Wildshandel en korrupsie gaan hand aan hand
Volgens 'n intelligensiekenner hou onwettige wildhandel met mensehandel, dwelm- en wapensmokkelary en selfs terrorisme verband.
Francoise Steynberg - Sonder korrupsie sal die nywerheidskaal van onwettige wildsmokkelary onmoontlik wees.
Só het dr. Tim Wittig verlede week by die internasionale konferensie van die Internasionale Raad van Wild en Wildbeskerming (CIC) in Windhoek gesê.
Wittig is die Basel Instituut se hoof van intelligensie en van die instituut se taakspan teen onwettige wildhandel.
“Jag vind al vir eeue plaas, maar vandag het onwettige wildhandel ’n professionele en wêreldwye misdadige bedryf geword, en dit kan met bewese strategieë gestop word,” het hy gesê.
“Wildstropers en plaaslike smokkelaars op voetsoolvlak dra die hoogste risiko en koste, maar maak bykans geen wins nie. Internasionale georganiseerde sindikate is professioneel, gesofistikeerd, gewelddadig, skeppend, aanpasbaar en kan nuwe markte maklik betree,” verduidelik Wittig.
“Dit is vervleg met ander bedreigings soos dwelm- en wapensmokkelary, korrupsie, oorgrensmisdaad, gewapende konflikte, staatsgrepe, politieke onstabiliteit en terrorisme.”
Wittig het kaarte van Oos-Afrika vertoon waar ivoorsmokkelary met mensehandel, heroïensmokkelary, korrupsie, konflik en volksmoord oorvleuel.
Volgens hom is wildprodukte soos ivoor, waarop beslag op skepe aan die ooskus van Afrika gelê is, teruggespoor na drie verskepingsmaatskappye, waarvan een deur die seun van ’n voormalige president besit word.
“Dit het tot die inhegtenisneming van eienaars en werkers van die verskepingsmaatskappye en ’n Keniaanse staatsamptenaar gelei,” het Wittig gesê.
“In Mosambiek oorvleuel die roetes van onwettige wildsmokkelaars met wapen- en heroïensmokkelaars en selfs radikale djihadiste-organisasies.”
Wittig meen onwettige wildhandel beloop wêreldwyd miljarde Amerikaanse dollar per jaar.
Wildprodukpryse, soos byvoorbeeld van renosterhoring, is al meer per kilogram as selfs kokaïen of goud.
Wittig sê die verband tussen onwettige jag, die onvolhoubare gebruik van wildprodukte en korrupsie begin met geringe misdaad soos byvoorbeeld permitbedrog.
“Dan volg die wanbesteding van ‘bewaringsfondse’, omkopery en betalings aan amptenare, samewerking tussen stropers en safari-operateurs, onwettige en onvolhoubare konsessiepraktyke en meer.”
Hy meen dit ís moontlik om korrupsie uit te roei.
“Daar is altyd goeie mense in slegte instellings. Vind hulle, help hulle en werk saam met hulle. ’n Klein netwerk van goeie mense kan meer doeltreffend as ’n groot instelling wees,” verduidelik Wittig.
“Verwag niks wanneer met korrupte mense gewerk word; werk om hulle en nie teen hulle nie.”
Wittig sê personeel op die middelvlak van misdaadsindikate is beter teikens as die baasbreine en kan makliker deur intelligensie en wetstoepassingspersoneel binnegedring word.
Hy verwys na geldskieters en base op plaaslike of streekvlak – veral diegene wat grensposte beheer, asook eienaars of operateurs van bote of vliegtuie wat die produkte uitsmokkel.
Volgens Wittig moet die geldspoor gevolg word en vereis dit strategieë wat al suksesvol in onwettige wildhandel-ondersoeke aangewend is, intelligensie en teikens, asook opleiding in teenkorrupsie.
Wittig sê intelligensie moet gereeld onder verskillende rolspelers gedeel word en samewerking tussen openbare, private en nieregeringsorganisasies is noodsaaklik.
“Gebruik alle moontlike wette om wildmisdadigers aan te kla, nie net wetgewing oor wildlewe en bosbou nie,” het Wittig beklemtoon.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie