Wildekat kom sowaar weer
Wildekat kom sowaar weer

Wildekat kom sowaar weer

Francoise Steynberg
So dink Grietjie blink planne uit om die slange uit die huis te hou.

Sy bly hoeka in die bosse langs 'n riviertjie, want sy wil vir altyd 'n plaasmeisie wees.

Grietjie koop pepersproei, maar weet nie hoe effektief dit is om slange te verjaag nie. Daar was al 'n skerpioen op die stoep ook.

Sy weet haar twee vet honde van vintage-afkoms sal blaf, maar dalk nie flinke beskerming teen slange bied nie. Tot 'n boer onlangs vir Stekels-steekhaarbrak een kyk gee en “oe” en “aa” oor die fantastiese Australiese beeshond. Toe voel Grietjie bietjie beter, want Stekels is voorwaar 'n goeie waghond. Maar Stekels is te vetgevoer om vlugvoetig vir 'n slang te wees.

Boonop is Grietjie se ma se Liefie-kat effe mankoliek. Liefie is gekry nadat Grietjie se ma se Hasie-kat die koppie op is en ook die slagoffer van 'n sebraslang was.

Grietjie se ma het gesê sy wil nie weer 'n rondloperkat hê nie. Sy soek 'n prôperse huiskat.

Die Katbeskermingsvereniging het toe sowaar 'n kat wat mank loop en blind in die een oog is.

Al waarheen Liefie-kat loop is agter Grietjie se ma aan.

Toe laat weet 'n vriend van 'n vriend sy vriend is allergies vir katte en sy dokter sê hy moet sy Wildekat weggee.

Grietjie dink Wildekat is die beste basta teen slange en ander ongediertes.

Wildekat arriveer papsopnat gepiepie. Wildekat het nog nie 'n naam nie, maar is deur vriend se vriend Babatjie genoem.

Alle deure en vensters moet toe en die hittegolf skroei ons uit hierdie dorre aarde uit wat blerrie Donald Trump nie wil erken is klimaatsverandering nie. Die eerste aand slaap Wildekat in die badkamer, maar huil heelnag en kruip agter die toilet in, want dis snikheet warm.



Die tweede aand sleep Grietjie die Chinese waterverkoeler, waarby jy ys bo ingooi, uit die garage uit. Wildekat slaap en spin in Grietjie se arms. Vensters is toe, deur is toe, maar waterverkoeler blaas net koud tot die ys gesmelt het.

Volgende oggend is Wildekat skoonveld. Die boonste venster staan op 'n skrefie oop. Die groot soektog begin. Kallie Sekuriteit word opgekommandeer om te help soek.



Dis koppie op en rivier af en die son bak warm met die hittegolf wat blerrie Trump sê nie klimaatsverandering is nie.

Grietjie se ma, wat van worry aanmekaar gesit is, dink 'n bobbejaan op die berg het Wildekat gevang, óf hy gaan van die dors en honger dooi.

Grietjie voel in haar gut Wildekat leef nog.

Twaalf dae gaan verby.



Grietjie word vroeg wakker en gaan sit op die stoep. 'n Swart kat maak sy naels aan die doringboom voor die stoep skerp. Beeshond blaf vir swart kat. Uit die boom spring 'n grys streepkat en pyl op die rivier af. Grietjie ken mos daai lang, maer kat. Dis dan Wildekat!



Wildekat kruip weg in die waterafvoerpyp. Grietjie storm met haar pienk nagklere rivier toe en roep by die waterpyp, en "kietsie-kietsie". Wildekat miaau, maar wil nie uitkom nie. 'n Man kom verby gedraf en vra vir Grietjie wat fout is. Grietjie sê ag wat, ek staan maar elke oggend so voor die waterpyp in my nagklere, boude in die lug en "kietsie-kietsie".



Uiteindelik het Grietjie vir Wildekat met hoendervleis uit die waterpyp gelok. Grietjie se pienk nagklere ruik na katpiepie, is vol klitse en sy moes dalk 'n klem-in-die-kaak-inspuiting vir die krapmerke op haar arms gekry het.

Grietjie is nie meer so bang vir slange nie, want Wildekat is terug in die kaja.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!