Wildsvleisuitvoere na EU goedgekeur
Wildsvleisuitvoere na EU goedgekeur

Wildsvleisuitvoere na EU goedgekeur

Indien Namibië minstens twee vraghouers per maand uitvoer, kan tot 110 nuwe werksgeleenthede geskep word en N$50 miljoen per jaar verdien word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibië mag van 7 November af weer wildsvleis na die Europese Unie (EU) uitvoer.

Dit volg ná uitvoere vir langer as vyf jaar gestaak is.

Me. Annegret Museler van AM Consulting Namibia en ook ’n verteenwoordiger van die stuurkomitee vir wildprodukte, sê hulle hoop om die eerste toetsbesending nog voor Kersfees te stuur.

Museler het tydens die onlangse Lewendehaweprodusente-organisasie(LPO)-kongres aangedui die stuurkomitee verwag nog terugvoering van DG Sante in die EU.

DG Sante is ’n gesagstruktuur soortgelyk aan Namibië se direktoraat van veeartsenydienste.

Namibië het die afgelope week die groen lig uit dié oord ontvang.

Dié prestasie word vanaand by die Tasting Room in Windhoek gevier.

Museler het tydens die LPO-kongres verduidelik die stuurkomitee, wat ’n gesamentlike inisiatief van die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling asook die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) is, geniet ook Wildlife Ranching Namibia (WRN) se steun.

HERVAT VAN UITVOERE

Museler sê tot dusver het slegs een abattoir, Farmer’s Meat Market op Mariental, goedkeuring vir die uitvoer van wildsvleis na Europa gekry.

“Hopelik sal nog abattoirs goedkeuring kry,” sê sy.

“Namibië het in 2013 self besluit om wildsvleis-uitvoere weens Shiga-toksienproduserende E. coli (STEC) te staak.

Toe is tot ’n duisend vraghouers wildsvleis per jaar uitgevoer,” sê sy.

Volgens Museler is die Europese mark vir wildsvleis baie sterk. Dis ’n groeiende nismark vanweë wêreldneigings om “groener en gesonder” te leef.

Sy sê die hoop is dat Namibië voorts minstens een vraghouer wildsvleis per maand kan uitvoer. Een vraghouer van veertig voet neem sowat 27 ton wildsvleis.

Museler sê ’n hoëvlak-analise dui aan indien Namibië daarin kan slaag om twee vraghouers per maand, of 24 per jaar, uit te voer, kan tot 110 werksgeleenthede geskep word en N$50 miljoen per jaar verdien word.

Sy sê die hoop is dat wildsvleis ’n betalende mark vir produsente sal wees – veral omdat Europeërs bereid is om te betaal en wildboerderye dalk minder koste-intensief is.

Sy meen wildboerderye bied bykomende geleenthede om inkomste te skep, wat toerisme en trofeejag insluit.

STUURKOMITEE

Museler sê vanjaar was die stuurkomitee se fokus die uitvoer van wildsvleis, en hulle het baie vermag.

“Ons het vanjaar meer as N$1 miljoen bestee sodat die uitvoer van wildsvleis weer kan begin. Die EU betaal goeie pryse vir wildsvleis, terwyl die plaaslike Namibiese mark redelik versadig daaraan is,” sê sy.

Museler sê eerste is ’n mark- en voldoeningstudie gedoen. Dit behels die bestudering van nuwe EU-regulasies en die oorweging of daar steeds ’n mark daarvoor bestaan.

Hierna het wetenskaplike proewe oor STEC-besmetting gevolg, waarná standaard bedryfsprosedures (SOP’s) opgestel is om te verseker die manier waarop in Namibië gejag word en hoe wild en vleis hanteer word met EU-regulasies strook.

Museler sê hulle is tot einde November besig met opleiding oor die oes van wild volgens die nuwe SOP’s.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!