Wieu2019s jou oom?
Wieu2019s jou oom?

Wie’s jou oom?

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Dis ’n tameletjie vir Afrikaanssprekende jongmense – om te “oom” of nie.

Oukei, ter wille van die feministe voeg ek ook die volgende sin by: Dis net so ’n tameletjie om te weet of jy moet “tannie” sê of nie. Grappie.

’n Goeie ou reël is dat wanneer iemand 10 jaar of meer ouer as jy is, noem jy hom of haar oom of tannie. Ek is egter nie aldag seker of dié reël nog tel nie? Nie almal wil ge-“oom” of ge-“tannie” word nie.

Die eerste keer toe ek ge-“tannie” is, was soos ’n vuishou in die maag. Ek was ’n bloedjong 19 jaar oud, ’n eerstejaarstudent op Potchefstroom. Ek het die skaars voorreg gehad om Suid-Afrika toe te kan vlieg, waar ek andersins altyd saam met maats die 2 000 km van Grootfontein af Potchefstroom toe in beknopte studentekarretjies afgesit het.

Toe ons vlug in Johannesbrug land, kom ’n jong meisie wat saam vanuit Windhoek gevlieg het na my en vra my in watter ry sy met haar paspoort moet gaan staan.

Sy kon nie jonger as 15 gewees het nie. Ek wys haar en sy stap weg met ’n “dankie, tannie”.

Twee woorde. ’n Uitklophou. Ek herstel nou nog van dié emosionele skade.

Kom ek skilder die tannie-cliché vir jou: Sy bak melktert, sy is pragtig mollig en haar mahogony-gekleurde hare is saans in krullers. Sy spreek almal as “my kind” aan en haar boesem bied vertroosting as kindertjies hul tone en knieë nerfaf hardloop. Sy maak die allerheerlikste kos, hou skool vir laerskoolkinders en ry ’n 1984-familiemotor.

’n Tánnie! Ék? Ek bak nie eers melktert nie!

Toegegee, met my volgende verjaardag, sommer volgende maand, val ek netjies van die kalender af. Ek hoop jy weet wat dié uitdrukking beteken, want meer as dit gaan ek nie oor my ouderdom weggee nie. As ’n vrou kan ek jou egter dié tip gee: As jy wil punte wen, moet jy ons asseblief nóóit tannie nie.

Sê sommer “jy en jou” – dit laat ons jonk voel. Jy kan altyd later verskoning maak: “Haai nóóit, jy sê jy is hóé oud? Dis dié dat ek jou nie ‘tannie’ nie! Ek dog jy is 16! Sê my, bak jy al melktert?”

Terug by die onderwerp: ’n Goed opgevoede Afrikaanse kind “oom” en “tannie” grootmense. Só is ek en seker amper almal van ons grootgemaak. Ons moet dit dus nie as ’n belediging beskou nie, dit word as ’n vorm van respek bedoel.

Op universiteit gekom, sweer al wat dosent is jou die dood voor die oë as jy “oom” of “tannie” sê.

Hier is jy, pas uit die skool uit, en ’n volwassene verbied jou om hulle te “oom”. Hulle is nié met jou tannie getroud nie en hulle bak ook nie melktert nie.

“Wie’s jou oom? Ek is Piet Poggenpoel. Noem my Piet, asseblief!” snou hulle jou toe.

Dis ’n hengse aanpassing. Moontlik probeer hulle studente leer dat jy nie in die professionele wêreld mense moet “oom” en “tannie” nie. In praktyk wil dié reël egter nie vir my werk nie.

As landboujoernalis kry ek dikwels te doen met mense wat 50 jaar en ouer is. Volgens goeie Afrikaanse reëls moet ek dus almal “oom” en “tannie”. Dié is egter ook my professionele werkswêreld, wat sou kon beteken ek moet almal op hul naam noem. Watter reël tel dan nou?

Dit laat my met ’n volgende probleem: As plaaskind het ek in ’n landbougemeenskap grootgeword en mense was ooms en tannies. As ek dié mense nou raakloop, kan ek hulle mos nie sommer net begin Piet en Sannie nie?

Hulle bly oom en tannie – en die persoon langs hulle, wat hul ouderdomsmaat is en wat ek as joernalis leer ken het, noem ek op die naam. Dit kom neer op ’n verwarrende inkonsekwentheid.

Nou vra ek jou: Wie is jou oom?

Want ék is nie jou tannie nie!

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!