Wildbedryf al hoe belangriker vir Namibiu00eb
Wildbedryf al hoe belangriker vir Namibiu00eb

Wildbedryf al hoe belangriker vir Namibië

Klimaatsverandering beteken die land sal al swaarder op dié sektor steun.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die ekonomiese bydrae van die wildbedryf het dié van die lewende hawe verbygesteek.

Terselfdertyd word die wildbedryf as noodsaaklik vir Namibië se aanpassing by klimaatsverandering beskou.

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het Dinsdag tydens die 46ste jaarvergadering van die Namibië Professionele Jagvereniging (Napha) wat in Windhoek gehou is, gesê Namibië se bewaringsmodel het daartoe bygedra dat olifant-, leeu- en swartrenosterbevolkings stelselmatig toegeneem het.

Dié wild kom nou selfs in gebiede voor waar dit voorheen uitgewis is.

Dít danksy ’n bewaringsmodel waarvolgens Namibiërs wat met wilde diere saamleef, ook regte geniet om die hulpbron te benut.

“Die ekonomiese mededingendheid daarvan om grond vir wilddoeleindes te gebruik, het Namibië se sukses met die hervestiging van wild gedryf. Dit hou ook groot voordele vir wildlewe, die bewaring van biodiversiteit, werkskepping en die ekonomie in,” het Shifeta gesê.

Hy het bygevoeg sonder die jagbedryf sou groot dele van die land onproduktief wees.

“As ons die jagbedryf verloor, sal dit ’n beduidende impak op bewaring hê en die mededingendheid van die wildbedryf benadeel as ’n manier om grond te gebruik,” het hy gesê.

“Enige verbod op die invoer van jagtrofeë dreig om alle vordering ongedaan te maak wat ons sedert onafhanklikwording gemaak het,” het hy gesê.

Shifeta meen die wildsektor help boonop met voedselsekuriteit in die land, omdat 95% van die wildsvleis wat op private landbougrond geproduseer word, in Namibië bly.

Hy het gesê ongeag talle oproepe om bewaringsjag te beëindig, is die Namibiese regering gereed om dit en die bydrae daarvan tot bewaring asook tot sosioëkonomiese ontwikkeling te verdedig.

Tydens die geleentheid het Napha se president, me. Danene van der Westhuyzen, gesê ondanks mense soos Greta Thunberg se aksie teen klimaatsverandering word jagters steeds as misdadigers en moordenaars uitgebeeld.

Sy sê terselfdertyd word bees- en skaapboere nooit gevra hoekom hulle iets doodmaak waarvoor hulle omgee en lief is nie.

Van der Westhuyzen het gesê die wêreld raak al meer bewus van hul verantwoordelikheid teenoor wildlewe en bewaring en dit bied jagters ’n geleentheid om hul saak te stel.

Sy het jagters aangemoedig om hul saak te stel en nie weg te steek dat hulle jagters is nie.

“Ons is in die eerste plek bewaarders. Ons is moeg daarvoor om links en regs vir houe te koes en van ons identiteit gestroop te word – net om aan die samelewing se vereistes te voldoen of polities korrek te wees,” het sy gesê.

Nordisk Safari Klub se mnr. Jens Ulrik Høgh, ’n wêreldbekende wildbewaarder, skrywer, uitgewer en redakteur van Denemarke wat ook ’n spreker by die geleentheid was, meen Namibië is dié kampioen van natuurbewaring in die wêreld.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!