Wildmisdadigers word lig gestraf
Wildmisdadigers word lig gestraf

Wildmisdadigers word lig gestraf

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Verskeie smokkelaars van beheerde wildprodukte soos renosterhoring, olifanttande en ietermagôs, het verlede week in Namibiese howe met ligte vonnisse weggekom.

Frans Natnael wat op 26 Junie 2020 met ’n renosterhoring by Oshikango betrap is, is verlede Dinsdag tot ’n boete van N$10 000 of een jaar tronkstraf gevonnis. Sy tronkstraf is ten volle vir 36 maande opgeskort. Beslag is ook op sy voertuig gelê waarin die gesmokkelde renosterhoring gevind is.

Twee Angolese mans, Ben Kashela en Timoteus Bernandu, is op 27 Januarie met vyf olifanttande by Nkurenkuru vasgetrek. Hulle is verlede Donderdag met N$15 000 beboet of moet twee jaar agter tralies bly.

Drie Namibiese ivoorsmokkelaars, Lloyd Kozonguizi, Josua Kambato en Niklaas Ganuseb, het verlede Maandag ’n ligter vonnis in die Outjo-landdroshof gekry. Hulle is op 19 Junie 2016 met een olifanttand in hul besit in hegtenis geneem en moet ’n boete van N$2 000 betaal of ses maande in die tjoekie vertoef.

In die Windhoekse landdroshof in Katutura is Gustav Garoeb verlede Vrydag met ’n boete van N$1 500 of gevangenisstraf van vyf maande gevonnis. Hy is op 9 September 2018 met ’n lewende ietermagô en twee ietermagôvelle in Wanaheda in hegtenis geneem.

Nóg twee ietermagôsmokkelaars, Nicolas Kaveto en Gothbert Kamanya wat op 23 Maart met ’n ietermagôvel by Mururani betrap is, is swaarder gestraf. Hulle is tot ’n boete van N$10 000 of twee jaar gevangenisstraf elk gevonnis.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer