Werwing van Fishcor-hoof in ACC se visier

’n Ondersoek is aan die gang om vas te stel hoe ’n kandidaat, wie se aansoek twee weke ná die sperdatum ingedien is, op die kortlys beland het en selfs vir die pos aanbeveel is.
Yandi Du Plessis
Mathias Haufiku en Jemima Beukes

Die ministerie van staatsondernemings (SOE’s) het die Teenkorrupsiekommissie (ACC) gevra om ondersoek in te stel na hoe mnr. Stanley Ndara, een van die kandidate wat vir die pos van die uitvoerende hoof van Fishcor aansoek gedoen het, op die kortlys beland het.

Dit nadat hy na bewering die sperdatum vir aansoeke misgeloop het en daar twyfel oor sy kwalifikasies bestaan.

Die direksie het Ndara vir dié pos aanbeveel.

Minister Leon Jooste het Maandag bevestig sy kantoor het die ACC genader om die saak te ondersoek.

“Ek moet erken dit is waar, maar ek kan nie meer inligting verskaf nie, aangesien dit die ondersoek kan benadeel,” het hy gesê toe hy Maandag genader is.

Hoewel dit nie bevestig is nie, is daar sprake dat die ministerie van plan is om die hele werwingsproses van voor af te begin.

Sommige direksielede het glo Ndara se teenwoordigheid op die kortlys opgemerk nadat hy sy aansoek lank ná die sperdatum ingedien het.

Volgens inligting wat deur ons susterkoerant Namibian Sun bekom is, is die 49-jarige se aansoek op 18 Februarie, twee weke ná die sperdatum, ontvang.

Vrae is ook geopper oor sy kwalifikasies, met sommige wat bevraagteken hoe hy ‘n meestersgraad sonder enige voorgraadse kwalifikasies kan hê.

Ndara, tans uitvoerende hoof van die Fisheries Observer Agency, het gesê hy is bewus van die ondersoek, maar het geweier om verdere kommentaar te lewer.

Die direksie het op 4 Februarie in Windhoek vergader om ‘n kortlys op te stel van diegene wat aansoek gedoen het om die leisels by die nasionale vismaatskappy oor te neem wat na bewering ’n kanaal was vir geldwassery van sowat N$75 miljoen se openbare fondse.

Ten tyde van Ndara se aansoek was mnr. Mihe Gaomab II en mee. Ruth Herunga, Milka Mungunda en Penny van Hal-Hiwilepo die Fishcor-direksielede.

AGTERGROND

Ndara het jare se ondervinding in die visbedryf nadat hy in beide die openbare en private sektor gedien het.

Hy het verskeie visseryverwante sertifikate, en ‘n diploma in oseanereg en -beleid.

Hy het ook ‘n eenjaar-meestersgraad in menslike hulpbronbestuur van die Middlesex University Business School in die Verenigde Koninkryk (VK), wat hy in 2006 verwerf het.

In 2006 het Ndara sy kwalifikasies vir beoordeling by die Namibiese Kwalifikasie-owerheid ingedien.

Dit het ’n standerd 8 (graad 10)-sertifikaat, visserye-inspekteursertifikaat en sy kwalifikasie van die Middlesex Universiteit ingesluit. Al drie is goedgekeur.

SSC-KONFLIK

Aantygings van botsende belange staar die direksie ook in die gesig nadat een van sy lede se ondergeskiktes spesifiek gekies is om die werwingsproses te bestuur.

Mungunda, wat ook as die uitvoerende hoof van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) dien, was deel van die span wat ten gunste daarvan was om vir me. Yulanda Marais aan te stel om die proses te bestuur.

Marais het destyds as die SSC se hoof van menslike hulpbronne gedien.

Sy het sedertdien die SSC verlaat en by Tunacor, een van Fishcor se grootste mededingers, aangesluit.

Na bewering was Gaomab en Mungunda die enigste direksielede wat geweet het van Marais se aanstelling.

’n Amptenaar wat kennis dra van die onderhoudsproses, het gesê Marais het uiteengesit hoe die onderhoudsproses sal werk en sy was verantwoordelik om telling van die punte te hou.

Fishcor-bronne het gesê die menslike hulpbronafdeling, onder leiding van me. Mansweta Joseph, is tydens die proses omseil.

“Ons het eers van die uitkontraktering te hore gekom terwyl die proses goed op dreef was; ons was onder die indruk die proses sou intern hanteer word. Dit sal interessant wees om te weet of daar ooit ‘n direksiebesluit is om die aanstelling van ‘n werwingsagentskap wettiglik goed te keur,” het die Fishcor-binnestander, wat anoniem wou bly, gesê.

Mungunda se mededireksielede het haar opdrag gegee om die vrae vir die onderhoud saam te stel. Sommige lede het egter beweer hulle het die vrae eers op die dag van die onderhoud gesien.

Mungunda het Maandag geweier om kommentaar te lewer en het alle vrae na Gaomab verwys.

Gaomab het gesê die direksie handhaaf deursigtigheid en vertroulikheid en hanteer die proses op ’n etiese wyse en wil hê die proses moet binnekort met die owerhede afgehandel word.

Marais het nie op vrae gereageer nie. - [email protected]

BLOKKIE:

DIE KWESSIES:

Ndara se CV twee weke ná die sperdatum ontvang

Ndada het ’n meestersgraad, maar geen voorgraadse kwalifikasie

Mungunda stel glo ‘n ondergeskikte aan om die werwingsproses te bestuur

Fishcor se menslike hulpbronafdeling by die proses uitgesluit

Jooste stop die hele proses

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!