Wildveearts veg teen kanker
Wildveearts veg teen kanker

Wildveearts veg teen kanker

'n Hulpfonds is vir dr. Pete ­Morkel se kankerstryd gestig.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



'n Baanbreker in Namibiese na­tuurbewaringskringe, dr. Pete Morkel, wat in 2018 by die Tusk-bewaringstoekennings in Londen die Prins William-toekenning vir bewaring in Afrika ontvang het, veg tans dapper teen kanker.

Die 59-jarige Morkel is in dieselfde jaar met kanker gediagnoseer.

Dr. Michael Kock, ook 'n ­wildveearts en lid van die Suider-Afrikaanse Volhoubare Gebruik-spesialisgroep (SASUSG), wat oraloor in Suider-Afrika gewerk het, het 'n Go Fund Me-­fonds vir Morkel se kankerstryd gestig. Volgens Kock het Morkel blaaskanker wat reeds na sy prostaat en laer ruggraat versprei het. Hy woon saam met sy vrou Estelle en twee jong kinders, Benoit and Cheri, op die plaas Kambreek langs die Oranjerivier in die verre Suide.

“Pete het reeds bestraling en chemoterapie ontvang en hy en sy vrou moet elke maand Windhoek toe reis sodat hy chemoterapie kan ontvang, maar weens die aard van die kanker, is dit moeilik om te genees. Immunoterapie blyk die enigste hoop vir volkome genesing te wees,” sê Kock.

“Sy spesialis het immunoterapie eerder as chemoterapie voorgestel. Die spesifieke medikasie vir Pete se situasie is Pembrolizumab wat hom maandeliks meer as US$7 000 vir behandeling uit die sak jaag. Sy mediese fonds dek slegs 'n klein persentasie vir 'n beperkte tydperk.”

Volgens Kock was die teiken vir die geldinsameling US$98 000 en op 9 Mei is dit bereik om twee jaar se medikasie vir Morkel te voorsien.

Die besluit is geneem om die fonds na US$154 000 te verhoog om bykomende uitgawes soos toekomstige hospitalisasie, toerusting en professionele hulp te dek.

Morkel, 'n legende in Namibiese bewaringskringe, het vir meer as drie dekades sy voetspore diep in bewaringskringe in Afrika getrap.

Hy staan bekend vir sy ongekende vaardighede in wildvang en -verskuiwings, en het 'n aansienlike impak op wildbestuur en -bewaring oral op die vasteland gehad.

Morkel is een van die wêreld se voorste kundiges in ­renosterbewaring en -bestuur. Hy en sy kollegas het die eerste onthoringstegnieke vir wit- en swartrenosters in die vroeë 90's in Namibië ontwikkel.

Hy het van die grootste bydraes gelewer en 'n sleutelrol gespeel in die verskuiwing en bestuur van vele wildbevolkings in Afrika.

Hy het vele wildspesies soos ­renosters, olifante en kameelperde van nekbande voorsien wat daartoe gelei het dat 'n hoër vlak van kennis van hierdie spesies ingewin is.

Morkel is in Zimbabwe gebore en het sy graad in veeartseny aan die ­Universiteit van Pretoria verwerf waarna hy voltyds as wildveearts gewerk het.

Hy was hoof van die Namibiese wildvangeenheid en het as veearts in die Etosha Nasionale Park gewerk. Hy was ook hoof van die wildvangeenheid en veeartsenydienste van Suid-Afrika se Nasionale Parkeraad.

As die koördineerder van renoster­sake vir die Frankfurt Dieretuinvereniging, het Morkel vir ses jaar die Ngorongoro-krater in Tanzanië se ­renosterprojek bestuur.

Hy het ook swartrenosters in die Zakouma Nasionale Park in Tsjad hervestig.

Besoek Morkel se Go Fund Me by www.gofundme.com/f/pete-­morkel-wildlife-veterinarian-medical-help.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!