Wie is Namibiu00eb se volgende sterre?
Wie is Namibiu00eb se volgende sterre?

Wie is Namibië se volgende sterre?

Die land is sonder twyfel op die uitkyk vir vegters wat dieselfde hoogtes as in die era van Paulus Moses, Paulus Ambunda en Julius Indongo kan bereik.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Nestor Tobias, gesoute boks­promotor asook stigter en voorsitter van die MTC Nestor Sunshine-boksakademie, het vandeesweek sy toptien boksers uitgesonder as die beste vooruitsigte wat die Namibiese vlag in die toekoms op die internasionale arena kan laat wapper.

Harry Simon Junior, seun van die voormalige wêreldkampioen Harry Simon, is met reg Tobias se eerste keuse. Simon senior was Namibië se eerste wêreldkampioen en was onoorwonne in die beroepskryt, met 31 oorwinnings van 1994 tot November 2018.

Die appel het beslis nie ver van die boom geval nie. Met sy pa se gene en stamboom is Simon Junior vroeg al vir groter hoogtes in die bokskryt geoormerk. Vanuit die staanspoor het hy kenners met sy talent, handspoed, voetwerk en kalm benadering in die kryt beïndruk.

Vegters sukkel soms in hul eerste gevegte om die gaping na geldgevegte behoorlik te oorbrug. Maar in Harry se geval het hy soos 'n gesoute vegter in sy eerste geveg gelyk en het dit met 'n reeks oortuigende vertonings as liggewig en later superliggewig opgevolg. Sekere boksbeheerliggame verwys na dié gewigsklas (61.8 tot 63.6 kg) as ligweltergewig of junior weltergewig.

Harry (nou 22) wat sy professionele debuut as 19-jarige op 3 Mei 2017 gemaak het, spog met elf onoorwonne gevegte waarvan hy nege (82 persent) met uitklophoue beëindig het. Die lenige vegter slaan ná net agt uitstappies in die arena sy eerste Namibiese nasionale titel los toe hy op 20 April verlede jaar sy landgenoot Festus Matias in Windhoek met 'n uitklophou verslaan.

Tot dusver het Simon Junior nog nie buite die grense van Namibië baklei nie, maar hy was suksesvol teen Gerson Veata van Malawi, Meshack Kondwani (Zimbabwe) asook Phillip Musariri (Zimbabwe) en Limbani Chikapa (Malawi) in sy laaste twee gevegte.

Simon se ambisie word daarin weerspieël dat hy reeds as tienerjarige sy toetrede as geldbokser gemaak het. Sy vernuf, blitsige vuiste en uitklopvermoë maak hom 'n gevaarlike vegter om in die toekoms dop te hou.

Harry was bestem om binnekort in Suid-Afrika vir die Wêreldboksvereniging (WBA) se Afrika-gordel, asook die internasionale titel van die Internasionale Boksfederasie (IBF) se internasionale titel deur die toue te klim, totdat die coronavirus die buurlande se sportkalenders in die wiele gery het.

Indien die jeugdige Simon se talente slim bestuur en ontwikkel word, kan hy Namibië opnuut in komende jare op die wêreldverhoog plaas, meen Tobias.

Die res van die promotor se toptien (volgens hom nie in enige spesifieke volgorde nie) is:

2 Philippe Nghitumbwa (Energy) is 'n sterk superkapokgewig wat nie huiwer om sy teenstanders met mening te takel nie. Sy nege gevegte en agt oorwinnings was glo 'n fees vir die oog. Energy kan in die toekoms as superkapokgewig vir 'n kontinentale Afrika-titel boks, meen Tobias.

3 Paulinus Paulus (32, bynaam John John) is ná tien gevegte in die middelgewigklas steeds onoorwonne (8 uitklophoue).

“Hy is lank en lyk byna soos 'n junior swaargewig. Hy kan in binnegevegte sy man staan óf sy lengte inspan om sy opponent op 'n afstand met sy arsenaal van houe te peper. Ons verwag baie van hom, want hy is 'n gedissiplineerde atleet en is stadig maar seker besig om vir hom 'n naam te maak,” sê Tobias.

4 Charles Shi­nima (28) van Swakopmund, wat uit die stal van Mandongo-boksgimnasium veg, kompeteer in die junior middelgewigafdeling en is ná vyf gevegte onoorwonne. Hy was nie besonder suksesvol as amateur nie, maar sedert hy sy handskoene as beroepsbokser aangetrek het, het hy sy dissipline opgeknap. Hy het verlede jaar die vakante nasionale titel ingepalm deur Ebenestus Kaangundue te oorweldig.

5 Fillemon Nghitenanye, 'n junior kapokgewig en hotklou van Swakopmund (Metumbo-boksgimnasium), is ná vyf gevegte steeds baas in die kryt. Hy is 'n natuurlike bokser met goeie vernuf. Sy vermoë om tydens gevegte seepglad van hotklou na die ortodokse houding oor te skakel, maak hom 'n besonderse bokser. Dit is nog vroeg in sy loopbaan, maar sy selfvertroue in die kryt kan hom nog ver bring.

6 Martin Mukungu. “Die 20-jarige Mukungu (superkapokgewig) van die MTC Salute-boks­akademie het ses gevegte en ses oorwinnings agter die rug. Hy is nie 'n oorweldigende harde slaner nie, maar sy boks-intelligensie is fenomenaal en sy voetwerk onberispelik. Hy is 'n hotklou, maar kan ook regshandig sy man staan. Hy sal menige teenstander klop deur bloot slimmer te boks,” verduidelik Tobias.

7 Philip Shanika (5 gevegte, 5 oorwinnings) is 'n superkapokgewig met 'n gevaarlike opstopper. Sy krag in beide vuiste met 'n goeie mengsel van pikhoue maak hom 'n goeie vooruitsig. Hy het verbeter sedert sy amateurdae en kan beslis in die toekoms naam maak.

8 Michael Bernhard, van Kilimandjaro-boksklub in die noorde, het as die nasionale weltergewigtitelhouer deurgebreek, maar boks nou as 'n liggewig. Sy sewe onoorwonne gevegte het hy met vernuf en krag beklink. Sy vader Joseph het as ligvlieggewig by die 1996 Olimpiese Spele in Atlanta geboks.

9 Lazarus Shaningwa. Dié linkshandige junior liggewig het 'n goeie amateurrekord en was die nasionale kampioen. Hy het Namibië by die 2010 Statebondspele verteenwoordig en spog tans met ses onoorwonne gevegte as professionele bokser.

10 Flame Nangolo, 19-jarige lid van die AC-boksgimnasium, boks al vandat hy 12 is. “Sy beroepsrekord van drie onoorwonne gevegte is nie veel nie, maar as hy teen dié trant voortgaan, kan hy die wêreld verower. Hy is 'n intelligente en goeie bokser wat die spasie in die kryt oordeelkundig benut,” sê Tobias.

Volgens Tobias kan bokskykers gerus ook Paulus Amavila, Nathanael Heita, Abed Shikongo en Sam Mathews se loopbane dophou.

Uit die huidige amateurgeledere word sekerlik die hoogste verwagtinge van Junias Jonas gekoester. Dié superliggewig spog met 'n silwer- en goue medalje ná die 2014 en 2018 Statebondspeles en sal volgens alle aanduidinge ná volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio sonder 'n frokkie begin boks.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!