Wilckense skou met meneer-osse
Raap 1ste, 2de plek op
Ronelle Rademeyer - As daar ’n boer is wat die kuns verstaan om die regte slagosse uit te kies en vir die slagoskompetisie voor te berei, is dit Siggi Wilckens van die plaas Omateva by Omitara.
Met die uitsondering van verlede jaar, skryf hy al vir die grootste deel van die afgelope dekade of langer jaarliks slagosse vir beoordeling by die Windhoek Skou in.
Hy hou nie tred met hoeveel keer hy al die slagoskompetisie gewen het nie, maar meen dit kon “vyf of wat keer” gewees het.
“Ek kan wraggies nie onthou nie. Dalk so vyf of wat keer. Dit gaan in elk geval nie vir my daaroor om te wen nie. Die deelname is wat saak maak,” sê Siggi.
Vanjaar was geen uitsondering nie en twee van Omateva se Limousin X Brahmaan-osse is as die kampioen en reserwekampioen aangewys.
Dié keer is dit egter sy seun, Gunnar (33), wat die lof verdien, sê Siggi. Hy boer die afgelope twee jaar saam met sy pa op Omateva.
“Een of ander tyd moet ’n mens afskaal en aan jou kinders oorgee.” Siggi mag dalk sy betrokkenheid by die boerdery afskaal, maar sy kennis dra hy steeds oor.
Hy is immers al van 1974 af voltyds op die plaas.
Vra ’n mens Siggi oor sy “wenresep” vir slagosse, sê hy die keuring vind al plaas wanneer kalwers op speenouderdom afgehok word.
“Ek maak dan al ’n nota op grond van die genetiese eienskappe wat ek waarneem. Ek kyk na kalwers waarvan die ma’s melk gehad het en vir hulle ’n goeie voorsprong en die optimale geleentheid tot groei gebied het.”
So vier maande voor die skou gaan hy deur sy notas en kies dan die slagosse uit wat hy wil voorberei.
“Ek glo aan ’n stadige voerproses sodat die vet in die spiere vir goeie marmering geberg kan word.”
Hoewel die slagosse bedags op kraal staan, word hulle saans uitgelaat om te beweeg. Verder hou hy deurgaans by een soort voer, naamlik Voermeester se Rangeland-produk. Hy gee ook vir die osse brouersgis wat hy by Namibia Breweries kry.
Siggi sê dit is ook belangrik dat die diere waarmee ’n produsent of teler skou toe gaan, ’n goeie temperament moet hê. “Ons werk elke dag met die slagosse. Aanvanklik word hulle in die manga gekeer waar hulle haarkleed geborsel word. Daarna begin ons in die kraal met hulle werk en as hulle daaraan gewoond is, begin ons hulle rondlei en gewoond maak om tussen mense te wees sodat hulle by die skou en in die ring tydens beoordeling maklik hanteer kan word.”
Bouvorm
Tydens beoordeling op die hoef speel bouvorm ’n uiters belangrike rol, met 5 as die optimale bouvorm.
“Die rugspierontwikkeling en die boude se binne- en buitebespiering is belangrik. Dit is hier waar die vleis is wat die slagter soek. Verder moet die been-vleis-verhouding sodanig wees dat die grootste moontlike hoeveelheid vleis uit die karkas bekom kan word, want daaruit maak die slagter sy geld.
“Oorsee betaal slagters ’n premie vir sulke karkasse, want hy wil in verhouding tot die bene die grootste moontlike hoeveelheid vleis verwerk,” vertel Siggi. Dit is ook hierdie verhouding wat uiteindelik die uitslagpersentasie bepaal. “Ek het al beeste aan Meatco gelewer wat in kilogram gewig baie min verskil, dalk 3 tot 5 kg, maar dan kry ek vir die een karkas omtrent N$500 meer omdat die uitslagpersentasie baie hoër is. Dus; hoe hoër die uitslagpersentasie, hoe beter die wins.” Siggi sê wanneer sy diere 50% tot 53% uitslag, is hy al tevrede.
Hy neem egter die slagosse waarmee Gunnar die 1ste en 2de plek verwerf het, kan 60% of meer uitslag.
’n Ander eienskap waarna beoordelaars kyk, is die dier se oogspierontwikkeling aangesien dit ’n aanduiding is van die grootte van die T-beensnitte wat die karkas gaan oplewer.
Gunnar se kampioenos het byvoorbeeld die hoogste punt moontlik hiervoor gekry. Ongewisselde osse kry ook ’n hoër punt as osse wat reeds gewissel het, vertel hy.
“Persoonlik dink ek die slagos wat tweede gekom het, het ’n beter bouvorm as die wenner. Maar die wenner is ’n ongewisselde os, wat enkele punte meer tel.”
Hoewel Gunnar Windhoek Skou se slagoswenner is, ding hy teen die wenner van die ander skoue mee. Die nasionale wenner van die slagoskompetisie word eers vanmiddag tydens die beesparade aangekondig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie