Wildehonde afgemaai

Ses lughawepersoneellede het gister in die hof verskyn en is op borgtog van N$3 000 elk vrygelaat.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Drie sekuriteitswagte en drie van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (ILHK) se onderhoudspersoneel is Dinsdag in hegtenis geneem ná hulle glo op vyf wildehonde van N/a'an ku sê-lodge se Zannier-reservaat geskiet het.

Twee van die wildehonde – Namibië se mees bedreigde karnivoorspesie – is doodgeskiet en een is ernstig gewond. Dié dier veg om sy lewe by N/a'an ku sê se dierekliniek.

Volgens dr. Rudie van Vuuren, van die N/a'an ku sê-stigting, is die ses ­verdagtes op heterdaad met 'n koedoekarkas agterop 'n bakkie betrap, wat deur die wildehonde gejag is.

“Die verdagtes is na die toneel geneem en lede van die Namibiese polisie (Nampol) het die voertuig vir bewyse deursoek. Die verdagtes het die reservaat, wat langs die lughawe geleë is, vermoedelik onwettig betree om die koedoekarkas te kry, wat die wildehonde gevang het,” het Van Vuuren gesê.

Die beskuldigdes, mnre. Martin Masati (48), Ndeveetela David (40), Saul Frans (38) Ndengu Pinehas (44), Timoteus Josephat (58) en Kamwi Kamwi (35), het gister in die Windhoekse landdroshof in Katutura verskyn en is op borgtog van N$3 000 elk vrygelaat.

Die ses is aangekla van die jag van be­skermde wild, die verwydering van wildsvleis, die vervoer van wildsvleis en die onwettige betreding van eiendom. Die saak is tot 15 April ­uitgestel.

“Waarom het die verdagtes nie net die wildehonde van die karkas af weggejaag en die vleis gevat nie? Waarom moes hulle die honde skiet?” het 'n ontstelde Van Vuuren gister aan Republikein gesê.

"Die borgtog van N$3 000 elk is 'n absolute grap."

“Ná verdere ondersoek is 12 boor-haelgeweerpatroondoppies en spore gevind, wat aandui die reservaat is onwettig betree. Die verdagtes het 40 m van die grensheining in die reservaat af inbeweeg,” het Van Vuuren gesê.

Zannier se bestuurder het die polisie gekontak en lede van Nampol en hul eenheid vir beskermde hulpbronne (PRU) het die misdaadtoneel kom ondersoek. Die onderhoudsbestuurder van die lughawe is ook oor die voorval ingelig.

N/a'an ku sê se veearts, dr. Kobus Hoffman, het forensiese nadoodse ondersoeke op die twee dooie wildehonde uitgevoer en verdere bewyse van haelkorrels van 'n 12 boor-haelgeweer in die karkasse gevind, waarmee hulle geskiet is.

“Die gewonde wildehond is in sy nek en gesig geskiet met moontlike haelkorrels intern,” het Van Vuuren gesê.



BRUTALITEIT

“Die Zannier-reservaat, wat 'n veilige hawe vir wild is, het Dinsdag 'n toneel van brutaliteit geword,” het Van Vuuren gesê, wat die betrokke vyf ­wildehonde as ambassadeurs van hul spesie beskou.

“Hierdie vyf wildehonde was een van die N/a'an ku sê-stigting se suksesverhale wat vrylatingsprojekte betref.”

Volgens Van Vuuren is die broer en suster, Jaco en Nadia, as welpies uit 'n konfliksituasie in die Mangetti-gebied in die Noordooste gered en drie broers, Namib, Desert en Veldt, is weer van 'n gewisse dood in die ­Otjozondjupastreek gered.

Hulle is sedert 2016 as welpies deur die wêreldbekende Marlice van Vuuren grootgemaak en het as 'n gedugte trop van vyf gefloreer.

Hulle is die Famous Five gedoop.

In Junie 2018 is dié trop in die ­Zannier-reservaat vrygelaat ná twee ­wildehonde met ­GPS-nekbande toegerus is, wat noodsaaklike ­navorsingsdata vir die vrylatingsproses verskaf het.

Die vyf wildehonde het vir sewe maande sonder enige konflik oorleef - tot Dinsdagoggend toe 'n buurman verdagte aktiwiteite opgemerk het en dit aan N/a'an ku sê se personeel ­rapporteer het.

Die alfawyfie, Nadia, en reun Desert is doodgeskiet, terwyl die reun Jaco gewond is.

Van Vuuren sê daar is geen bewyse dat die wildehonde die reservaat verlaat het nie.

“Volgens die oorblyfsels van die karkas is dit duidelik 'n koedoe is deur die wildehonde aan die ­reservaat se kant langs die heining tussen Zannier en die lughawegronde gejaag en gevang.

Die N/a'an ku sê-stigting bedank naburige boere, Nampol, PRU en die eenheid vir teenstropery vir hul vinnige reaksie om die verdagtes aan te keer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer