WHS herwin o.19 Superliga-titel
Skolerugby
Andrew Poolman - Windhoek Hoërskool se vieringe van sy 100-jarige bestaan volgende jaar sal propvol selfvertroue begin ná die skool se herwinning van die Momentum o.19 Superliga rugbytitel.
Die oorwinning met 47-27 in die eindstryd teen Officeconomix Windhoek Afrikaanse Privaatskool beteken dat WHS vanjaar al die nasionale hoofligas in die drie groot spansporte rugby, netbal én hokkie (seuns én meisies) verower het.
In die laaste twee jaar het Ricoh Windhoek Gimnasium die rugbykampioenskap verower, maar dié keer het WHS die bordjies verhang onder afrigterskap van mnre. Henry Kemp, Jan Dames en Ben Calitz.
Die 27 punte wat Windhoek Affies aangeteken het, was die meeste wat enige opponent nog vanjaar teen die bloues behaal het, maar ondanks hul hardnekkigheid was dit deurgaans duidelik dat daar geen ander uitslag sou wees as dat die slot en kaptein Rainer Augustyn die wentrofee omhoog sou hou nie.
Samsung WHS se losskakel Delron Brandt het opnuut ’n blink vertoning gelewer om as speler van die wedstryd én die algehele topspeler van die eindstryde aangewys te word.
Die lenige nommer tien het ’n netjiese drie gedruk, terwyl hy ook met drie strafdoele en drie doelskoppe 19 punte in die wedstryd aangeteken het.
Linkervleuel Warren Ludwig en buitesenter Handre Klazinga het elkeen twee drieë gedruk deur hul geleenthede met groot vaart af te rond, terwyl flank JD Nel ook vroeg oor die doellyn is.
WAP se hardwerkende kaptein Stefan Hattingh, aangewys as die algehele beste voorspeler van die naweek, het met die heel laaste beweging sy tweede drie van die dag gaan druk, met die ander drie wat van skrumskakel Jay-C Olivier gekom het.
Losskakel Gerswin Mouton, ’n talentvolle agterspeler soos sy pa Deon wat in drie Wêreldbekers gespeel het, het ’n strafdoel en twee doelskoppe bygevoeg.
Olivier en Mouton het egter elkeen tien minute in die koelkas deurgebring, wat bygedra het dat hul span se kanse beduiwel is om dalk een van die grootste skokke van die moderne era van skolerugby te lewer.
Op die oog af het Mouton dalk ’n mate van rede gehad om ontevrede te voel oor sy geel kaart. Dit het gebeur nadat hy nie met ’n beslissing van skeidsregter Danie Koen saamgestem het nie – dat ’n WAP-speler wat in sy eie doelgebied neergetrek is, inderdaad die bal doodgedruk het voordat hy die bal na Mouton uitgegee het om verligting te bring.
O.19A-LIGA
Safland Windhoek Gimnasium se tweede span het sy finaal in die o.19A-liga met 42-16 teen WHS oorheers – vir diegene wat moontlik in die vooruitsigte van dié twee skole vir volgende jaar belang stel.
Losskakel Nico Horn is agterna as die algehele voorste agterspeler van die eindstryde aangewys. Hy het twee drieë, drie doelskoppe en ’n strafdoel bygedra. Sy spanmaats wat drieë gedruk het, was heelagter Ruben Lambrechts, skrumskakel Tertius Lambrechts, agtsteman Jacobus Opperman en die plaasvervanger-agterspeler Riduan van Neel wat twee keer oor die doellyn is.
WHS kon net met een drie deur buitesenter Isaiah Muhinda antwoord, terwyl losskakel Wilhelm Schultz verdoel en drie strafdoele deur die pale gejaag het.
• Ricoh Windhoek Gimnasium I se uitspeelwedstryd teen Supersand Elnatan vir die derde plek in die o.19 Superliga is enkele dae vooraf afgestel. Siekte in die geledere van die Stampriet-skool het verhinder dat hul eerste span die reis sou kon aanpak.
• Die ander uitslae van die naweek se eindstryde verskyn hiernaas.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie