• Tuisblad
  • Sport
  • Western Suburbs klop Rehoboth swaar verdiend . . . of was dit onverdiend?

Western Suburbs klop Rehoboth swaar verdiend . . . of was dit onverdiend?

Trustco United is danksy vyf drieë die voorloper ná wedstryddag 1.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die minimale verskille tussen wen en verloor was Saterdag die opvallende eienskap van die drie wedstryde in die openings­ronde van die 2019 premierliga van die Namibië Rugby-unie (NRU).

Elkeen van die drie wedstryde was tot in die laaste minuut nog in die weegskaal, met die uiteindelike ver­skille drie punte, twee punte en een punt.

In Khomasdal het FNB Western Suburbs sy alie af gesukkel om die wenpunte te kry teen Rehoboth Rugbyklub, wat onder sy nuwe afrigter David Philander skynbaar op koers is om vanjaar weer sy stem dik te maak.

Buitesenter Ricardo Swartz se suksesvolle strafdoel van een meter agter die halflyn, met speeltyd verstreke, het met 23-22 die harte gebreek van Rehoboth wat 'n dapper vertoning in 'n aanskoulike wedstryd gelewer het.

Tagtig minute tevore het Suburbs ook sy opportunisme gewys. Skaars dertig sekondes was verby toe die jong nuweling-vleuel Daniel Hummel, tevore van Jan Möhr, in die hoekie afgerond het nadat die gasheerspan die afskop teruggewen, een fase opgestel en daarna met twee oorslaanaangeë die bal na links uitgeskiet het.

Losskakel Justin Nel se doelskop was oor (7-0), met strafdoele deur Nel en Rehoboth se skopper Henrique Olivier wat die telling tot 10-6 in Suburbs se guns laat aangroei het.

'n Tikkie geluk was in Rehoboth se eerste drie betrokke, toe losskakel Ascher Coetzee van 'n skrumbal 'n skoppie vir homself gegee en gejaag het. Dit was nie duidelik of hy aangeslaan en of die bal van 'n Suburbs-verdediger gekom het nie, maar Coetzee het dit uiteindelik wel teruggewen en na Henrique Olivier weggekry, wat sy sentermaat Hillian Beukes vir die drie deurgejaag het. Olivier se doel­skop het Rehoboth die eerste keer met 13-10 laat voorloop.

Van 'n mislukte Olivier-strafskop het Suburbs dadelik met 'n giftige teenaanval tot op die besoekers se kwartlyn gevorder, maar 'n hanteerfout het die beweging laat doodloop.

Danksy twee Olivier-treffers het Rehoboth egter die rustyd met 'n voorsprong van 19-10 geniet.

Rehoboth se agtsteman Johann Wohler is kort daarna vir tien minute koelkas toe gestuur vir 'n opsetlike aanslaan. Sy span het vasgebyt om in dié tyd net een strafdoel deur Justin Nel af te staan (19-13).

Olivier het ná 32 minute sy kans aangegryp om met 'n strafdoel die voorsprong te laat groei (22-13), voor Suburbs se dramatiese laat ontsnappoging.

Justin Nel en Japhet Tjindjo het van 'n los skop met 'n teenaanval na regs begin waar vleuel Dumarcho Hartung vasberade gehardloop het, voordat hy die bal weggekry het vir flank Vakomboka Kamboo se drie in die hoekie ná 35 minute. Nel het netjies verdoel om die verskil net 22-20 te maak.

In die laaste dramatiese oomblikke voor die eindfluitjie is 'n strafskop binne hul eie helfte aan Suburbs toegeken. Ricardo Swartz het aangelê en sy wenskop akkuraat deur die pale gestuur.



NIE KLINIES NIE

Western Suburbs se afrigter, Llewellyn Winkler, het agterna gesê sy span is definitief fiks ná die afseisoen en het heelwat skietgoed – hoewel sommige van die skietgoed Saterdag in hul eie voet beland het.

Volgens hom het oorgretigheid hulle hanteerfoute laat begaan wat vir Rehoboth kanse geskep het.

Suburbs kon egter voorlangs nie net maak wat hy wou nie en die afwesigheid van 'n amptelike voorspeler-afrigter lyk na 'n leemte. Boonop was hul dissipline verdag, met skeidsregter Stephan Kellerman wat twee kere sy strafskoppe tien meter nader beweeg het vanweë terugpratery.

Daar was min te sien van die onfikse Rehoboth-span wat tevore moeg sou raak en foute op die verdediging sou begin maak. Die Rooi Bulle het talle kere Suburbs se baldraers teruggeduik en het ook die Khomasdallers se foute gestraf om besit op die grond te steel. Toe Rehoboth self later vir 'n paar minute op hul eie doellyn vasgepen was, het hulle dit suksesvol teen aanslag op aanslag verdedig.

Op 'n slag in die tweede helfte het Rehoboth se voorspelers ook meer as 15 meter met 'n rolmaalbeweging gevorder om te wys dat hulle nie net een pyl in hul koker het nie.



UNITED OORLEEF NÉT

Trustco United was die enigste span wat die naweek meer as vier drieë kon druk om 'n bonuspunt te verdien en is dus die voorloper ná die eerste ronde.

United het op Dr. Lemmer se skoolveld vyf drieë teen net een van Reho Falcon gedruk, hoewel die eindtelling net 36-33 in die bloues se guns was.

Volgens een telling aan United-kant was skeidsregter Zaid Isaacs se strafskoppe glo 34-8 in Reho Falcon se guns. Dit het daartoe bygedra dat Falcon se losskakel, Franklin Busch, agt strafdoele deur die pale gestuur het. Busch het ook sy span se enigste drie gedruk en verdoel, as loshande dié individuele puntemaker van die naweek.

Die Filistyne, wat in 2018 in die eindstryd deur FNB Wanderers geklop is, se driedrukkers was die flank Morné Blom, agtsteman Shaun van Rooi, senters Jacques Le Hanie en Henry Kandjou (plaasvervanger) en die slot Winmar Rust.

“Ons het maar gesukkel om aan die gang te kom en ons het letterlik eers in die laaste minuut met 'n strafdoel deur Winmar Rust gewen,” sê United se afrigter, Robbie Dickson.

“Ek haal my hoed af vir my spelers, asook vir Ronaldo Pedro se Falcon-manne wat goeie dissipline gehandhaaf en nie hul geduld verloor het nie. Daar was geen kaarte vir vuilspel nie. Die skeidsregter se eensydige beslissings was beslis 'n groot frustrasie, want ons kon byna niks doen sonder om 'n strafskop af te staan nie.

“Dit was 'n goeie wedstryd vir ons om mee te begin, hoewel dit duidelik is dat ons nog baie werk nodig het.”



KUDUS DRUK UNAM HARD

FNB Unam se besoek aan Walvisbaai was suksesvol toe hy Kudus met 24-22 geklop het en afrigter Johan Diergaardt kan dus vertroue put vir die heropboufase wat by die studenteklub voorlê.

Unam en Kudus het elkeen drie drieë gedruk, met 'n ewe dramatiese einde toe Kudus se plaasvervanger-skopper Rayton Paulse twee keer kanse verbrou het om met strafskoppe die wedstryd vir sy span te wen.

Losskakel Chad Plato, senter en kaptein Camlo Martin en vleuel Sunday Haitembu was driedrukkers vir die wenspan, terwyl Kudus se drieë van heelagter Lloyd Jacobs (twee) en agtsteman Joshua Jacobs gekom het.

Die volledige wedstrydverslag deur Leandrea Louw verskyn binne in Sport Wrap.

• Komende Vrydagaand speel United tuis teen Western Suburbs, voor die volgende dag se wedstryde by Wanderers (teen Kudus) en by Unam (teen Reho Falcon).

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer