Windhoek Braaifees soek 2019 se beste span

Vanjaar gaan die sappigste skaaprib bepaal wie as die NLU Agribraai se kampioen gekroon gaan word.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Windhoek Braaifees vind op 29 en 30 Maart by die Hage Geingob-rugbystadion in Windhoek plaas waartydens die kampioenbraaiers van Namibië gekroon gaan word.

Die Krugers van die Kaiserstraat Boerevereniging (BV) het verlede jaar koning gekraai op die Namibië Landbou-unie (NLU) se Agribraai op Gobabis. Omuramba BV was die naaswenners en Aroab BV in die derde plek.

Kaiserstraat BV se kampioenbraaiers van 2018, Nic, Elsada, Corné en Charmoni Kruger, het belowe dat die NLU Agribraai van 2019, die Windhoek Braaifees, 'n groot makietie gaan wees.

Volgens Kaiserstraat BV het altesaam 13 sosiale spanne ingeskryf, asook agt boereverenigingspanne. Boereverenigings wat sake om die vure gaan uitspook, is Omuramba, Kalahari-Oos, Okahandja, Hochfeld, Uhlenhorst, Aroab, Witvlei en Rehoboth.

Volgens Sanet Prinsloo, die koördineerder van die beoordelaars, is vanjaar se spyskaart vir die braaiers baie interessant met die nagereg wat 'n verrassing in die braaimandjie gaan wees. Vir die voorgereg sal braaiers hoenderlewers op die vuur moet opkikker en die hoofgereg is 'n lekker skaaprib, beet en Namib Mills se Bakpro-vetkoekmeel.

Bekende Suid-Afrikaanse sjefs, Arnold Tanser, en Garth Shnier van Legacy Hotels, is van die hoofbeoordelaars met plaaslike beoordelaars wat onder andere Riana Jacobs, Kosie Henn en Phillip Klynsmith insluit.

VOLOP VERMAAK

Vermaak gaan Vrydag en Saterdag volop wees met plaaslike kunstenaars wat gaan optree, soos Hannes Kaufmann, Werner van Zyl, André & Joggie, Jacob & Taylor, Claudine Nelson & Soulshine en die Suidwes Boereorkes.

Bekende Suid-Afrikaners sal ook op die verhoog wees. Vrydag gaan Robbie Wessels en Bok van Blerk feesgangers laat saam sing en Saterdag sal Karlien van Jaarsveld, Die Broers en Die Campbells die voete laat jeuk.

Daar gaan vet pret vir oud en jonk wees met baie stalletjies, 'n pretpark vir die kinders, ’n boogskietkompetisie, 'n wildsveiling Saterdag om 11:00, 'n wildsvleisdemonstrasie en 'n bakkompetisie.

Vir Bakpro se bakkompetisie moet 'n uithalerappeltert gebak word. Appelterte nie groter nie as 23 cm moet Saterdag om 10:00 gereed wees vir beoordeling. Vir verdere navrae oor die bakkompetisie, kontak Sanet Prinsloo by 081 124 6023 of Rodger du Plessis by 081 146 4730.

Hekke maak Vrydag om 14:00 en Saterdag om 08:00 oop. Kaartjies is te koop by Pick n Pay-winkels, Webtickets of by die hekke. Vir kinders onder ses is toegang gratis en vir kinders tussen 7 en 16 jaar oud kos kaartjies N$50. Vir almal bo die ouderdom 16 kos kaartjies N$100 per dag, maar as albei dae bygewoon word, beloop toegang slegs N$180.

Daar is net 300 Golden Circle-kaartjies beskikbaar wat N$900 vir albei feesdae beloop.

Kaiserstraat BV nooi Namibiërs uit om saam te kom feesvier en kyk wie as die braaikonings van 2019 aangewys word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer