• Tuisblad
  • Sport
  • Wie is Namibië se topbokser vir die afgelope 30 jaar?

Wie is Namibië se topbokser vir die afgelope 30 jaar?

Boks
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Netsor Tobias, voorsitter en stigter van die MTC Netsor Tobias Sunshine-boksakademie, het vandeesweek sy voorste tien vegters sedert onafhanklikwording gekies.

Tobias, ‘n gewese Springbokbokser, is sekerlik die mees gesoute breier en vegknoper in Namibië en het die afgelope jare ‘n hele paar wêreldkampioene asook Afrika-kampioene in sy stal gebrei.

Tobias was die afgelope paar jaar in binnegevegte met van sy boksers betrokke gewees, maar niemand kan hom van sy ywer en passie vir boks ontneem nie.

Tobias kon dalk vir ‘n oomblik gehuiwer het om sy eerste keuse vegter te kies, maar hy het sy keuse gemaak deur te kyk hoeveel titels ‘n bokser op sy getuigskrif het, gevolg deur die gehalte-teenstand en op welke wyse ‘n vegter sy gevegte gewen of verloor het.

Die aantal gevegte asook die tydperk waarin die bokser onoorwonne was, is ook in aanmerking geneem.

Tobias is van mening dat Harry Simon (The Terminator), Namibië se eerste wêreldkampioen van die Wêreldboksorganisasie (WBO), sonder twyfel sy eerste keuse is. Simon (nou 45) wat op 26 Januarie 1994 as 20-jarige sy debuut as geldvegter in Springs, Suid-Afrika gemaak het, het tot en met November 2018 ‘n unieke rekord opgebou.

Sy 31 gevegte (162 rondes) waarvan hy 23 (74 persent) met uitklophoue gewen het, is meestal buite Namibië beklink. Sy eerste 23 gevegte het in Suid-Afrika, Engeland, Ierland en Kanada asook Denemarke plaasgevind.

The Terminator het binne vier jaar van groentjie tot die superweltergewigwêreld-kampioen van die WBO gevorder toe hy op 22 Augustus 1998 Ronald Wright van die VSA in Suid-Afrika by Hammanskraal met punte geklop het. Hy het net 17 gevegte nodig gehad om die besonderse prestasie te behaal.

Simon het sy wêreldkroon suksesvol oor ‘n tydperk van twee jaar en ses maande in vier gevegte teen Kevin Lueshing, Enrique Areco, Rodney Jones en Wayne Alexander verdedig.

Hy het in 2001 na ‘n hoër gewigklas opgeskuif om in Julie daardie jaar in Puerto Rico as middelgewig teen Hacine Cherifi van Frankryk vir die WBO se tussentydse middelgewigwêreldtitel deur die toue te klim.

Die Terminator het die uitstappie teen Cherifi gemaklik met ‘n eenparige puntebeslissing beklink wat hom Namibië se eerste dubbele wêreldkampioen in twee gewigklasse gemaak het.

Simon het egter nie weer sy superweltergewigwêreldkroon verdedig nie.

Sy nuwe middelgewigwêreldgordel kon hy slegs een keer suksesvol op 6 April 2002 met ‘n eenparige puntebeslissing in Kopenhagen teen Armand Krajnc van Swede verdedig voordat die noodlot toegeslaan het.

Simon is in November 2002 ernstig in ‘n motorongeluk met Belgiese toeriste by Langstrand beseer en kon nie sy titel weer verdedig nie. Hy was vir omtrent vyf jaar onaktief voor hy op 3 Maart 2007 vir die eerste keer in Namibië in die bokskryt geklim het.

Simon wen as 39-jarige sy laaste titel op 28 September 2013 teen Geard Ajetovic van Servië in Windhoek. Hy het die Internasionale Boksfederasie (IBF) se vakante internasionale ligswaartitel met ‘n eenparige puntebeslissing opgeraap.

Simon verskyn in nog twee uitstappies in 2016 en 2018 teen minder ervare Tanzaniese opponente in Namibië, en wen beide gevegte. Hy en sy seun Harry jr. verskyn saam in die laaste toernooi om dit die eerste toernooi te maak waar beide pa en seun boks en hul gevegte wen.

Simon se eerste verskyning voor sy ondersteuners in Namibië was op 3 Maart 2007 in die Sam Nujoma-stadion in Katutura waar hy vir die eerste keer in vyf jaar weer deur die toue geklim het.

Alhoewel Stephen Nzuemba van Gaboen nie veel van ‘n bokser was nie, het die Terminator hom gemaklik met ‘n eenparige puntebeslissing verniel.

Tobias sê: “Ek het saam met Simon in die Suid-Afrikaanse Springbokspan geboks en was ook sy oefenmaat toe hy vir sy eerste wêreldtitel voorberei het. Vir my is Simon beslis die nommer een sedert Namibië se onafhanklikwording.”

Tobias se ander boksers is 2 Paulus Moses (The Hitman), 3 Paulus Ambunda (The Rock), 4 Julius Indongo (Blue Machine), 5 Walter Kautondokwa (The Executioner), 6 Jeremiah Nakathila (Low key), 7 Mike Shonena (Silent Assassin), 8 Sakaria Lukas (Desert Storm), 9 Bethuel Uushona (Tyson), 10 Nathanael Kakololo.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!