Wie onthou nog u2019n inry?
Wie onthou nog u2019n inry?

Wie onthou nog ’n inry?

Tanja Bause
Wie onthou nog die jare toe ’n toffie 1 sent gekos het en dubbeld so dik was as wat hy vandag is? Of toe jou ma vir jou R1 gegee het en jou Saterdag by die fliek afgelaai het? Jy het jou toegangskaartjie, ’n pakkie tjips én ’n koeldrank gekoop en nog geld oorgehad.

Ek is so spyt dat daar nie meer ’n inry bestaan nie. My niggies sal nooit die pret en wonder van ’n inry ken nie.

Onthou julle die kos wat Ma gemaak het? Hoenderboutjies en frikkadelle was altyd op die spyskaart. Die kombers is ingelaai saam met die piekniekmandjie en die opgewondenheid was tasbaar. As dit ’n goeie en gewilde fliek was, moes ’n mens ’n uur voor die tyd al begin ry. In die lang ry word gestaan en oor die fliek gepraat.

Uiteindelik by die ingang aangekom, word die toegang per voertuig bereken - maak nie saak hoeveel mense daarin is nie.

Dan begin die gesoek na ’n goeie staanplek. Nie te ver voor nie, want die toilette is agter. Ook nie te ver agter nie, want die restaurant se lig kan pla. Pa vind die geskikte plek en met ’n paar keer se heen en weer ry, is die voertuig geparkeer. Hy maak die venster oop en maak die luidspreker vas.

Nou kom die groot oomblik, want dié moet nou getoets word sodat ons kan hoor. Dikwels werk die luidspreker nie en moet ons weer inklim en ’n ander plek gaan soek. Alles begin van voor af, maar dié keer werk alles perfek.

Die kombers word voor die voertuig gegooi, want die kinders sit buite. Vinnig is maatjies gemaak en kos ondermekaar geruil.

Die fliek begin altyd met ’n swart-en-wit strokiesprent - gewoonlik Mickey Mouse. Dan word die volgende attraksies gewys en dan is dit pousetyd.

Die kinders hardloop na die restaurant om lekkers van hul sakgeld te koop en om in die speelparkie te speel. Die grootmense gaan toilet toe.

Uiteindelik begin die aftel op die silwerdoek van 10 tot 1 – en dan begin die fliek. Almal word rustig en geniet die vertoning.

In daai tye het elke fliek geëindig met die woorde “The End”, en dan het die gespartel begin. Vinnig word die vullis weggegooi, komberse opgepak en die luidspreker teruggesit. Daar was net een hek waaruit ’n mense kon ry en jy wou nie in die tou vasgevang wees nie.

Baie mense het in hul haas vergeet om die luidspreker terug te sit. Die klapgeluid van die luidspreker teen hul voertuig het hulle weggegee, met pa wat sê: “Daar is altyd iemand.”

Nou nog as ons saans ry en daar is ’n lang ry voertuie wat van voor af kom, sê hy: “Is die fliek dan al uit?”

Want as die fliek uit was en jy nie in die ry was wat van die fliek af dorp toe gery het nie, maar van voor af gekom het, het jy ’n lang ry ligte van voor gekry, want die fliek is uit.

Ek onthou toe ek my laaste jaar op skool my pa se bakkie vol skoolpelle gelaai het en ons fliek toe is. Teen R30 per volgelaaide voertuig was dit ’n winskoop.

Ek wens die jongmense van vandag kon net een keer inry toe gaan.

Ons het met ander kinders gesels en maatjies gemaak.

Ons het goeie gehalte tyd saam met ons families deurgebring.

Ons het met mekaar gesels en gekommunikeer.

Dit was die goeie ou dae . . .

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer