WHS oordonder res vir toplouere

PSG WHS 1 se meisiespan het Saterdag die titel teen Windhoek Gimnasium teruggewen wat hulle laasjaar moes afstaan.
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Ses hokkieseuns van Windhoek Hoërskool is dié week saam met die Namibiese nasionale senior manspan in Suid-Afrika op toer, maar dit het nie die Coastal Hire WHS eerste span van hoofafrigter Johan Weyhe verhinder om die gesogte Doc Jubber-trofee die afgelope Saterdag triomfantelik omhoog te lig nie.

Die Jubber-kompetisie is ’n gesogte toernooi vir skole se eerste seunspanne, terwyl die meisies se ekwivalent die Kom-en-Haal-trofee is. Die gesogte byeenkoms waaraan sewe seuns- en vyf meisiespanne deelgeneem het, is afgelope naweek by WHS se astro-baan beslis.

Die kompetisie het Vrydag afgeskop en het Saterdagaand om seweuur klaargemaak met die hoofwedstryd tussen die seuns van Windhoek Gimnasium 1 en WHS 1.

Hoewel WHS se seuns reeds elk van sy vyf wedstryde teen die ander skole gewen het, het die sterk span van Gim vir hom in die laaste botsing gewag. Met ses van sy topspelers in Suid-Afrika, moes Weyhe van sy troepe uit die tweede span oproep om vir hul gesoute eweknieë in te staan.

WHS 1 het die dienste van Dakota Hansen (kaptein), Cody van der Merwe (onderkaptein), Nico Neethling, Owen Hattingh, David Britz en Fagan Hansen afgestaan. Dié groepie is deur die broers Peter en Brandon Lensen, Ian Lottering, Cobus Harmse, Krynauw Weber en Josh van der Merwe vervang.

Weyhe se span het met die onlangse interhoër tussen die twee skole met 8-1 ’n blink sege beklink, maar met ses van sy staatmakers in die buurland op toer, was hy nie seker wat op sy uitgedunde span sou wag nie.

“Ons het wel met die interhoër teen Gim met ’n vol sterkte span geseëvier, maar met ses van ons beste spelers uit was dit Saterdagaand ’n heel ander storie.

“Ek is geweldig trots op die seuns wat hulle gedurende die kompetisie uitstekend op die veld gedra het en met die oorwinning van 4-1 teen Gimnasium geëindig het. Gim het met sy volle eerste span op die veld gestap en ek kan sê ons spelers was eenvoudig die beste. Hulle het my opnuut verstom.

“Ander skole wat werklik hul hand opgesteek het, was Windhoek Afrikaanse Privaatskool vir wie ons met 1-0 oortref het en Walvisbaai Privaat Hoërskool vir wie ons met 4-0 geklop het. Dié spanne kan gerus in die toekoms dopgehou word, want iets is beslis by hulle aan die gebeur en hulle speel werklik goeie gestruktueerde hokkie,” het Weyhe aan Republikein vertel.

Die meisie en seuns het beide op ’n rondomtaliegrondslag gespeel, waar ’n span drie punte vir ’n oorwinning en ’n bonuspunt vir ’n sege van vier doele of meer kon verdien. Indien spanne uiteindelik gelykop met punte geëindig het, is die doelverskil in berekening gebring om hul stand op die puntelys te bepaal.

WHS se seuns wen sy ses kragmetings vir ’n totaal van 22 punte, wat vier bonuspunte insluit. Die ligbloues teken 29 doele aan terwyl net twee teen hulle behaal word.

WHS se meisies wen al vier hul botsings vir 13 punte, wat een bonuspunt insluit. In die proses teken hulle 12 doele aan terwyl hul teenstanders nie ’n doel kon behaal nie.

WHS se meisies: Carien van Rooyen, Jana Strydom, Juliette Fourie, Maryke Schickerling, Sonét Crous, Rachel Finch, Vanessa Schoeman, Danelle Steenkamp, Armin van Staden, Azaria Wallace, Tisha Semedo, Jade Schumacher, Jarien Hartzenberg, Anthea Coetzee, Mia Burger, Kyana Crous. Afrigter Marlene Jacobs en hulpafrigter Carin Slabbert.

WHS se seunspan: Henning Kruger, Morné Meyer, Matthew Mouton, Johann Serfontein, Nathan van Niekerk, Dylan Barnard, JP Britz, Gian Dresselhaus (kaptein), Matuu Kavikairiua, Delron Handura, Peter en Brandon Lensen, Ian Lottering, Cobus Harmse, Krynauw Weber en Josh van der Merwe.

Die WHS-seuns se uitslae: WHS 4-1 Windhoek Gim (tweede, 16 punte). WHS 1-0 Affies (derde, 9). WHS 4-0 WBPHS (vierde, 9, doelverskil -1). WHS 5-1 Pro Ed Akademie (vyfde, 4, doelverskil -7). WHS 9-0 St. Paul’s College (sesde, 4, doelverskil -13). WHS 6-0 St. George’s Diocesan School (sewende, 1).

Die WHS-meisies se uitslae: WHS 2-0 Windhoek Gim (tweede, 7). WHS 2-0 St. Paul’s (derde, 6). WHS 5-0 Affies (vierde, 4). WHS 2-0 Pro Ed (vyfde, 0).

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!