• Tuisblad
  • Sake
  • Wiese se Invicta kry slae oor ekstra belasting
Wiese se Invicta kry slae oor ekstra belasting
Wiese se Invicta kry slae oor ekstra belasting

Wiese se Invicta kry slae oor ekstra belasting

Francois Williams - Beleggers was gister nie gelukkig met die slegte nuus van die ­nywerheidsgroep Invicta se jongste resultate nie.

Die sakemagnaat Christo Wiese besit net meer as 37% van Invicta.

In nog 'n slag vir Wiese ná die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys het Invicta se wesensverdienste per aandeel vir die boekjaar tot einde Maart met 81% tot 90c geval nadat hy 'n ekstra R400 miljoen se spesifieke belastingvoorsiening ingereken het vir 'n bemagtigingskema wat hy al jare gelede in werking gestel het.

Invicta se aandeelprys was gister­oggend net na 11:00 7,62% laer op R37. Dit het reeds Vrydagaand 1,8% laer op R40,05 gesluit. Dit was voordat Invicta ná die marksluiting reeds 'n winswaarskuwing uitgereik het.

Maar selfs sonder die ekstra belastingvoorsiening is Invicta se wesensverdienste per aandeel 23% laer op R4,46.

Sy wins toeskryfbaar aan aandeelhouers is 23% laer op R526 miljoen en sy omset was in die tydperk bykans onveranderd op R9,6 miljard.

Invicta, waarvan Wiese die nie-­uitvoerende voorsitter is, lewer ­onderdele, komponente en toerusting vir landbou- en konstruksie­masjinerie, onderdele vir motorvoertuie, asook toerusting vir die mynboubedryf.

Arnold Goldstone, uitvoerende hoof van Invicta, sê sy bruto wins het weens die neerdrukkende toestande in die mynbou-, landbou-, vervaardiging- en konstruksiesektore met 23,1% tot byna R3 miljard gedaal.

Die jongste syfers wys mynbou­produksie daal steeds, met ­produksie in April en Maart wat onderskeidelik 4,3% en 8,5% laer as 'n jaar gelede was. Ook die konstruksiebedryf sukkel, met die konstruksiemaatskappy Basil Read wat verlede week om sake­redding aansoek gedoen het.

Goldstone verduidelik die vorige boekjaar het 'n buitengewone 34%-styging in bedryfswins getoon wat nie in die afgelope jaar herhaal kon word nie.

Oor die belastingimplikasies van Invicta se bemagtigingstransaksies van 'n paar jaar gelede waarna die onafhanklike ouditeurs in 2017 se jaarstate verwys het, sê Goldstone die direksie dink op grond van regs­advies die transaksies het wel aan die belastingvereistes voldoen.

Hy gee toe die volgehoue onsekerheid daaroor belemmer die groep om uitbreiding te finansier, en gevolglik is besluit om 'n ekstra R400 miljoen vir belasting te voorsien.

Invicta het 'n slotdividend van 50c per aandeel verklaar, teenoor die vorige jaar se 95c.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer