Wildstropery in 2020 grootliks vasgevat
Wildstropery in 2020 grootliks vasgevat

Wildstropery in 2020 grootliks vasgevat

Die ministerie het ’n hersiene nasionale strategie vir wildbeskerming en wetstoepassing van stapel gestuur.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

Wildstropery het in 2020 ’n afname getoon, met altesaam 31 renosters en elf olifante wat gestroop is en 654 vermeende wildstropers wat vasgetrek is.

Die 654 verdagtes bestaan uit 597 Namibiërs, 26 Zambiërs, 22 Angolese, een elk uit Botswana en Zimbabwe asook sewe ander burgers wat betrokke is by 308 wildmisdaadsake wat in 2020 aanhangig gemaak is.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het verlede week die hersiene nasionale strategie vir wildbeskerming en wetstoepassing van stapel gestuur wat vir die volgende vyf jaar geld.

Volgens die statistiek oor wildmisdaad wat hy bekend gemaak het, is 31 renosters in 2020 gestroop, teenoor die 52 in 2019, 81 in 2018, 55 in 2017, 66 in 2016 en 97 in 2015 toe die wildstropery opgevlam het.

Verlede jaar is elf olifante gestroop teen 2019 se 13, 27 in 2018, 50 in 2017, 101 in 2016 en 49 in 2015.

Wat ietermagôs betref, is agt lewende diere in 2020 gekonfiskeer, asook vyf karkasse, 59 velle, vyf stukke vel en 924 skubbe.

Uit die 308 wildmisdaadsake wat in 2020 geregistreer is, is 111 verwant aan hoëwaardespesies: “Uit die 654 verdagtes word 113 verdagtes verbind aan renosterstropery of -horingsmokkelary, 100 aan ietermagôstropery en -smokkelary en 64 aan olifantstropery en -ivoorsmokkelary.

“Die meeste wildmisdaadsake is in die Khomasstreek (52) aanhangig gemaak, gevolg deur Zambezi (43) en Kunene (37),” het Shifeta gesê.

Hy sê 36 verdagtes is ook in 2020 in ou sake in hegtenis geneem en 104 wildmisdaadsake is in howe gefinaliseer.

“Altesaam 162 wildmisdadigers is skuldig bevind en 16 is vrygespreek. Altesaam 1 595 wildmisdaadverhore het plaasgevind,” het Shifeta gesê.

“Dis duidelik uit die statistiek dat ons saam met verskeie rolspelers hard aan die werk is om wildmisdaad in die land uit te roei en dat betekenisvolle sukses behaal is.”

Die minister sê wat renosterstropery en horingsmokkelary betref, is nie net stropers in hegtenis geneem nie, maar ook verskeie meesterbreine, middelmanne, helpers en handlangers.

Hy bedank al die personeel van die Namibiese weermag (NDF) en polisie (Nampol), die Nasionale Sentrale Intelligensiediens (NCIS), aanklaers en die gekombineerde span van intelligensiedienste van die Blue Rhino-taakspan en teenstropingseenheid, asook die honde-eenheid, wat saamgewerk het om wildstropery vas te vat.

MENS-DIER-KONFLIK

Wat mens-dier-konflik betref, sê Shifeta twee mense is deur krokodille doodgemaak en altesaam 813 vee se lewens deur wilde diere in 2020 geëis. Dit sluit in 413 beeste, 12 donkies, 234 bokke en 154 skape.

“Altesaam 3 450 hektaar gewasse is beskadig, waarvan 3 346 hektaar deur olifante, 55 hektaar deur buffels en 49 hektaar deur seekoeie,” het hy gesê.

“Ses persone is deur buffels beseer, drie deur luiperds, twee deur leeus en een elk is deur ’n olifant, seekoei en bobbejaan beseer.”

Hy sê meer as N$5 miljoen is uit die Wildproduktetrustfonds aan individue, boere en bewaringsgebiede vir veeverliese, skade aan gewasse, beserings aan mense en lewensverliese uitbetaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!