Wernhil Park-sentrum groter as ooit

Meer as 'n halfmiljard dollar is deur die O&L-groep bestee om nog 50 winkels te huisves.
Augetto Graig
Augetto Graig



“Vandag kan Windhoek trots spog met 'n ­struktuur wat vordering en groei ­verteenwoordig, asook 'n land op pad na 'n toekoms van geleenthede, ontwikkeling en voorspoed.”

Só het president Hage Geingob Dinsdag fase vier van die Wernhil Park-winkelsentrum in die hoofstad ingehuldig.

Wernhil is Namibië se oudste ­winkelsentrum en is amptelik in 1990 ook deur Geingob, toe eerste ­minister, geopen.

Amper 30 jaar later kan die ­president terugkyk op 'n projek wat voortdurend presteer.

“Oor die jare het ons gesien hoe Wernhil Park van krag tot krag gaan. Dit was 'n deurlopende poging, maar 'n poging wat die moeite werd was,” het die president gesê.

Hy het gesê die regering is bewus van uitdagings wat Namibië se ­sakegemeenskap in die gesig staar.

“Die regering is bewus van die feit dat die huidige ekonomiese ontstuimigheid alle Namibiërs se lewens­kostes beïnvloed. Sake in die ­algemeen word ook erg geraak, met baie besighede wat hard baklei om te oorleef,” het hy gesê.

“Die ontwikkeling van Wernhil Park bewys dat selfs in uitdagende ­situasies is daar 'n weg as daar 'n wil is. Ons word almal geraak deur hierdie ekonomiese tye, maar kom ons vind oplossings in plaas daarvan om op probleme te fokus.

“Kom ons maak die beste van ­bestaande geleenthede en beweeg vorentoe met patriotisme en vas­beradenheid om ons land op 'n positiewe groeikoers te plaas,” het hy gesê.

Dié boodskap is ook in die ­Ohlthaver & List (O&L)-groep se ­uitvoerende voorsitter, mnr. Sven Thieme, se ­toespraak weerspieël.

Die groep maatskappye besit Wernhil Park.

Thieme het gesê hy is veral trots op die maatskappy, wat in 1919 deur sy oupa gestig is, se geskiedenis van 100 jaar.

“Alles begin met 'n droom en 'n visie. Vanaand wil ek graag erkenning aan mnr. Werner List gee en hom vier; my oupa, wie se droom dit was om 'n verskil te maak, om 'n katalisator vir verandering te wees, wat met 'n gevoel van skeppendheid en vry­moedigheid passievol was in sy strewe om tot die skepping van 'n sterk ekonomie by te dra.

“My oupa het geglo die private sektor kan die regering ondersteun deur die skep van volhoubare besig­hede; om 'n kragtige ekonomie te bou en te verseker ons stel saam 'n goeie, waardige lewenstandaard vir ­ons mense,” het Thieme gesê.

Volgens Thieme het die O&L-groep in die huidige finansiële jaar reeds meer as 'n miljard dollar aan infrastruktuurprojekte in Namibië bestee: N$300 miljoen aan die uitbreiding van Hangana se seekosaanleg, N$140 miljoen aan die opgradering van O&L-vakansieoorde, en N$550 miljoen aan fase vier van Wernhil se ontwikkeling.

Die eiendom is deel van O&L se ­sustermaatskappy Broll Namibia se portefeulje.

Broll se besturende direkteur, mnr. Marco Wenk, sê meer as 'n miljoen voete stap elke maand deur die ­Wernhil-sentrum se ingange.

Toe fase vier van die sentrum die afgelope Saterdag geopen het, het meer as 100 000 mense die sentrum daardie dag besoek.

Wernhil se nuwe uitbreiding volg sewe jaar van beplanning en sewe maande van 40 000m² se beton­fondasies gooi.

Sowat 18 000 m³ se beton is gegooi, wat gelykstaande aan 2 500 lorrievragte is, het Wenk gesê.

Meer as 'n duisend ton staal en 140 km se kabels is in die bouproses gebruik.

Tussen 400 en 500 tydelike werksgeleenthede is in die proses geskep, asook minstens 600 permanente werksgeleenthede.

Die hele winkelsentrum strek nou oor vier hektaar met 54 000 m² se winkelgebied wat verhuur kan word, 1 800 parkeerspasies en twee openbare vervoergeriewe.

Die uitbreiding spog met 50 winkels, wat Checkers, Dis-Chem, Hi-Fi ­Corporation en die vyfde Food Lover's Market in Namibië insluit.

Mnr. Jakes Enssle, 'n winkel­bestuurder, sê die publiek se ondersteuning sedert Saterdag se opening is ­ongelooflik.

“Hierdie winkel het met 85 werk­nemers begin, maar ons trek nou al by 100 omdat ons ekstra hande nodig het,” het hy gesê.

'n Voorbeeld van die topgehalte ­inkopies wat by Wernhil gedoen kan word, is die uitvoergehalte ­Namibiese vleis wat by Food Lover's Market ­beskikbaar is.

“Ons ondersteun boere deur ons produkte. Dit is die ding – ons wil aan die land teruggee,” het Enssle gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!