• Tuisblad
  • Sake
  • Wiese ‘stort’ nie sy Steinhoff-aandele; banke vat dit
Wiese u2018stortu2019 nie sy Steinhoff-aandele; banke vat dit
Wiese u2018stortu2019 nie sy Steinhoff-aandele; banke vat dit

Wiese ‘stort’ nie sy Steinhoff-aandele; banke vat dit

Christo Wiese se belang het van 24,9% einde Desember tot 5,6% einde Januarie gedaal.
Nellie Brand-Jonker - Die reuseval in Christo Wiese se belang in die Steinhoff-groep – van ’n kwart van die maatskappy tot net meer as 5% – het gedwonge plaasgevind. Wiese, voorheen die voorsitter van die internasionale meubelgroep, was sedert 2015 die grootste aandeelhouer in Steinhoff nadat Steinhoff Pepkor by hom gekoop het. Hy het einde Januarie op ’n gesamentlike sitting van drie portefeuljekomitees in die parlement gesê hy is nie meer Steinhoff se grootste aandeelhouer nie. Die werklike omvang van hoe sy belang gekrimp het, was egter tot dusver onbekend omdat hy van middel Desember af nie meer ’n direkteur van Steinhoff is nie en die verkope van sy aandele nie openbaar gemaak hoef te word nie. Die jongste inligting oor Steinhoff se grootste aandeelhouers toon nou sy belang het van 24,9% einde Desember tot 5,6% einde Januarie gedaal.

Gedwonge verkoop

Hy het in die parlement gesê hoewel hy nie meer die grootste aandeelhouer is nie, het hy nog “nooit ’n enkele Steinhoff-aandeel vrywillig verkoop nie”. Ingevolge sy leningsooreenkoms met banke van wie hy vroeër geld geleen het om nóg Steinhoff-aandele te koop, is die aandele aan dié banke vervreem toe Steinhoff se aandeelprys tot onder ’n sekere vlak geval het. Steinhoff se aandeelprys het in Desember binne ’n week met amper 90% getuimel nadat die maatskappy aangekondig het sy uitvoerende hoof, Markus Jooste, het met onmiddellike ingang bedank. ’n Forensiese ondersoek na boekhou-ongerymdhede is begin. Net voor Wiese se bedanking as voorsitter in Desember, het Steinhoff in ’n verklaring genoem dat byna 100 miljoen van Wiese se aandele verkoop is in wat as “ ’n onwillekeurige verkoop van aandele deur finansiers” beskryf is.

Stempoel

Dit het ook daartoe gelei dat die stempoel waardeur beheer oor Steinhoff uitgeoefen is, op 15 Desember outomaties verval het. Luidens die verklaring is die stempoelooreenkoms beëindig omdat “verskeie banke wat finansiering verskaf het aan ’n entiteit wat deur Wiese beheer word, hul regte oor 98,4 miljoen aandele van die maatskappy uitgeoefen het en die aandele verkoop het”. Die partye van die stempoel het ’n ooreenkoms gehad om “gesamentlik wesenlike beheer” oor die maatskappy uit te oefen. Die stempoelooreenkoms het verval omdat die gesamentlike belang van die partye tot onder 30% geval het nadat die aandele verkoop is. Die stempoelooreenkoms het gegeld sedert Wiese in 2015 sy meerderheidsbelang in Pepkor aan Steinhoff verkoop het in ruil vir aandele in die meubelgroep. Hy was die grootste aandeelhouer in die stempoel.

Maandag is elders berig dié daling in Wiese se belang toon ’n gebrek aan vertroue in die maatskappy en dat hy sy aandele in die mark “gestort” het.

Dis egter nie die geval nie omdat die aandele nie vrywillig verkoop is nie.

Hy het in die parlement gesê hy kan nie oor die vooruitsigte van Steinhoff kommentaar lewer nie omdat die maatskappy in ’n geslote periode is en hy as ’n persoon met binnekennis beskou word, maar dat hy nie sy oorblywende belang in Steinhoff gaan verkoop nie.

Konsortium

Dit is onbekend of al die banke wat aandeelhouers geword het, hul aandele verkoop het. Dit sluit internasionale banke soos JP Morgan Chase en Goldman Sachs in. Dr. Daniel Matjila, uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), het aan Business Report gesê dit sal baie strategies wees as die belang aan ’n “konsortium van Suid-Afrikaanse beleggers verkoop kan word om beheer in Suid-Afrikaners se hande te hou”.

Matjila het nie op navrae gereageer of die OBK deel van so ’n konsortium sou wees nie. Die OBK is sover bekend nou die grootste aandeelhouer, met 8,7%.

Steinhoff het egter in Januarie in die parlement gesê 33% van sy aandele word oorsee gehou. Die maatskappy het nie insae in wie daar die grootste aandeelhouer is nie. Dis dus onbekend of daar groter aandeelhouers as die OBK is.

Upington

Wiese se banklenings is deur Upington Investments Holdings gekry om nog aandele in Steinhoff te koop, soos in 2016 aangekondig is.

Wiese het in daardie jaar nog 314 miljoen aandele gekry in ’n kapitaalinsameling wat deur Steinhoff gehou is. Steinhoff het die sowat R35 miljard wat ingesamel is, gebruik vir die verkryging van die Amerikaanse maatskappy Mattress Firm. Wiese het voorheen gesê hy het die kapitaalinsameling met R25 miljard onderskryf “om Steinhoff by te staan om sy balansstaat integriteit te gee met die verkryging van Mattress Firm van Amerika”. Na wat verneem word besit Wiese 89% van Upington deur sy maatskappy Titan; terwyl 11%deur Jooste en die bestuur van Steinhoff gehou word. In hofaansoeke wat Absa en Investec in Desember teen Jooste se maatskappy Mayfair Speculators ingedien is, blyk dit Jooste het ook lenings by banke gekry waarvoor sy Steinhoff-aandele as waarborg aangebied is.

Saam met lenings van Sanlam het Jooste middel Desember lenings ter waarde van sowat R1,2 miljard gehad. Sanlam Investment Management het11,9 miljoen aandele ryker geword die afgelope maand, toon die aandeelregister. Dit hou waarskynlik verband met die aandele wat Mayfair Speculators as waarborg vir lenings aangebied het. Volgens hofdokumente kom dié getal aandele naastenby ooreen. Die jongste inligting oor aandeelhouers toonBank of America het onder die vier grootste aandeelhouers ingeskuif, met 3,9% of 171,6 miljoen aandele.

Bank of America is een van die banke wat ’n lening aan ’n party gegee het wat Steinhoff-aandele as kollateraal gebruik het. Bloomberg het Vrydag berig Bank of America is besig met ’n interne ondersoek na dié lening.

In die parlement

Wiese het in die parlement gesê sy belegging in Steinhoff het voor die gebeure in Desember sowat R55 miljard beloop. Dit het ingesluit die aanvanklike belegging met die Pepkor-transaksie en die Steinhoff-kapitaalinsameling vir die verkryging van Mattress Firm.

Die jongste inligting oor Steinhoff se aandeelhouers toon Wiese se aandeelhouding het van einde Desember af soos gekrimp:

· Einde November het hy meer as 1,2 miljard aandele of 30% gehou.

· Einde Desember het hy meer as 1,07 miljard aandele of 24,9% gehou.

· Einde Januarie het sy belang 243,1 miljoen aandele of 5,6% beloop. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Manchester City 2 vs 2 Arsenal | Brighton 2 vs 2 Nottingham Forest LaLiga: Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid | Real Betis 1 vs 2 Mallorca | Rayo Vallecano 1 vs 1 Atletico Madrid | Villarreal 1 vs 5 Barcelona | Athletic Club 3 vs 1 Celta Vigo | Getafe 1 vs 1 Leganés SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como | Inter Milan 1 vs 2 AC Milan | AS Roma 3 vs 0 Udinese | Monza 1 vs 2 Bologna | Fiorentina 2 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers English Championship: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers #N/A Currency: GBP to NAD 22.87 | EUR to NAD 19.17 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.16 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.34 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 131.64 | USD to AOA 933.05 | USD to BWP 13.12 | USD to EGP 48.49 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1596.98 | USD to ZAR 17.16 | USD to ZMW 26.3 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1845.32 Up +0.73% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14193.3 Down -0.53% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 30871.1 Down -0.49% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9651.25 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 660.15/OZ UP +0.07% | Copper US$ 4.46/lb DOWN -0.009 | Zinc US$ 3 012.80/T DOWN -0.12% | Brent Crude Oil US$ 73.99/BBP DOWN -0.0163 | Platinum US$ 989.11/OZ UP +0.08% #N/A