Wilro ry die Arro disnis
Wilro ry die Arro disnis

Wilro ry die Arro disnis

Motorsport
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Wilro Dippenaar en sy navigator Riaan van der Westhuizen (Team PZN Panelbeaters) het onlangs skoonskip gemaak toe hulle die Womza Arro nasionale tydrenkampioenskap in Secunda, Suid-Afrika, gewen het.

Daar was geen keer aan Dippenaar se 4x4 Shell V-Power 2L 16V Toyota Aurus S2000 nie.

Die Windhoekers het klas A gewen deur algeheel eerste in ’n tyd van 1 uur 11 minute 46 sekondes te eindig. In die tweede plek, bykans ses minute stadiger, was Kobus Marais en Rocco Huzak (Toyota) in 1:17:09, terwyl Rinus Plomp en Corné van Tonder (Subaru) die derde plek met 1:19:25 ingeneem het.

Dippenaar het vanaf sneldeel een die pas aangegee en die 7.47 km in ’n blitsige 5 minute 42 sekondes afgelê, wat 36 sekondes vinniger as die tweede plek van Marais en Huzuk was.

Trajek twee van 27 km is waar die spanne en hul motors tot die uiterste beproef is. Weereens is dit Dippenaar en Van der Westhuizen wat die vinnigste tyd aanteken – dié slag met ’n gaping van 1 minuut 26 sekondes vinniger as hul naaste mededingers.

Met sneldele drie en vier herhaal die manne van Team PZN Racing in hul Shell V-Power Toyota Aurus die suksesse van een en twee om die vyfde supersneldeel met ’n stywe voorsprong as voorlopers weg te spring. Navigator Van der Westhuizen en Dippenaar sit in die laaste twee trajekte (vyf en ses) nie ’n voet verkeerd nie en wen beide sneldele met gemak.

Die Windhoekse paar was drie weke voor die Arro-tydren ook in Secunda om teleurgesteld om met meganiese probleme gekortwiek te word.

“In die laaste tydren voor hierdie een het ons met meer as vyf minute voorgeloop toe ons in die voorlaaste sneldeel moes onttrek. Die diensspan het ná dit hard gewerk en die kar 100 persent reg voorberei en dit het tot ons huidige sukses gelei. Dit was wonderlik om deel van ’n goed georganiseerde byeenkoms te wees, klas A te wen en algeheel eerste geplaas te word,” het Team PZN Racing laat weet.

“Ek en Riaan wil al ons ondersteuners vir hul bydraes op sosiale media bedank wat gereeld foto’s en inligting geplaas het.

“Ons sien uit na die byeenkoms op Tzaneen wat op 29 Julie plaasvind. Ons bedank ons borge Shell Namibië en Vivo Energy en PZN Panelbeaters vir hul ondersteuning. Sonder julle sou ons nie kompeterend en suksesvol kon deelneem nie,” het Dippenaar gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer