Wes-Kaap se reu00ebn gee damme u2019n hupstoot
Wes-Kaap se reu00ebn gee damme u2019n hupstoot

Wes-Kaap se reën gee damme ’n hupstoot

Malherbe Nienaber

Die watervlak van die Wes-Kaap se damme het in die week tot Maandagoggend aansienlik toegeneem tot 41,5% vanaf 36,27% die vorige week en 23,6% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

In die opvanggebied van sommige damme is meer as 100 mm reën gemeet.

Dele van die Klein-Karoo, Boesmanland en Langkloof wag egter nog steeds op goeie reënval en gaan nog hulp benodig, het die provinsiale regering Maandag gewaarsku.

Die gemiddelde vlak van damme wat water aan Kaapstad lewer, het gestyg tot 48,33% vanaf 42,33% die vorige week, teenoor 24,9% dié tyd verlede jaar.

Twee van die ses vernaamste damme wat Kaapstad bedien, is byna 80% vol, luidens die departement van water en sanitasie (DWS) se jongste syfers.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het dié stygings verwelkom.

By die Bergrivierdam is 159 mm reën oor die afgelope sewe dae gemeet, en 51 mm het by die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die Wes-Kaap, geval.

Bredell het daarop gewys dat al die opvanggebiede verbetering toon, behalwe die Gouritzrivier-gebied wat ook water aan die sentrale Karoo lewer.

“Dele van die Karoo, Klein-Karoo, Boesmanland en Langkloof wag nog op verligting. Ons moet op ’n provinsiale vlak aanhou om waterbeperkings na te kom.”

WAARSKUWING

Die publiek is ook gewaarsku oor die uiters koue weer en sneeu wat oor groot dele van die provinsie kan voorkom, terwyl rampbestuursentrums op ’n gereedheidsgrondslag bly.

In die afgelope week het die vlak van die Theewaterskloofdam tussen Villiersdorp en Grabouw tot 34,15% gestyg vanaf 29,86% in die vorige week, terwyl dit verlede jaar dié tyd nog 19,24% vol was.

Die Benede-Steenbrasdam se vlak het tot 50,4% gestyg vanaf 44,59% die vorige week nadat 55 mm reën in die afgelope sewe dae in dié omgewing gemeet is.

Die Voëlvleidam se vlak het tot 44,6% gestyg vanaf 38,48% die vorige week nadat 41,5 mm reën aangeteken is.

Die vlak van die Bergrivierdam is 78,17% en dié van die Wemmershoekdam is 79,31% nadat 111,6 mm reën by die Wemmershoekdam gemeet is.

Reën van meer as 100 mm is ook by die Roode-Elsbergdam (136 mm), Ceresdam (145 mm) en Stettynskloofdam (149,6 mm) gemeet.

Die vlak van die Roode-Elsbergdam, buite De Doorns, het van 36,85% tot 52% gestyg, terwyl die vlak van die Ceresdam van 46% tot 60,9% gestyg het.

In die noordweste van die provinsie het die vlak van die Clanwilliamdam van 57,46% tot 67,69% gestyg. Verlede jaar dié tyd was die dam net 19,03% vol.

Daar is die afgelope week ook 27 mm reën by die Kareedam net buite Calvinia gemeet en die vlak van dié dam het van 37,57% tot 47% gestyg.

Die DWS het Maandag gesê die aansienlike reënval in die Wes-Kaap het “verligting” gebring, maar het benadruk dat beperkings van 45% op huishoudelike en nywerheidsgebruik en 60% op die landbou se watergebruik steeds van krag is.

Dié beperkings word egter teen September, met die einde van die “hidrologiese jaar” hersien en kan dan aangepas word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!