William, Kate wys hul jongste prins
William, Kate wys hul jongste prins

William, Kate wys hul jongste prins

Toegewikkel in ’n fyn kombersie het die jongste prins van Cambridge Maandag sy eerste openbare verskyning gemaak.

Veilig in sy ma se arms en met sy trotse pa glimlaggend met sy hand gerusstellend op sy vrou se rug, het prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, die mediaskrum buite die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, getrotseer.

In die skrum fotograwe was die veteraan-koninklike fotograaf, Arthur Edwards, wat een van ’n skrale 30 mediamense was wat 35 jaar gelede óók buite die Lindo-vleuel gestaan het om prins William se eerste openbare verskyning op film vas te vang.

Die nuwe prins van Cambridge het Maandag om 11:01 (12:01 Namibiese tyd) in die wêreld gekom nadat sy ma vroegoggend in kraam gegaan het.

Hy is net soos sy pa, oom Harry en ouer broer, prins George en prinses Charlotte, in die Lindo-vleuel gebore.

Volgens die tradisie het die dorpswagter kort nadat Kensington-paleis op sosiale media die geboorte van die prins aangekondig het, op die trappe van die Lindo-vleuel gaan staan en die koninklike proklamasie van die geboorte uitgebulder en dan sy koperklok gelui. “Hoera, hoera!” het uit die skare buite die hospitaal opgeklink.

TV-aanbieders het hul kykers deurentyd op die hoogte van sake gehou en kort-kort oor die bittere koue buite die hospitaal gekla.

Die prins is koningin Elizabeth se sesde agterkleinkind. Sy name sal moontlik aangekondig word nadat die koningin haar jongste agterkleinkind self gesien het. Sy is tans in Windsor-kasteel.

Catherine het soos met die geboorte van prinses Charlotte in 2015 die hospitaal dieselfde dag as die geboorte verlaat. Die hertogin is haastig om by die huis te kom omdat sy besef hoe ander pasiënte verontrief word deur die bykomende sekerheid en lawaai wat met ’n koninklike geboorte gepaardgaan.

Prins William het soos met prinses Charlotte se geboorte die twee ouer kinders gaan haal om hul boetie in die hospitaal te ontmoet. Die twee is lank laas in die openbaar gesien. Prins George is Maandag oudergewoonte skool toe en prinses Charlotte was in Kensington-paleis.

Die prinsie is, soos beroepswedders voorspel het, op St. George-dag gebore. Die vlag van St. George is die vlag van Engeland en hy is die beskermheilige van Engeland.

Maandag was ook die geboortedag van die groot Engelse skrywer William Shakespeare.

Soos tradisie bepaal is ’n aankondiging van die prins se geboorte en sy gewig – 8 pond 7 onse (sowat 3,83 kg) – op ’n vergulde goue esel binne Buckingham-paleis se hekke geplaas.

London Eye het Maandagaand ook in ’n kleurspel van koninklike blou, rooi en wit gepronk.

Gister het die Westminster-abdy ’n spesiale Cambridge-klokkespel om eenuur gelewer en ’n spesiale kanonsaluut is vanuit Hyde Park en langs Tower Bridge afgevuur. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!