Wind lok spoedvrate

Elke jaar in November kom die wêreld se beste seilplankryers hier bymekaar vir die Lüderitz Speed Challenge.
Tanja Bause
Tanja Bause

Die Lüderitz Speed Challenge het verlede naweek ná ’n suksesvolle ses weke ten einde geloop.

Die heel eerste Speed Challenge is in 2007 by die tweede strandmeer buite Lüderitz gehou. Sophie Routaboul en Sebastien Cattelan het dié geleentheid gereël.

Die heel eerste Speed Challenge is op die strandmeer self gehou totdat die besluit geneem is om ’n kanaal te grawe. Die kanaal word elke jaar voor die seilplank- en sweefskiryers uit alle uithoeke van die wêreld op Lüderitz neerdaal, geskraap en herstel sodat die deelnemers die sowat een kilometer lange kanaal teen ’n hoë spoed kan afseil.

“Die kanaal gee ons beter beheer en meer afstand. Daar is ook genoeg plek vir die deelnemers om te stop. Toe ons nog op die strandmeer geseil het, was ons nie net van die wind afhanklik nie, maar ook van die getye. Die deelnemers het ook nie vreeslik baie plek gehad om te stop nie, dus het hulle nie voluit na nuwe rekords gestreef nie. Met die kanaal is ons net afhanklik van die wind en nie meer van ander natuurlike elemente nie,” het Sophie gesê.

Buiten dié kanaal waar seilplankry en sweefski elke jaar vir ses weke plaasvind, is daar nog een mensgemaakte kanaal vir dié sport. Dit is die Sainte Marie de la Mer-kanaal in Frankryk, wat ook The Canal genoem word.

In Oktober 2008 is The Canal se voorste posisie op die wêreldseilkaart weggeraap en deur die Lüderitz Speed Callenge vervang. Die Franse sweefskiryer Sebastian Cattelan was die eerste atleet wat vinniger as 50 knope geseil het. Hy het 50,26 knope (93,06 km/h) op 3 Oktober 2008 op Lüderitz geseil.

In 2017 het Raffaello Gardelli en Mark Grinnell van Surf ‘N’ Curve wat in Kaapstad gebaseer is, begin om die Speed Challenge aan te bied. Beide is toegewyde spoedseilplankryers wat jaarliks die byeenkoms – behalwe verlede jaar weens die Covid-19-pandemie – aanbied.

2021

“Die wind het vanjaar laat begin waai en was nie so sterk in vergelyking met vorige jare nie, maar op 18 November was daar ’n paar ure waar hy behoorlik gewaai het. Dis waar Hans Kreisel en Björn Dunkerbeck so goed gevaar het. Hans het die enigste rekord vanjaar op dié dag opgestel. Hy het 52,68 knope (97,41 km/h) geseil en ’n nuwe nasionale rekord vir Nederland opgestel. Björn het sy droom verwesenlik om vinniger as 100 km/h te seil toe hy daardie dag 55,98 knope (103,67 km/h) bereik het,” het Raffaello gesê.

BJöRN DUNKERBECK

Björn het twee jaar gelede ’n heupvervanging gehad en vanjaar het hy vir die eerste keer weer deelgeneem.

“Hy raak al hoe vinniger en hy is nou die tweede vinnigste man op aarde. Die vinnigste seilplankryer is Vincent Valkenaers van België. Hy het in 2019 op Lüderitz die titel met 56,04 knope verower.”

“Björn is nou 52 jaar oud en hy is beslis terug. Hy word The Terminator genoem en ek kan met sekerheid sê: ‘The Terminator is back’. Hy is die suksesvolste sportman in die wêreld. Daar is geen ander sportman in enige sportsoort wat in ’n 35 jaar loopbaan ’n rekord van 41 keer die wêreldkampioen in sy sportsoort was nie. Björn het die Professional Windsurfers Association Overall World Championships 41 keer gewen,” het hy gesê.

Sy seun, Liam Dunkerbeck (15), het vanjaar ook vir die eerste keer aan die Lüderitz Speed Challenge deelgeneem.

“Liam het wingsurfing probeer. Dis ’n relatiewe nuwe sportsoort. Jy staan op ’n seilplank en hou vlerke in jou hand wat die wind skep en jou sodoende op die water laat seil. Hy het dit probeer om te toets en te kyk of dit iets is wat ons in die toekoms ook meer op die kanaal kan doen.”

“Alhoewel net 21 deelnemers aan die kompetisie deelgeneem het, was dit nog steeds ’n sukses en ons sien nie net uit om dit volgende jaar weer aan te bied, maar ook om almal weer te sien,” het Raffaello gesê.

KARO VAN TONDER

In 2019 het Karo van Tonder die nuwe Afrika-rekord van 44,55 knope gemiddeld oor 500 m opgestel en die vyfde vinnigste vrou ter wêreld geword. Hierdie rekord staan vandag nog.

“Hiermee is ek net twee knope weg van die wêreldvroue-rekord (46,49 knope). Daarom het ek met groot oortuiging en vasberadenheid fisiek en geestelik vir die 2021 Lüderitz Speed Challenge begin voorberei. My tweede dag op die kanaal het ek al loshande 43,41 knope met ’n ligte wind bereik.

“Dit was vir my ’n bevestiging ek kan hierdie jaar die rekord verbreek sodra die wind sterk genoeg waai. My kompetisietyd is ongelukkig kortgeknip toe ek ’n dag voor die sterker winde ’n besering opgedoen het. Op hierdie dag sou die wind verseker sterk genoeg gewaai het om my Afrika-rekord te verbeter.

“Ek het met groot opgewondenheid my seile gereed vir dié dag gehad en was tweede in lyn op die kanaal. Daardie eerste run van die dag het baie goed gevoel. Ek het perfekte beheer oor my seil en plank gehad en het ’n hoë spoed van 42 knope oor die 500 m bereik. Vir my eerste run was dit baie vinnig en ek het geweet as die wind sou saamspeel ek net vinniger en vinniger sou seil.

“Toe ek in die stop-area my seil neerlê en in die draai gaan om al die spoed af te gooi en tot stilstand te kom, het ek met dieselfde tegniek, fokus en beheer soos altyd die beweging deurgevoer. Uit die bloute het dit gevoel of iemand my met ’n geweer in my kuit skiet toe ek halfpad deur die draai is. Die impak en pyn was intens.

“Ek het gelukkig daarop gefokus om teen daardie hoë spoed net aan te hou, vas te hou en netjies tot stilstand te kom. Die stop-area is die gevaarlikste en tegniese deel van die hele aanloop. Daar is ongelooflike rukwinde in daardie gebied en die water het baie meer golwe soos dit deur die kanaal opbou. Daarom is die impak soveel hoër op ’n mens se bene. Ek het besef ek kan nie loop nie en dit is ‘game over’.

“Die werkers het my baie mooi uit die kanaal gedra. Dit was ’n baie lang en hartseer rit terug op die sleepwa na die beginpunt. My pa, wat gelukkig ook ’n dokter is, het na my been gekyk en vasgestel my hele Achillespees is afgeruk. Ons moes so gou moontlik terug Suid-Afrika toe ry om geopereer te word. Dit was ’n ongelooflike groot teleurstelling, want ek weet hoe hard ek gewerk het en hoe naby ek aan die wêreldrekord was. Die moeilikste deel van die hele ervaring was om die volgende dag op krukke by die kanaal aan te kom en te sien hoe die wind die perfekte sterkte is om rekords te verbreek.

“Die positiewe deel van alles is dat ek met groot oortuiging vanjaar kon sien en voel die wêreldrekord is maklik binne my bereik en my voorbereiding is 100% in lyn met hierdie groot doelwit. Daarom kom ek definitief weer in 2022 terug om te veg vir die wêreldrekord,” het sy gesê.

“Die operasie was ’n groot sukses en haar Achillespees sal ná rehabilitasie weer so sterk soos vantevore wees.

“Ons sal volgende jaar my been behoorlik met verbande ondersteun om ekstra ondersteuning te gee vir die hoë impak in die stop-area. Spoedseilplankry is ’n baie hoë impaksport. Beserings soos hierdie is deel van die reis. Nadat ek beide my skouers ontwrig en geopereer is en nou my Achillespees, kom ek elke keer net geestelik en fisiek nóg sterker terug, met soveel meer kennis, ervaring en vasberadenheid.

“Die pad na ’n groot doelwit sal altyd vol struikelblokke wees, dit is wat dit so ’n leersame en kosbare loopbaan maak. ’n Mens groei met elke moeilike ervaring en kom net sterker terug.”

“Ek wil Raffaello en sy ongelooflike span bedank vir die uitstekende kanaal. Ons is so bevoorreg om iemand te hê wat soveel tyd en moeite insit om elke jaar hierdie wêreldklas-kompetisie aan te bied.”



Lüderitz Speed Challenge 2021

Bruno de Comarmond

Die perfekte ligging, uiterste spoed, moed in oorvloed, geslypte vaardigheid, taaiheid, die beste en nuutste toerusting, jare se ondervinding, buitengewoon sterk winde met die regte hoek, is die sleutelbestanddele om die vinnigste seilplankryspoed op aarde te kan bereik.

Die Lüderitz Speed Challenge is die wêreld se gesogste spoedseilgeleentheid. Sedert die eerste byeenkoms in 2007 het dit nie minder as 146 nasionale en 20 wêreldspoedseilrekords opgelewer nie. Insluitend die Namibiese spoedseilrekords vir beide seilplankry (Matthias Rotcher) en sweefski (Stefan Metzger).

In 2021 het die byeenkoms weer eens die wêreld se topseilplankryers na Lüderitz gelok. Hulle het van so ver as Swede af gekom. Hulle het almal gekom met een doel voor oë, om hul nasionale rekords te verbeter en natuurlik dalk die wêreldrekord.

Die spoedkanaal is in die tweede strandmeer slegs sewe kilometer buite Lüderitz geleë.

Vanjaar se deelnemers het uit die room van die wêreld se seilplankryers gekom: Bjorn Dunkerbeck: 42 keer wêreldkampioen, talle Guinness World Records Book-inskrywings en Red Bull se ambassadeur; Erik Beale: eerste mens om vinniger as 40 knope (74 km/h) te seil; Farrell O’Shea: Verenigde Koninkryk-kampioen; Oisìn van Gelderen: Ierland-kampioen; Twan Verseput: Nederland #2 en 2017 PWA-wêreldkampioen; Hans Kreisel: Nederland-kampioen; Gunnar Asmussen: Duitse kampioen; Andy Laufer: Duitsland #2; en Roger Ornvang: Sweedse seilplank- en sweefski-kampioen.

Die organiseerder Raffello Gardelli het die een kilometer lange kanaal aangepas sodat deelnemers nog hoër snelhede kan bereik.

“Die Lüderitz Speed Challenge is die voorste spoedseilgeleentheid ter wêreld vir seilplankryers en my plaaslike span en ek het die kanaal aan die begin en by die eindpunt langer gemaak.”

“Die seilplankryers het tyd nodig om spoed voor die aanvangskamera op te tel en ‘n vinniger spoed aan die begin behoort ‘n groter gemiddelde spoed oor die amptelike WSSRC 500 meter te genereer,” het hy gesê.

Gardelli se kanaal het beslis hierdie jaar sy belofte gestand gedoen. Vyf van die topdeelnemers het meer as 51 knope (94,452 km/h) se gemiddelde spoed oor 500 meter behaal en twee deelnemers het ’n maksimumspoed van meer as 100 km/h geseil. Dink net; 100 km/h op ’n seilplank.

Björn Dunkerbeck het sy lewenslange droom nie net verwesenlik nie, maar ook verbeter deur ’n 103,68 km/h maksimumspoed te seil. Andy Laufer van Duitsland was die tweede vinnigste met ’n spoed van 102,34 km/h.

Antoine Albeau van Frankryk en wêreldkampioen vir ’n rekord 24 keer, bly die vinnigste man van die Lüderitz Speed Challenge met ’n seilplank-wêreldrekord van 53,27 knope (98,66 km/h) gemiddelde spoed oor 500 meter. Hy het dié rekord in 2015 opgestel. Hy het op 2 November 2015 sy eie wêreldrekord sewe kere oortref.

“Vandag se wind was apokalipties en gevaarlik,” het hy destyds gesê.

Voor die 2012 Lüderitz Speed Challenge het geen seilplankryer ooit die destydse “mitiese” 50 knope (92,60 km/h) behaal nie. Nou is die nuwe “mitiese struikelblok” ’n gemiddelde spoed van 55 knope (101,86 km/h) oor 500 meter. Sal dit bereik kan word? Daar is geen twyfel daaroor nie.

Ulf Grünewald, die hoofbestuurder van die Lüderitz Nest Hotel en die byeenkoms se langste borg sê: “Ons is verheug om daartoe verbind te bly om hierdie uiters opwindende sportgeleentheid te ondersteun. Ons het geweet spoedrekords sou weer vanjaar verbreek word.”

“Ons is veral bly vir Bjorn wat sy uiteindelike doelwit bereik het om die 100 km/h te oortref. Bjorn is ‘n groot ambassadeur, nie net vir ons geleentheid nie, maar vir Lüderitz en Namibië.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!