WHS skud vere reg vir fees
WHS skud vere reg vir fees

WHS skud vere reg vir fees

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Windhoek Hoërskool (WHS) vier vanjaar sy 100ste bestaans­jaar en volgende week gaan vrolik fees gevier word.

Oudskoliere gaan van heinde en verre na hul alma mater stroom om reünie te hou. Volgens 'n ­oudskoolhoof, mnr. Bertus Gous, is die oudste oudskolier wat die vieringe gaan bywoon me. Gesie Osborne, wat in 1941 by WHS ­matrikuleer het. Die oudste ­voormalige personeellid wat ­teenwoordig gaan wees, is me. Pottie Neethling, wat op 7 Julie vanjaar 97 jaar oud sal wees.

Gous sê meer as 1 200 oudskoliere word by die fees verwag en hulle kom van selfs so ver as Amerika, Engeland en Nieu-Seeland af.

Die propvol feesprogram skop Maandag om 18:00 af met 'n ­informele kuiergeleentheid vir oudskoliere van die jaar 2000 tot 2016.

Dinsdag word 'n drie-in-een-toneelstuk, geskryf deur Malan Kruger, om 18:30 in WHS se skoolsaal opgevoer. Een toneelstuk, Boel die meester, is 'n huldeblyk aan die legendariese voormalige oudhoof, mnr. Boel Dreyer. Kaartjies van N$80 vir volwassenes en N$40 vir skoliere is by die skool en die deure beskikbaar.

Woensdag om 10:00 word 'n begeleide toer deur WHS aangebied en oudskoliere kom by die hoofingang byeen. Om 18:00 is 'n informele kuiergeleentheid in die kleinsaal en tent vir oudskoliere van 1980 tot 1989 en 1990 tot 1999.

Donderdag om 10:00 is weer 'n begeleide toer deur die skool en om 18:00 is 'n informele kuiergeleentheid in die kleinsaal en tent vir oudskoliere van 1940 tot 1969 en vir oudskoliere van 1970 tot 1979 in die skoolsaal. Vrydag om 10:00 is 'n “brunch” vir hoofseuns en hoofmeisies in die kleinsaal. Die galadinee en dans vind om 18:30 in die Safari Hotel vir oudskoliere en voormalige personeellede plaas.

Saterdag om 10:00 is 'n informele kuiergeleentheid vir voormalige personeellede in Windhoek-Oos se kerksaal. Die interhoër tussen WHS en Windhoek ­Gimnasium vind van 11:00 af by die WHS-sportgronde plaas en oudskolierspanne gaan ook teen mekaar speel. Om 19:00 vind 'n musiekkonsert met Elvis se Seun (met oud-WHS'er Stefan Ludik) en Jay in die skoolsaal plaas. Kaartjies kos N$120. 'n Kuiertent met verversings is beskikbaar.

Sondag om 09:00 vind 'n dankdiens in die skoolsaal plaas.

Vir navrae, kontak Gous by [email protected].

Alle oudleerlinge en personeellede word hartlik uitgenooi om hul mooi herinneringe van 'n legendariese skool te deel en die mylpaal van 'n eeufees saam te vier.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer