Windhoek dop sy oudit
Windhoek dop sy oudit

Windhoek dop sy oudit

Windhoek-munisipaliteit se finansiële state van die afgelope twee jaar is deurspek met foute.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die ouditeur-generaal, mnr. Junias Kandjeke, sê daar bestaan wesenlike onsekerheid oor Windhoek-munisipaliteit se solvensie in die toekoms.

Hy wys in die ouditeursverslag vir die finansiële jare geëindig op 30 Junie 2019 en 30 Junie 2020 daarop dat die huidige laste van meer as N$2,3 miljard (2019: sowat N$2,4 miljard), die bates van sowat N$1,1 miljard (2019: sowat N$1 miljard) met N$1,3 miljard oorskry.

Kandjeke weerhou in die verslag ’n ouditmening en verduidelik waarom ’n vrywaring nodig is. Dit beteken in geoktrooieerde rekenmeesterstaal hy kan nie met sekerheid sê die finansiële state van die hoofstad se munisipaliteit bevat nie wesentlike wanvoorstellings nie.

Een van die kwessies wat hom bekommer, is die feit dat die munisipaliteit nie die klomp eissake teen hom wat tot verliese van meer as N$124 miljoen kan lei, in die finansiële state openbaar het nie. Hy sê die moontlikheid dat die munisipaliteit soveel moet opdok as hy die eise teen hom verloor, is deur sy regsverteenwoordigers bevestig.

Die ouditeur-generaal wys ook daarop die waarde van eiendomme, aanlegte en toerusting word met N$32,8 miljoen (2019: N$34 miljoen) oorskat. Dit is daaraan te wyte dat die grootte van grond en die waarde daarvan in die bateregister, verskil van die waardes in die sogenaamde E-beplanner.

Kandjeka is verder bekommerd oor die gebrek aan bewyse dat die munisipaliteit batebestuursbeleid toepas met betrekking tot die klassifikasie van grond wat in die gewone verloop van sake verkoop sal word, of wat ontwikkel en dan verkoop sal word. Dit blyk eiendomme wat die munisipaliteit beplan om te verkoop, word nie op die bateregister aangedui nie.

Net so word grond wat in vennootskap met private ontwikkelaars ontwikkel word, ook nie op die bateregister aangedui nie.

Hy wys in sy vrywaring ook op talle ander foute in die finansiële boekhouding van die munisipaliteit.

Nog ’n kwelpunt is dat die munisipaliteit se inligtingstelsels, insluitend dié vir die betaling van salarisse en die heffing van boetes, nie in die laaste vyf jaar geoudit is om vas te stel of dit reg werk nie.

Kandjeke sê die finansiële state wat aan hom voorgelê is om geoudit te word, voldoen nie aan die vereistes wat ingevolge internasionale standaarde vir die boekhouding in openbare instellings gestel word nie.

Dié jaarverslae is verlede week in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer