondjeni gesê.
Volgens Imanga beteken dit vir hom baie dat hy as ’n jong man ’n bejaarde persoon kan help om ’n beter lewe te kan lei.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie