• Tuisblad
  • Onderwys
  • Wetenskaplike samewerking tussen Nederland en Namibië vorder goed

Wetenskaplike samewerking tussen Nederland en Namibië vorder goed

Onafhanklikheidsdag en samewerking op wetenskaplike gebied is onlangs tydens ‘n besoek van amb. Kaire Mbuende aan Nederland gevier.
Estelle de Bruyn
“Ons is hier saam om die toekoms te vier en nie die verlede nie.”

Met hierdie woorde het Namibië se ambassadeur na die EU in Brussel en die Benelux-lande, dr. Kaire Mbuende, sy toespraak afgesluit by die dinee om Namibië se 28ste jaar van onafhanklikheid te herdenk.

Die dinee het by die fakulteitsklubhuis, Huize Heyendael, op die Radboud-universiteit se kampus in Nijmegen, in Nederland, plaasgevind.

Mbuende se verwysing na die toekoms is betekenisvol omdat die Radboud-universiteit tans in samewerking met die Universiteit van Namibië (Unam) aan ‘n uitdagende projek werk, naamlik om die eerste foto ooit van ‘n sogenaamde swart gat in die ruimte te kry.

Die 30 gaste by die onafhanklikheidsviering, wat afgevaardigdes van die Namibiese ambassade in Brussel ingesluit het, is ingelig oor die wetenskaplike projek waarvoor ‘n radioteleskoop op die Gamsberg opgerig is.

Gaste is gevra om insette te lewer wat fokus op die moontlikheid vir maatskaplike- en wetenskaplike beleggings en bykomende maniere om die navorsing te ondersteun.

Die hoofwetenskaplike, prof. Heino Falcke, het ‘n wetenskaplike oorsig oor die projek gegee en ook oor die geskiedkundige betrekkinge tussen Namibië en Nederland, die beleggingsklimaat in Namibië en die belangrikheid van wetenskaplike samewerking tussen die twee lande gepraat.

In sy toespraak het amb. Mbuende gewys op die betekenisvolle bydrae wat wetenskaplike samewerking tot die ontwikkeling van menslike kapitaal kan lewer, wat vir ekonomiese transformasie in Namibië nodig is.



“Die suksesvolle implementering van die projek sal Namibië vestig as ‘n sentrum vir groot wetenskaplike deurbrake. Dit sal ‘n positiewe impak op die onderwysstelsel in die land hê. Dit sal ook toeriste na die land lok,” het hy gesê.

Die visepresident van Radboud-universiteit, me. Wilma de Koning-Martens, het gesê die wetenskaplike samewerking is goed op dreef.

“Twee jaar gelede het Unam en die Radboud-universiteit ‘n memorandum van begrip onderteken. Dit is gevolg deur verskeie besoeke en uitruilings. Hierdie projek, wat na die sterre reik, is baie ambisieus en ons is nog nie daar nie, maar ons glo daarin."

Aan die einde van die verrigtinge het die Radboud-universiteit ‘n verjaardagkoek met die Namibiese vlag en 28 kerse daarop aan Mbuende oorhandig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!