Wetgewing oor wild moet verbeter
Wetgewing oor wild moet verbeter

Wetgewing oor wild moet verbeter

Die Regshulpsentrum het 'n tweedaagse slypskool gehou oor voorstelle om Namibië se wildlewewette te versterk.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Sedert 2012 is 240 renosters gestroop en 245 olifante is vanaf 2014 tot nou vir hul ivoor afgemaai, maar net 246 mense is sedert 2014 in verband met wildmisdaad in hegtenis geneem.

Die grootste sondaars in wildmisdaad vanaf 2014 is Namibiërs (180), gevolg deur Angolese (23), Zambiërs (19), Chinese (13), Batswana (6), Kongolese (3) asook een Zimbabwiër en een Tanzaniër. In 2017 is dusver altesaam 43 mense in verband met wildmisdaad in hegtenis geneem, van wie 28 Namibiërs, asook sewe Angolese en twee elk Zambiërs, Chinese, Batswana en Kongolese.

Dié statistieke is Donderdag in die hoofstad tydens die Regshulpsentrum (LAC) se tweedaagse slypskool oor voorstelle vir die versterking van Namibië se wildmisdaad verskaf.

"Ondanks die styging in wildstropery in die land, was daar geen aansienlike styging in die vervolging van hierdie misdade nie. In September 2016 is vier Chinese renosterhoringsmokkelaars tot 14 jaar tronkstraf gevonnis toe hulle 14 renosterhorings en een luiperdvel uit die land wou smokkel. Ongelukkig is hierdie vervolging 'n rare uitsondering," lui die LAC se verslag.

Daarom het die LAC in samewerking met die ministerie van die omgewing en toerisme in 2014 'n nasionale slypskool oor die toepassing van wildwette en die voorkoming van wildmisdaad gehou. Daartydens het die LAC aangebied om 'n studie te doen en alle wetgewing rakende wildmisdaad te doen. Die studie het in 2016 begin en is gratis met behulp van twee internasionale regsfirmas, DLA Piper van Brittanje en Robinson & Cole van Amerika, gedoen.

"Wildstropery het erge ekonomiese gevolge vir toerisme, trofeejag en die bewaring van ons spesies. Toeriste kom na Namibië om wild te sien. As ons nie ons wild beskerm nie en ons ná 20 jaar nie meer wild het nie, gaan dit 'n ernstige, negatiewe impak op ons ekonomie hê," het die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, gesê.

Hy het bevestig dat die natuurbewaringordonnansie oor wildmisdaad gewysig is en nou van krag is as die Wysigingswet op Natuurbewaring, Wet No. 3 van 2017, met strawwer vonnisse en baie hoër boetes.

"Ons is ernstig as ons sê ons wil nie meer enige renoster- of olifantstropery of die onwettige jag van enige ander wildspesie sien nie," het Shifeta gemaan.

Ingevolge die nuwe wet sal 'n stroper van spesiaal-beskermde wild soos olifante en renosters voortaan 'n boete van N$25 miljoen (voorheen N$200 000) opgelê word of 25 jaar agter tralies deurbring. Vir die jag van ander spesiaal-beskermde wild is die boete nou N$10 miljoen (voorheen N$20 000) of 10 jaar tronkstraf. Vorige oortreders van hierdie misdaad sal 'n boete van N$50 miljoen betaal of 40 jaar agter tralies bestee en 'n buitelander sal as ongewenste persoon verklaar word en nooit weer in die land toegelaat word nie. Stropers van beskermde wild se boete is N$500 000 (voorheen N$4 000) of vyf jaar tronkstraf.

Shieta het bevestig dat openbare konsultasies oor die wetsontwerp op beskermde gebiede en wildbestuur in al die streke gaan begin.

Die LAC se direkteur, me. Toni Hancox, het gesê die toenemende wildstropery dui aan dat 'n ernstige hersiening en hervorming van die land se bestaande wetlike raamwerk nodig is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer