Windhoek Gim gaan 2021 in Japan speel
Windhoek Gim gaan 2021 in Japan speel

Windhoek Gim gaan 2021 in Japan speel

’n Besondere toergeleentheid wag op die Gim-Leeus se eerste span.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Windhoek Gimnasium is deur die Namibië Rugbyunie (NRU) aangewys om die land volgende jaar by die Global Arena in Munataka, Japan, by die jaarlikse Sanix-wêreldjeugrugbytoernooi te verteenwoordig.

Nadat die Japanse Rugbyvoetbalunie (JRFU) die 2020-toernooi, wat vanaf 28 April tot 5 Mei sou plaasvind, noodgedwonge weens Covid-19-inperkings moes kanselleer, het die JRFU besluit om sy voorlopige 2021-datums vir die gesogte kompetisie in sy Goue-week aan te kondig.

Volgende jaar se toernooi sal van 26 April tot 6 Mei aangebied word. Ongeveer 13 000 seuns het die afgelope 20 jaar aan die Sanix-toernooi deelgeneem.

Die JRFU se doelwit met dié toernooi is om rugby in Japan te bevorder en gesonde ontwikkeling by die jeug deur middel van kulturele uitruiling aan te moedig.

Soos die gebruik is, het die JRFU as gasheer die NRU genader om Namibië se topvyf o.19-skoolspanne vir ’n voorlegging te nader, waaruit een skool aangewys moet word.

Omrede geen skolerugby vanjaar in die o.19 Momentum Raadsbeker gespeel is nie en net ’n handjievol vriendskaplike wedstryde, het die NRU die voorste vyf o.19-spanne van 2019 versoek om elk ’n voorlegging te doen.

Dié topvyf skole was Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool, Rubicon Tsumeb Gimnasium, Samsung Windhoek Hoërskool (WHS), KMC/JCC Windhoek Afrikaanse Privaatskool (o.19-Superligakampioen van 2019 en 2018), asook Schoemans-groep Windhoek Gimnasium.

Slegs Affies en Windhoek Gimnasium het op die NRU se uitnodiging gereageer en voorleggings is op 2 Desember gedoen, waarna die paneel op Gimmies besluit het.

Die oorwegings soos deur die JRFU bepaal waaraan die kwalifiserende skool moet voldoen, sluit in:

1 Die voordele wat die skool uit hul deelname sal put;

2 Die skool moet finansieel die toerkoste dra;

3 Die samestelling van die span volgens demografie;

4 Die skool sal self die toer na Japan moet reël;

5 Die rol wat die skool in die plaaslike gemeenskap en maatskaplike verpligtinge speel.

Volgens die NRU het mnre. James Camm (raadslid van die NRU en voorsitter van die NRU se hoëprestasiesentrum), Jannie Potgieter (die Namibiese Skolesportunie se verteenwoordiger op die NRU-raad), Theo Grunewald (waarnemende uitvoerende hoof van die NRU) en me. Jo-Anne Krohne (NRU-raadslid), die skole se voorleggings beoordeel.

Die deelnemende spanne mag slegs spelers uit eie geledere gebruik. Die seuns moet ná 1 Januarie 2003 gebore wees en moet Namibiese burgers wees.

Die JRFU sal wel tydens die toernooi verblyf asook drie etes per dag aan 30 spelers en vier beamptes voorsien, asook vervoer vanaf die Fukuoka-lughawe en daagliks tussen die span se hotel en die Global Arena. Alle koste vir amptelike funksies en geleenthede sal deur die JRFU gedra word, asook mediese sorg vir beserings opgedoen tydens wedstryde.

Slegs agt buitelandse spanne kry die geleentheid om teen dieselfde aantal Japanse skole uit te draf, terwyl vier internasionale meisiespanne teen Japanse eweknieë vir sewesrugby sal opdraf.

Janneman Brand, produk van Hoërskool Academia wat in sy speeldae as agtsteman vir die destydse SWA o.18 Cravenweekspan, Maties, Westelike Provinsie, Springbok-sewesspan en Sale Sharks (Engeland) gespeel het, is einde 2019 by Gimnasium as hoofafrigter aangestel.

Brand sê: ““Ons is die eerste skool van Namibië wat aan die Sanix-toernooi gaan deelneem. Dit is vir ons ’n geweldige groot eer en voorreg om as ambassadeurs van Namibië na Japan te gaan. Ons verteenwoordig eerstens ons land en dan die skool.

“Ons sien vreeslik daarna uit en het reeds met voorbereidings begin. Ons het proewe gehou en 36 spelers gekies waarmee ons sal werk. Vroeg volgende jaar sal ons die finale 30 spelers aankondig wat in Japan sal speel.

“Dit is vir die seuns ’n groot geleentheid om teen top- internasionale skole te speel en as platform vir hul toekoms te dien. Vir ons as ’n ontwikkelende span en land gaan dit ’n taai toernooi wees, want die res van die wêreld se topskole word genooi.

“Vir die seuns dien dit as die ideale geleentheid om hulle as mens te ontwikkel. Dit gaan nie net daaroor om bekers te wen nie, ons wil graag ’n seun se karakter ontwikkel om eendag in ons land ’n positiewe rol en bydrae in die gemeenskap te lewer.

“Ons is geweldig trotse Namibiërs en sal die voorreg gebruik om ons land met onderskeiding op en van die rugbyveld af te verteenwoordig.”

Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch in die Wes-Kaap is die mees onlangse wenner (tweede titel), terwyl Hamilton Boys' High School van Nieu-Seeland die meeste kere (drie) as wenner van dié kompetisie na vore getree het.

The King's School (Australië) het met die eerste toernooi in 2000 vir Paul Roos Gimnasium met 28-5 in die eindstryd geklop. Paul Roos was in 2015 met 35-3 teen Brisbane Boys' College baas en in 2019 het hulle St. Peters College van Nieu-Seeland met 52-5 in die finaal afgeslag.

Ander Suid-Afrikaanse skole wat oor die jare in aksie was is: Grey College in 2001 (Bloemfontein), Hoër Landbouskool Boland in 2002 (Paarl en wenner), Hoërskool Monument in 2006 (Pretoria), Hoërskool Glenwood in 2008, 2009 en 2016 (Durban, wenner 2008), Hoërskool Framesby in 2017 en 2018 (Port Elizabeth), St. Alban's College in 2003 (Pretoria), Hoërskool Ermelo in 2004 (Ermelo), Hoërskool Waterkloof in 2005 (Pretoria), Paarl Boys' High School in 2011, Hoërskool Marais Viljoen in 2010 (Alberton) en HTS Daniel Pienaar in 2013 (Uitenhage).

As wenner van die 2019-kompetisie sal Paul Roos volgende jaar weer by die toernooi sy merk wil maak. - [email protected]





[TvL1]



Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch is die mees onlangse wenner van die Japan-toernooi (tweede titel), terwyl Hamilton Boys’ High School van Nieu-Seeland die meeste kere (drie) as wenner na vore getree het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!