Windhoek Buitekluboord presteer weer
Windhoek Buitekluboord presteer weer

Windhoek Buitekluboord presteer weer

Ander staatsondernemings moet in die voetspore van dié maatskappy volg deur beter bestuur en wins te toon, meen ministers Leon Jooste en Pohamba Shifeta.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Ondanks uitdagings en opgraderings by die hotel, het die Windhoek Buitekluboord Woensdag dividende van N$5 miljoen aan die regering betaal.

Die voorsitter van die raad, Sven Thieme, wat die jaarlikse finansiële resultate aangekondig het, is tevrede met die maatskappy se omset wat met 4,26% in die 2015-''16-boekjaar gegroei het.

Tog is die bruto bedryfswins vir dié boekjaar N$43 miljoen, N$1 miljoen minder teenoor die vorige boekjaar se N$44 miljoen weens hoër bedryfskostes, volgens Thieme.

Die voedsel- en drankdepartement het sy omset met 8% verhoog met ''n sterk wins van N$9,9 miljoen.

Die minister van staatsondernemings, Leon Jooste, het gesê die rede vir die maatskappy se ommekeer is danksy die gehalte van die leierskap: “Die Windhoek Buitekluboord kan as ''n model gebruik word oor wat gedoen kan word en ander staatsondernemings kan in sy voetspore volg.”

Hy sê sy ministerie fokus daarop om die gebrek aan effektiwiteit by ander staatsondernemings uit te wis.

Die minister van die omgewing en toerisme, Pohamba Shifeta, het ook sy hoop uitgespreek dat ander semi-staatsondernemings soos Namibia Wildlife Resorts (NWR) en Air Namibia so goed soos die Windhoek Buitekluboord bestuur moet word, wins moet maak en nie van die regering leen nie.

“Die ekonomie, plaaslik en internasionaal, vaar nie so goed nie, maar met die toerismebedryf wat groei, moet ons ons mense oplei om kliëntediens in Namibië te verbeter. As toeriste nie goed behandel word nie, sal hulle iewers anders heen gaan,” het Shifeta gemaan.

Thieme sê volgens die Wêreld Reis- en Toerismeraad (WTTC) is Namibië op die lys van lande wat in die toerismesektor die meeste tot die bruto binnelandse produk (BBP) tussen 2015 en 2025 kan bydra.

Kameromset by die Windhoek Buitekluboord het dieselfde teen N$32 miljoen gebly met die gemiddelde kamertarief wat met 7% gestyg het. Kamerbesetting is dieselfde as die vorige jaar, al is ''n groot aantal kamers dié jaar opgradeer.

Die omset uit dobbel het met 5% afgeneem “weens die rookwette van die land waar rook in die casino verbied word, nuwe mededingers in die dobbelbedryf en hoë inflasietariewe in 2015-''16 wat tot laer besteding van kliënte gelei het,” het Thieme gesê.

Die oorhoofse omset het met 1,2% gedaal en bruto marges vir die jaar was N$80 miljoen.

Thieme het ook aangekondig die hotel is besig met ''n totale opgradering van al 152 kamers teen ''n koste van N$56,9 miljoen wat in April begin het en in dieselfde maand volgende jaar voltooi sal wees.

“Die projek is deur maatskappy se eie kontantreserwes gefinansier en ons hoef nêrens geld hiervoor geleen het nie,” het Thieme gesê.

Hy het gesê die casino se toilette, kroeg, deli en ingang, asook die Kokerboom-restaurant gaan tydens die huidige boekjaar teen ''n beplande koste van N$3 miljoen opgradeer word en teen April 2017 voltooi wees.

Nóg goeie nuus is sonpanele op die dak van die hotel teen ''n koste van N$4 miljoen wat deur ''n Namibiese maatskappy geïnstalleer gaan word. Dié projek sal volgens Thieme in die eerste twee maande van die nuwe jaar begin.

“Ons verwag dat die projek ''n aansienlike verskil in ons elektrisiteitsverbruik sal maak,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!