William, May bring hulde aan 22 bomaanval-slagoffers
William, May bring hulde aan 22 bomaanval-slagoffers

William, May bring hulde aan 22 bomaanval-slagoffers

Prins William, die hertog van Cambridge, en Theresa May, Britse eerste minister, het Dinsdag hulde aan die 22 slagoffers wat in die bomaanval ’n jaar gelede in die Manchester Arena omgekom het, gebring.

’n Minuut van stilte is gehou, berig The Daily Mail.

William en May het aangrypende boodskappe op seskantige kaartjies ter herinnering van die slagoffers geskryf. Die kaartjies is aan ’n “boom van hoop” gehang.

Baie van die slagoffers was minderjariges wat die Ariana Grande-konsert bygewoon het.

“Aan almal wat geraak is, ons sal julle nooit vergeet nie. Al my respek en bewondering aan die mense van Manchester vir julle krag te midde van die ondenkbare tragedie,” het William geskryf.

May het geskryf dat sy almal wat dood is, sal koester, asook hul families en vriende wie se lewe onherroeplik verander het.

“Mag die welwillendheid en goedhartigheid wat ons aanskou het en die krag van Manchester nooit verdoof nie.”

Die boom, wat naby die Manchester-katedraal is, is een van 28 Japanse esdoringbome wat van Victoria-stasie tot by die St. Ann-plein geplant is sodat mense tot 28 Mei boodskappe van bemoediging daarop kan plaas.

Die Manchester-stadsraad het gesê elke boodskap sal in die argief bewaar word.

Prins William het vroeër ten tyde van ’n diens in die katedraal uit 1 Korintiërs 13 voorgelees. Die diens was om die slagoffers van die bomaanval, asook diegene wat in die skokkende terreuraanval beseer is, te onthou.

Mense wat in die aanval beseer is, asook ander genooide belangstellendes, het die roerende diens bygewoon.

Die uur lange diens is gehou te midde van ’n minuut van stilte om 14:30 wat by alle regeringsgeboue in die Brittanje gehandhaaf is.

Foto’s van die oorledenes is op ’n groot skerm in die katedraal se tuin vertoon. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!