• Tuisblad
  • Sake
  • Wiese se nuwe winkelreus einde September genoteer
Wiese se nuwe winkelreus einde September genoteer
Wiese se nuwe winkelreus einde September genoteer

Wiese se nuwe winkelreus einde September genoteer

Gegewe die grootte van die nuwe maatskappy gaan sy markwaarde hom na verwagting dadelik in die JSE se top-40 insluit.
Nellie Brand-Jonker - Die nuwe winkelreus wat Pep en Ackermans gaan besit, het gister sy voorneme om te noteer aangekondig.

Die maatskappy wat uiteindelik ook vir Shoprite gaan beheer, heet Steinhoff Africa Retail (Star) Beperk.

Die maatskappye wat deur Star gehou gaan word is Pepkor, Steinbuild, JD-groep en Tekkie Town.

Star is ’n volfiliaal van Steinhoff wat sy hoofnotering in Duitsland het.

Star sê in ’n verklaring die notering sal onderhewig wees aan marktoestande en goedkeuring deur die JSE.

Na verwagting sal die notering voor einde September plaasvind.

Star het altesaam 4 800 winkels in sy stal.

Die maatskappy is op 1 Julie gestig ná ’n interne herstrukturering deur Steinhoff van sy kleinhandelbelange wat in Afrika bedrywig is.

Beherende aandeelhouer

Steinhoff gaan steeds die beherende aandeelhouer van die maatskappy wees.

Christo Wiese, voorsitter van Steinhoff en Shoprite, is die grootste aandeelhouer in beide die maatskappye.

Die maatskappy het ook aangekondig hy gaan saam met sy notering ’n aanbod aan sekere beleggers maak in ’n private plasing om van sy aandele te bekom. Die aandele gaan nie aan die publiek aangebied word nie.

Steinhoff het op 4 Augustus aangekondig Star het koopopsies van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), Lancaster Group en Titan Premier Investments verkry.

Wiese se familietrust beheer Titan.

Nadat die koopopsies uitgeoefen is, gaan Star sowat 22,7% van Shoprite hou plus 50% van die stemregte in die maatskappy.

Die uitoefening van die koopopsies gaan nie vereis dat Star ’n aanbod aan die ander aandeelhouers van Shoprite hoef te maak ingevolge die oornameregulasies van die maatskappywet nie.

Gegewe die grootte van die nuwe maatskappy gaan sy markwaarde hom na verwagting dadelik in die JSE se top-40 insluit.

Aandeelhouers gepaai

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van Shoprite, het aandeelhouers van die maatskappy Dinsdag by ’n resultaataanbieding gepaai. Hul grootste kommer is dat Shoprite nie so goed gaan doen soos altyd nie omdat Steinhoff by die bestuur gaan inmeng.

“Die antwoord is nee, ons is gewoond daaraan om ’n beherende aandeelhouer (Wiese) te hê. Daardie beherende aandeelhouer is nog steeds daar; hy het net van entiteit verander,” sê Engelbrecht.

Hy sê Shoprite gaan steeds sy strategiese fokus behou en outonoom funksioneer.

Star het in die jaar tot einde September verlede jaar ’n totale inkomste van R51,2 miljard gehad.

Sy bedryfswins uitgesluit rente, belasting, finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) het R4,3 miljard beloop.

Star het in die oorsigtyd twee groot verkrygings gedoen, begin om sy handelsname te konsolideer en die meubelbedrywighede te herstruktureer.

Hierdie verkrygings, konsolidasie en herstrukturering gaan ’n positiewe uitwerking op Star se toekomstige vertoning hê.

As die resultate aangepas word vir die verkrygings wat gedoen is en die genoemde konsolidasie en herstrukturering, sal sy ebitda R5,7 miljard beloop het.

Die maatskappy verwag sy ebitda sal ná die aanpassings vanjaar vir die jaar tot einde September R7 miljard beloop – wat ’n styging van 21% is. – Netwerk24

Kassie:

Wie is in Star se stal?

Pep, Ackermans, Dunns, John Craig, Refinery, Shoe City, JD-groep se Russels, Bradlows, Rochester, Sleepmaster, Incredible Connection en Hi-Fi Corporation, Steinbuild se Buco, Timbercity, Hardware Warehouse en The Tile House, Poco South Africa en Tekkie Town.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!