Wiese plaas is Lanzerac?

Sedert die bom gebars het, hang vraag­tekens oor wie die eintlike eienaars van die Lanze­rac-wynlandgoed is.
Nellie Brand-Jonker



'n Eiendom van Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, op Hermanus is in die mark. Inwoners van dié dorp het voorheen hewig kapsie gemaak teen 'n gastehuis met die naam Lan­zerac Beach Manor House wat hy glo daar wou open.

Stefan Potgieter, Jooste se skoonseun, het die plan vir die hersonering van die erf laat opstel.



Buitelandse beleggers

Hoe Jooste by Lanzerac betrokke is, is 'n raaisel omdat Christo Wiese, 'n groot aandeelhouer in Steinhoff, in 2012 aan Die Burger en Fin24 gesê het hy het die wynlandgoed aan 'n “buitelandse koper vir 'n onbekende bedrag verkoop”.

Wiese het verlede week in die parlement op 'n gesamentlike sitting van drie staande komitees oor die gebeure by Steinhoff, spesifiek na Lanzerac verwys toe hy verduidelik het hoe hy 'n aandeelhouer van Steinhoff geword het.

“In 2011 het ek 'n eiendom in Stellenbosch, Lanzerac, verkoop en 'n aandele­blok wat ek toe in PSG gehou het, aan die Steinhoff-groep verkoop en so 'n aandeelhouer (van Steinhoff) geword . . .” het Wiese gesê.

Hy het by navraag verduidelik dat hy nie bedoel het hy het die plaas aan Steinhoff verkoop nie.

Hy het die plaas en sy PSG-aandele vir Steinhoff-­aandele verruil.



Steinhoff-aandele

Volgens hom het hy die landgoed, wat hy twee dekades lank besit het, aan die maatskappy Morpheus verkoop. Morpheus het sy aandele in Steinhoff gebruik om vir die landgoed te betaal.

Steinhoff se aandele was in Maart daardie jaar sowat R27,40 per aandeel werd. Dit het toe die bom oor boekhou-onreëlmatighede in Desember gebars het, met byna 90% getuimel en staan tans op net meer as R6.

“Ek het daardie tyd afgelei dat van die mense wat in die konsortium is, oorsese mense is,” sê Wiese.

Hy weet nie of Jooste 'n belang in Morpheus gehad het nie. Jooste was glo wel deel van die groep wat die onderhandelinge oor die verkoop met Wiese gevoer het.



Lanzerac swyg

Die bekende wynskrywer Neil Pendock het vier jaar gelede in 'n rubriek geskryf Jooste is die eienaar van Lanzerac.

Danie van der Merwe, jarelange direkteur van Steinhoff en tans waarnemende uitvoerende hoof, wou nie 'n vraag oor Lanzerac beantwoord nie.

'n Steinhoff-woordvoerder sê: “Steinhoff besit nie Lanzerac nie en ons het nie insae in die eienaarstruktuur van Lanzerac nie.”

Steinhoff Properties het Lanzerac wel bestuur van Julie 2012 tot Maart 2013.

Lanzerac self het ook geen vrae oor wie hom besit, beantwoord nie.

Jo-Anna Looms, bemarkingbestuurder van Lanzerac, het gesê dit is “vertroulike inligting”.



Koopsom

Die akteskantoor toon die Lanzerac-wynlandgoed is in 2012 vir R131,9 miljoen verkoop en word deur Lanzerac Estate Investments besit. Tot in Julie 2012 was dié maatskappy bekend as Morpheus Property Investments.

Potgieter, Jooste se skoonseun, is sedert Maart 2013 'n direkteur van Lanzerac Estate Investments.

Potgieter is ook 'n direkteur van Mayfair Speculators, 'n beleggingsvoertuig waarin 'n groot deel van Jooste se welvaart gehou is.

Lanzerac Estate Investments het dieselfde adres as Mayfair.

Lanzerac wou Netwerk24 nie met die ander twee gelyste direkteure van Lanzerac Estate Investments in verbinding bring nie, naamlik Malcolm William King (73) en Paula Louise King (46).

King is 'n Britse sakeman. Netwerk24 het onlangs berig King is 'n vriend van Jooste.



Twyfel

Iemand wat Jooste baie goed ken, maar nie aangehaal wou word nie, sê daar is aan hom gesê Malcolm King besit Lanzerac.

“(Maar) ek het altyd daaroor getwyfel. Hulle het al die besluite daar geneem asof hulle dit besit,” sê die bron oor Jooste-hulle.

'n Bron in die wynbedryf sê almal weet dis 'n “Steinhoff-Jooste-affêre”. Van Jooste se familielede was na verneem word by die bestuur betrokke. Jooste kan steeds nie vir kommentaar opgespoor word nie.

Potgieter het nie op vrae gereageer wat per e-pos aan hom gestuur is nie.



Hermanus

Die vraag oor Lanzerac se werklike eie­naars het verdiep toe berig is Jooste het 'n eiendom in Voëlklip in Hermanus in die mark vir R22 miljoen.

Drie bronne het bevestig die eiendom behoort aan Jooste.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Manchester City 2 vs 2 Arsenal | Brighton 2 vs 2 Nottingham Forest LaLiga: Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid | Real Betis 1 vs 2 Mallorca | Rayo Vallecano 1 vs 1 Atletico Madrid | Villarreal 1 vs 5 Barcelona | Athletic Club 3 vs 1 Celta Vigo | Getafe 1 vs 1 Leganés SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como | Inter Milan 1 vs 2 AC Milan | AS Roma 3 vs 0 Udinese | Monza 1 vs 2 Bologna | Fiorentina 2 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers English Championship: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers #N/A Currency: GBP to NAD 22.87 | EUR to NAD 19.17 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.16 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.34 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 131.64 | USD to AOA 933.05 | USD to BWP 13.12 | USD to EGP 48.49 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1596.98 | USD to ZAR 17.16 | USD to ZMW 26.3 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1845.32 Up +0.73% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14193.3 Down -0.53% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 30871.1 Down -0.49% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9651.25 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 660.15/OZ UP +0.07% | Copper US$ 4.46/lb DOWN -0.009 | Zinc US$ 3 012.80/T DOWN -0.12% | Brent Crude Oil US$ 73.99/BBP DOWN -0.0163 | Platinum US$ 989.11/OZ UP +0.08% #N/A