Wernhil brei uit
Tot 1 100 nuwe werksgeleenthede sal verskaf word tydens die bouproses en daarna.
Augetto Graig - Die simboliese sooispitseremonie om die vierde fase in die uitbreiding van die ikoniese Wernhil Park-inkopiesentrum af te skop het op 3 Julie in die hoofstad plaasgevind.
Die Olthaver & List-groep (O&L) se ontwikkeling van ’n halfmiljard Namibiese dollar sal in twee dele gebou word.
Die eerste fase sal na verwagting teen 1 Junie 2018 klaar wees en die tweede deel teen 1 Mei 2019.
Tot 1 100 werksgeleenthede sal geskep word: 400 gedurende die bouproses onder beheer van Namibia Construction, en tussen 600 en 700 ná die bouwerk voltooi is.
Tans is die winkelsentrum sowat 36 500 vierkante meter groot met 1 100 parkeerspasies. Maandeliks doen meer as 1 miljoen kliënte hul inkopies hier.
By die sooispitseremonie het die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, die groep maatskappye geprys vir hul toewyding aan die verdere ontwikkeling van die land - veral in die huidige ekonomiese klimaat.
“Dit maak my hart warm as ek sien ons eie mense en besigheidsgemeenskap poog om by te dra tot Namibië se Visie 2030 en die nasie se ontwikkeling,” het sy gesê.
Volgens Shaningwa speel die ontwikkeling van infrastruktuur ’n betekenisvolle rol in die groei van die plaaslike ekonomie. Die huidige wêreldwye ekonomiese druk sal Namibië nog tussen 12 en 18 maande lank raak, het sy gesê.
Volgens O&L se kommunikasiehoof, me. Roux-Che Locke, beteken dit die deure van nuwe winkels in die sentrum sal net betyds oopmaak.
O&L se filiaalmaatskappy en eiendomsbestuurders Broll Namibia se besturende direkteur, mnr. Marco Wenk, het gesê die ontwikkeling sal die toevoeging van sowat 19 000 vierkante meter gehalte verkoopsgebied behels, of plek vir nog 50 winkels, nog 800 parkeerspasies en nóg ’n openbare vervoerfasiliteit.
Dit alles sal oor ’n ontwikkelingsgebied van amper 50 000 vierkante meter oor ’n stuk grond van 1 hektaar strek.
“Dit is duidelik dat die Wernhil Park fase vier-uitbreiding ons mees ambisieuse en belangrikste kleinhandelprojek tot dusver is,” het hy gesê.
Deel een van die nuwe ontwikkeling sal die huidige suidelike parkeerarea se boonste dek, waar die sooispitseremonie plaasgevind het, in ’n verkoopsgebied vir hoofsaaklik kleinhandel omskep.
Deel twee is groter en sal bestaan uit kleinhandel, parkering en addisionele taxigeriewe, en sal op die huidige Cashbuild- en Fruit & Veg-perseel gebou word.
Deel twee sluit ook ’n kleinhandelbrugskakel oor Fidel Castrostraat in.
Bekende kleinhandelaars soos Dischem, @Home, Donna Claire, Markham, Sportscene, Due South en Fabiani van die Foschini groep sal ’n tuiste in die eerste deel vind, terwyl die tweede deel plek sal maak vir verskeie handelsmerke soos Checkers, Food Lovers Market, Hi-Fi Corporation, Cross Trainer en Mugg & Bean.
Mnr. Muesee Kazapua, Windhoek se burgemeester, het O&L veral bedank vir hul voortdurende belegging in die stad en die hupstoot wat die ontwikkeling gee aan pogings om die stad se sentrale besigheidsdistrik op te kikker.
Wernhil is bekend as die "hartklop van die stad" en die uitbreiding daarvan sal die stad se hart weer laat klop, het Kazapua gesê.
“Windhoek se ontwikkeling word aangevuur deur die volgehoue vertroue van die besigheidsgemeenskap om in Windhoek se ekonomie te belê,” het hy gesê.
Die burgemeester het ’n beroep op O&L gedoen om ’n soortgelyke ontwikkeling in die armer noordelike uitbreidings van die stad aan te pak.
Mnr. Sven Thieme, uitvoerende voorsitter van die O&L-groep, het gesê hy is optimisties dat die land se ekonomie sal herstel.
“Kom ons vat hande om die uitdagings aan te spreek sodat ons die besigheidsomgewing kan verbeter om internasionaal mededingend te raak en beleggings te lok. Dit is slegs deur plaaslike waarde toe te voeg dat ons werkloosheid volhoubaar sal verminder en ekonomiese groei sal stimuleer.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie