'Westner was 'n gefolterde gees'
Gholf
Christo Buchner
“Dit is 'n baie hartseer dag vir Suid-Afrikaanse gholf.”
Dit is hoe Dale Hayes die skoknuus van die eertydse Suid-Afrikaanse Ope kampioen, Wayne Westner, se selfmoord beskryf het.
Westner het homself blykbaar in 'n gyselaarsdrama aan die KwaZulu-Natalse Suidkus doodgeskiet.
Volgens die webwerf van die South Coast Herald het kapt. Vincent Pandarum, 'n polisiewoordvoerder, bevestig dat Westner Woensdagoggend weens 'n koeëlwond aan die regterkant van sy kop dood is.
Westner het na bewering sy vrou gyselaar gehou voordat hy selfmoord gepleeg het.
Die 55-jarige Westner het die Suid-Afrikaanse Ope in 1988 en 1991 gewen, albei by die Durban-buiteklub.
Hy het 14 beroepstitels gewen. Hy het ook op die Europese reeks geseëvier. In 1996 het hy saam met Ernie Els gholf se Wêreldbeker by Erinvale in Somerset-Wes gewen.
Hayes, self een van die voorste spelers wat Suid-Afrika al opgelewer het, het Westner as 'n fantastiese speler beskryf.
“Hy was 'n baie sterk speler en veral sy bofhoue was uitmuntend. Wayne was iemand wat nooit regtig besef het hoe goed hy was nie. Dit was een van sy groot probleme op die gholfbaan.
“Hy was 'n gekwelde gees ('tortured soul') wat nooit gelukkig in homself was nie. Dit was asof hy nooit vrede met homself kon maak nie en dit is ook hoekom hy ook nooit in sy gholfloopbaan die hoogtes bereik het wat hy moes nie,” sê Hayes.
“Hy sal gewis in die Suid-Afrikaanse Sportheldesaal opgeneem word, maar dit sal net jammer wees hy sal nie self daar wees om dit by te woon nie.
“Daar sal gewis aanstaande week 'n baie sombere atmosfeer by die Suid-Afrikaanse Ope op Glendower heers. Baie sal daar aan Wayne dink, veral aangesien hy sy stempel só op daardie toernooi afgedruk het,” het Hayes gesê.
Els, saam met wie Westner een van sy grootste oomblikke op die gholfbaan beleef het toe hulle die World Cup of Golf in 1996 gewen het, is juis aanstaande week die derde agtereenvolgende jaar die gasheer van die SA Ope.
Els het laat Woensdagmiddag getwiet: “Hartseer dag, ons vriend Wayne Westner het afgesterf. Wonderlike herinneringe, dankie my vriend.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie