Wiese kry koper vir SA eiendomme
Wiese kry koper vir SA eiendomme

Wiese kry koper vir SA eiendomme

Tradehold het al vir ’n geruime tyd planne om van sy eiendomme in die buurland te verkoop.
Francois Williams – Die beleggingsmaatskappy Tradehold, waarvan die sakemagnaat Christo Wiese die voorsitter is en waarin hy ’n belang van sowat 15% het, gaan ’n nuwe eiendomsbeleggingstrust (reit) stig wat hy op die JSE gaan noteer.

Sy aandeelprys het Woensdag in reaksie op die nuus met 13% tot R11,50 gestyg.

Dit kom nadat ’n private eiendomsbelegger Tradehold genader het om R833 miljoen in Tradehold se Suid-Afrikaanse eiendomsbates te belê asook R200 miljoen in Tradehold self.

Om die transaksies moontlik te maak gaan Tradehold sy Suid-Afrikaanse filiale herorganiseer deur ’n Suid-Afrikaanse beheermaatskappy genaamd die Collins-groep te stig wat mettertyd as ’n reit op die JSE genoteer sal word, het Tradehold Woensdagmiddag op die JSE se Sens-nuusdiens aangekondig.

Die waarde van die eiendom in die Collins-groep was teen einde Desember 2018 sowat R8,5 miljard. Die meeste van die eiendom is nywerheidseiendomme. Die totale portefeulje is 98,7% verhuur en die geweegde gemiddelde huurtermyn is 7,2 jaar.

Tradehold se direksie meen die aanbod van die private eiendomsbelegger kom op ’n geleë tyd want dit gee die groep kans om die skuld in sy Suid-Afrikaanse portefeulje te verminder, wat kontantvloei sal verbeter. Die oorblywende skuld kan dan doeltreffender herstruktureer word, en die risiko van die hoë skuldhefboomverhouding word verlaag.

Die langtermynstrategie wat oorweeg word, mits die Collins-groep wel suksesvol op die JSE genoteer word, is om die belang in die Collins-groep dan te ontbondel sodat Tradehold ’n suiwer Britse eiendomsbeleggingsmaatskappy sal wees met ’n portefeulje kleinhandel- en kantooreiendomme, tesame met sy buigsame werkplek-platform wat hy in Brittanje bedryf.

Tradehold identifiseer nie wie die private eiendomsbelegger is nie. Die plan met die transaksie is dat die belegger R500 miljoen kontant in Tradehold se plaaslike eiendomme sal belê wat dan die Collins-groep genoem word, en die oorblywende R333 miljoen sal van die Collins-groep geleen word.

Die belegging in Tradehold self sal geskied deur die opsie om R200 miljoen in ’n kombinasie van nuwe Tradehold gewone aandele en Tradehold tesourie-aandele te belê. Die tesourie-aandele sal gekoop word van Tradehold se filiaal Imbali Props 21.

Tradehold mik om die Collins-groep teen Februarie 2022 op die JSE te noteer, mits marktoestande geskik is en alle nodige goedkeurings teen daardie tyd verkry is.

’n Noulettendheidstudie moet nog teen einde Maart gedoen word, en Tradehold se direksie en aandeelhouers moet nog die transaksie goedkeur.

Tradehold het al geruime tyd planne om van sy Suid-Afrikaanse eiendomme te verkoop. Die groep kry egter ook swaar in Brittanje waar Brexit, die groei in aanlynverkope en algemene bedrukte ekonomiese toestande in Brittanje druk plaas op die winsgewendheid van sy Britse eiendomsbates.

Tradehold het ’n omsigtigheidsverklaring aan aandeelhouers oor die beoogde transaksie uitgereik omdat onderhandelinge nog aan die gang is. Tradehold-aandeelhouers het boonop verlede week ’n aandeleterugkoop-aanbod goedgekeur. Die aanbod om hul aandele teen R11,33 aan Tradehold te verkoop het op Maandag 25 Februarie geopen en sluit op Vrydag 15 Maart. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer