William neem ‘boodskap van vrede’ na Palestyne

Arlene Prinsloo



Prins William het Dinsdag weer bewys watter diplomatieke meester hy is toe die Israelse president hom gevra het om ’n vredesboodskap na die Palestynse president te neem.

Prins William (36) het versigtig sy woorde gekies en geantwoord dat hy “hoop dat vrede in die gebied bewerkstellig kan word”, berig SkyNews.

Die prins, die eerste senior koninklike om Israel amptelik in 70 jaar te besoek, het Dinsdag ’n vol dag van verpligtinge gehad.

In die saal van herinnering van die Yad Vashem Menseslagting-museum het hy ’n krans neergelê en met oorlewendes van die Menseslagting gesels.

Nadat hy ’n uitstalling van slagoffers van die Menseslagting se skoene gade geslaan het, het die prins gesê hy het die uitstalling “skrikwekkend” gevind.

Hy het ’n tradisionale kippah op sy kop gedra terwyl hy die museum besoek het.

Daarna het nóg ’n amptelike verpligting gewag, dié keer ’n ontmoeting met pres. Reuven Rivlin. Die prins het ’n sokkerhemp van sy gunstelingsokkerspan, Aston Villa, aan Rivlin oorhandig.

Hoewel daar van lede van die koninklike gesin verwag word om ten alle tye politiek neutraal te wees, was dit die Israelse president wat oor die onmin tussen Jode en Palestyne begin praat het. Hy het prins William gevra om wanneer hy pres. Mahmoud Abbas (van Palestina) ontmoet, ’n boodskap van vrede aan hom oor te dra, berig SkyNews.

Ná dié afspraak het die prins tyd saam met Benjamin Netanyahu, die Israelse premier, en sy vrou, Sara, deurgebring.

Tydens dié besoek is hy ook voorgestel aan Edith en Phillipe Cohen, afstammelinge van Jode wat prins William se ouma aan vaderskant, prinses Alice, tydens die Menseslagting in Athene, Griekeland, versteek het. (Prinses Alice is prins Philip se ma).

Prinses Alice is in 1969 oorlede. Sy is deur Israel vereer omdat sy Jode tydens die Menseslagting gehelp het en haar reste is in 1988 in Jerusalem begrawe.

Later die dag kon prins William sy pak uittrek vir ’n gemaklike chino, blou hemp en sonbril toe hy saam met Joodse, Christen- en Moslemkinders sokker gespeel het.

Hy het die media gevra om terug te staan sodat die kinders kans kon kry om met hom te gesels.

Hy het daar ook sy sokkervoet ingespan en die sokkerbal in die doelhok geskop.

Later het hy ook gaan kyk na waar jongmense vlugbal op Tel Aviv se strand speel.

In ’n toespraak by die Britse ambassade het die prins verwys na die streek se ingewikkelde en tragiese geskiedenis en gesê die hoop op versoening is nou nodiger as ooit. “Ek weet ek deel die hoop met almal van julle, en jul bure, vir regverdige en blywende vrede,” het hy gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer