Wilde week lu00ea voor vir wu00eareldmarkte
Wilde week lu00ea voor vir wu00eareldmarkte

Wilde week lê voor vir wêreldmarkte

Elvira Wood – Die VSA en China praat oor handel en Theresa May probeer om ’n ooreenkoms oor Brexit te sluit.

Pres. Donald Trump van die VSA en sy Noord-Koreaanse eweknie Kim Jong-oen vergader in Viëtnam terwyl Jerome Powell, voorsitter van die Federale Reserweraad (Fed) en Michael Cohen, Trump se voormalige prokureur, getuig voor die Amerikaanse kongres.

Dit is alles wat na verwagting dié week gaan gebeur.

Daar sal dus vele geleenthede wees waar markte in die komende week wisselvallig kan verhandel.

Markte kan veral Woensdag baie wisselvallig verhandel wanneer Trump met Kim in Hanoi vergader, Cohen voor die kongres getuienis lewer en Robert Lighthizer, die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, die nuutste inligting oor handelsgesprekke tussen die VSA en China bekend maak.

Boonop gaan Powell ’n voorlegging maak aan die laerhuis se finansiëledienstekomitee en kan die Britse parlement oor May se voorgestelde Brexit-ooreenkoms stem.

Alles op dieselfde dag.

Hoewel al dié gebeure buite Suid-Afrika se grense afspeel, kan dit waarskynlik die dollar en dus die rand beduidend beïnvloed.

Die rand het Sondag teen R14,00 teenoor die dollar verhandel.

Handel

Gesprekke tussen die VSA en China het onverwags dié naweek voortgeduur.

Dit is omdat Trump ’n spertyd gestel het dat hy tariewe op $200 miljard se Chinese goedere vanaf 1 Maart van 10% tot 25% gaan verhoog as daar geen handelsooreenkoms gesluit word nie.

Trump het Vrydag gesê hy is positief dat ’n “betekenisvolle” langtermynooreenkoms gesluit sal word en dat dié spertyd uitgestel kan word.

Lighthizer het egter gewaarsku dat daar nog groot struikelblokke oorkom moet word.

Trump en Kim

Trump se gesprek met Kim gaan daaroor dat die Amerikaanse president Noord-Korea wil oortuig

om sy kernarsenaal te laat vaar.

Dit sal massiewe gevolge vir die streek hê, veral vir Suid-Korea en Japan waar 30 000 troepe reeds gebaseer is.

Daar is egter kommer dat Trump maklik sal toegee om ’n ooreenkoms met Kim te sluit sou dié ’n aanbod maak wat goed klink.

Probleme in die VK

Daar word nie verwag dat leiers van lande wat deel vorm van die Europese Unie (EU) wat Sondag in Egipte vergader, ’n ooreenkoms oor Brexit gaan sluit nie.

May sal dan Woensdag die kwessie in die Britse parlement moet bespreek waar wetgewers dreig om beheer oor die Brexit-proses oor te neem. Hulle mag haar probeer dwing om uitstel te kry dat die VK nié die EU op 29 Maart verlaat nie.

Amerikaanse ekonomie

Powell gaan dié week aandui wat daar vir die Amerikaanse ekonomie verwag word.

Hy mag dalk iets oor die Fed se vooruitsigte laat val in sy getuienis voor die kongres.

Trump se prokureur

Robert Mueller, spesiale raadgewer, mag moontlik binnekort sy verslag oor Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing voltooi.

Hy gaan dit waarskynlik nié die week doen nie.

Daar word eerder verwag dat Trump se voormalige prokureur, meer hieroor te sê kan hê.

Cohen is in Desember tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

Hy sal Woensdag getuienis lewer voor die kongres oor dié kwessie.

– Bloomberg/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer