Wie gaan Britte uit moeras lei?
Wie gaan Britte uit moeras lei?

Wie gaan Britte uit moeras lei?

Die sterkste kandidate om Theresa May op te volg, is almal geswore Brexiteers en sal waarskynlik hard probeer om die Brexit-projek deur te voer.
Pieter Malan – Die stryd om ’n nuwe leier vir die Britse Konserwatiewe Party – en die persoon wat outomaties ook die nuwe Britse premier gaan word – het gister in alle erns begin.

Dit volg nadat Theresa May – ná Margaret Thatcher slegs die tweede vrou om die land te lei – Vrydag aangekondig het sy gaan bedank. Tory-agterbankers het haar vroeër die oggend in kennis gestel die meerderheid van hulle sal ’n mosie van wantroue teen haar in die Laerhuis steun omdat hulle vertroue verloor het in haar vermoë om Brittanje se onttrekking aan die Europese Unie (EU), oftewel Brexit, na hul sin te onderhandel.

Die sterkste kandidate om haar op te volg is almal geswore Brexiteers en die verwagting is dat hulle almal hard sal probeer om die Brexit-projek deur te voer – eerder as om, soos sommige voorstel, ’n tweede referendum oor die kwessie te hou in die hoop dat die Britte dié keer anders sal besluit.

’n Vroeë voorloper in die wedloop is die charismatiese 54-jarige Boris Johnson, voormalige minister van buitelandse sake in May se kabinet. Johnson is ewe bekend vir sy morsige privaat lewe as sy kleurryke en eksentrieke taalgebruik (om van sy leuens aan die media nie eens te praat nie).

Hy was reeds twee keer getroud, het albei dié vrouens verskeie kere verneuk (een van sy minnaresse het selfs twee aborsies gehad) en woon tans saam met ’n meisie wat sy dogter kon wees.

Volgens ’n meningsopname wat die Daily Mail vroeër die week laat doen het, glo 83% van Tory-ondersteuners en 71% van Arbeiders sy mislukte huwelike maak hom glad nie ongeskik om premier te wees nie. Johnson se grootste struikelblok is egter dat hy nie ewe gewild is onder sy mede- Konserwatiewe parlementslede nie.

Johnson is een van die party se voorste Brexiteers. Luidens berigte het Johnson, tans ’n gewone agterbanker, Vrydag op ’n ekonomiese kongres in Switserland gesê Brittanje behoort die EU op 31 Oktober te verlaat “of daar ’n ooreenkoms is of nie”. Dié standpunt kan sy ambisies om partyleier te word skade doen omdat baie van sy kollegas nie kans sien om die EU te verlaat sonder ’n formele ooreenkoms nie.

Nog ’n gunsteling is Dominic Raab (45), ook ’n uitgesproke Brexiteer en ’n voormalige Brexit-minister wat net vyf maande in dié pos gehou het.

Die derde kandidaat is Michael Gove, tans die minister van omgewingsake, wat deur sommige beskryf word as die “paterfamilias” van die Brexiteers. Hy en Johnson was vroeër aan die heup vas, maar ná David Cameron se bedanking as partyleier in 2016 het hy Johnson ter elfder ure in die rug gesteek om liewer May se kandidatuur te steun om leier van die party te word.

Die man wat baie meen die beste kans staan om ’n verdeelde Tory-party te verenig, is die 52-jarige Jeremy Hunt, tans die minister van gesondheid. Hunt was vroeër ’n “Remainer”, maar is intussen “bekeer”. Hy het blykbaar, anders as van sy teenstanders, min vyande binne die party.

Daar word bespiegel dat tot soveel as 13 ander senior Tories moontlik kan aantree vir die leierswedloop. Partyreëls bepaal dat die party se 313 parlementslede in opeenvolgende rondes vir die kandidate stem. Ná elke ronde val die laaste persoon op die lys weg, totdat net twee kandidate oorbly. Die party se 124 000 ingeskrewe lede kry dan geleentheid om per pos ’n nuwe leier uit daardie twee kandidate te kies. Die proses behoort teen die einde van Julie afgehandel te wees.

May het aangedui dat sy tot dan as premier sal aanbly.

Die verwagting is dat May se opvolger deur presies dieselfde uitdagings in die gesig gestaar sal word as wat uiteindelik tot haar ondergang gelei het.

Aan die een kant: ’n Erg verdeelde Britse Laerhuis, met geswore “Brexiteers” en sterk oortuigde “Remainers” in albei die groot partye. En aan die ander kant ’n onbuigbare EU wat Vrydag reeds by monde van Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie, gesê het hul standpunt oor die onttrekkingsooreenkoms “en alles anders” sal nie verander nie.

Die Britse reaksie op haar bedanking was gemeng. Die meeste koerante se voorbladfoto het gewys hoe May aan die einde van haar bedankingstoespraak begin huil. “Broken by Brexit”, was The Guardian se hoofopskrif.

Die luidrugtige pro-Brexit Daily Mail was genadiger en het haar Brexit-planne beskryf as ’n “verbeeldingryke praktiese oplossing vir die Brexit-strik”.

“Maar danksy die ydelheid, die onversetlikheid en die stiksienigheid van LP’s in die Laerhuis kwyn ons steeds, drie jaar ná die referendum, in ’n moeras van Brexit-wanhoop – sonder selfs ’n rigtingwyser na die pad vorentoe.” Dit, sê die koerant, is alles die skuld van “verbitterde Tory-Remainers” en “hardkoppige Brexit-fanatici”. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!