Willie Barkhuizen (1938-2019) RIV
Rugby
Gert Jacobie
Meer as sestig jaar lank was sy wortels diep geplant in die sawwe sandveld en wit kalkklip van die Omambonde. Sy skadu’s het deel geword van die lafenis onder die kameelhoute op die noordoostelike vlaktes van ou Suidwes.
Oom Willie Barkhuizen en sy vrou, tannie Elaine, was die prototipe van ’n Suidwes-boergesin.
In sy jongdae vakman, sportster, pa en ondernemer. In sy later jare boer, sakeman, spekulant en belegger in die land en die toekoms van sy spruite.
Sy seun en drie dogters, kleinkinders en een agterkleinkind wat laas Vrydag op Hentiesbaai saam om sy graf vergader het met ’n gevolg van vriende en ander familie, kan dankbaar wees oor ’n lewe van diens en deelname van een van die ou grotes op Namibië se pad.
Oom Willie was ’n voelbare teenwoordigheid by veeveilings en die boerderybesigheid in die land en hy het in die Skepper se opdrag aanhou handhaaf en hou ter wille van ’n ryk nalatenskap vir sy mense, sy land en dit waarin hy geglo het.
Sedert sy heengaan die vorige Saterdag voordat die son oor Hentiesbaai opgekom het, praat algar oor dié joviale reus. Oor die rugbydae by Oostelikes en die provinsiale span van sy geliefde Noord-Transvaal. Oor hoe vinnig hy gesleep het oor 110 treë in ’n naelloop.
Hulle praat van Grootfontein se blitsvleuel op die Mabel Vlok-stadion wanneer die Biltongboere in Windhoek opgedraf het. Selfs in die Wanderers- en United-rugbyklubs fluister hulle nog sy naam met respekte.
Die rugbyster van die vroeë 1960’s het ’n man geword wat later op verskillende plase geboer het, ondernemings bedryf het en geboue staangemaak het. Sy prestasie en kennis van sport en die vordering op sy spoor deur sy kinders, het hom betrokke gehou by sy dorp en streek se sportgebeure. Gemeenskapsmens is die beskrywing.
En só het Willie Barkhuizen allemansvriend geword deur die 81 seisoene wat hy hierdie Namibiese bodem bewandel het.
In die laaste jare het hy en tannie Elaine op Hentiesbaai gewoon en daar ’n basis geskep vir sy familie wat hom so ná aan die hart was.
Sy geslag verdwyn in die mis van die laatdag wat oor die Namib instoot, maar die gees van ondernemerskap en opregtheid wat ’n Willie Barkhuizen nalaat, sal nog lank skyn as ’n ligpunt op die landspad na wasdom.
Sy familiemense kan hom in vrede groet en met reg sê: Só is ’n mens!
• Wyle oom Johannes Nicolaas Willem Barkhuizen laat vier kinders agter, naamlik Avril Mudge, Willie Barkhuizen, Mientjie van der Merwe en Lande Olivier.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie