Windhoek: Grondtransaksie 'onverskillig'
Windhoek: Grondtransaksie 'onverskillig'

Windhoek: Grondtransaksie 'onverskillig'

Die verkoop van openbare eiendom op grond van 'n ondernemingsbrief sonder 'n deeglike waarborg van die beskikbaarheid van fondse is as 'onrusbarend en ontstellend' beskryf.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



'n Hof het bevind Windhoek se munisipaliteit het erg tekort geskiet in sy hantering van die verkoop van 'n openbare bate aan Zest Investments Seventy Three CC.

Dié onderneming het sy lang stryd om 'n gesogte stuk grond van 5 277 vierkante meter in die hoofstad te bekom einde Junie verloor.

Dít toe hoërhofregter Boas Usiku bevind het die onderneming het nie gehoor gegee aan die koopkontrak wat hy met die munisipaliteit aangegaan het nie.

In November 2015 het die munisipale raad besluit om dié ooreenkoms te kanselleer nadat Zest Investments nie daarin kon slaag om 'n bankwaarborg vir die volle koopsom van N$8,6 miljoen te voorsien nie.

Die eiendom is toe teen N$9,5 miljoen, insluitende BTW, aan Quiver Tree 26 CC toegeken.

Zest Investments het hierdie besluit uitgedaag en aangevoer die munisipaliteit het die wesenlike bepalings van die kontrak oortree en dat Zest ­Investments inderdaad vir die koopsom getender het.



ONDERNEMINGSBRIEF

Die onderneming het hierdie bewering gemaak op grond van 'n ondernemingsbrief wat hul prokureurs aan die munisipaliteit voorgelê het.

Tydens die hofverrigtinge het mnr. Elli Shipiki, hoof van die munisipaliteit se eiendomsbestuursafdeling, getuig hy het die koopkontrak namens die munisipaliteit se uitvoerende hoof met Zest Investments onderteken.

Hy het ook bevestig hy het Zest Investments se regsverteenwoordigers opdrag gegee om die oordrag van die eiendom, op grond van die ondernemingsbrief, te behartig.

Shipiki het gesê hy het die brief aanvaar omdat die munisipaliteit ondernemingsbriewe as betalingsinstrument van die koopsom aanvaar.

Maar Usiku sê 'n ondernemingsbrief waarborg nie die betaling van die koopsom by die oordrag van eiendom nie.

Slegs iemand wat fondse beskikbaar het of wat die beskikbaarheid daarvan kan waarborg, kan betaling verseker, het die regter gesê.

Hy het bygevoeg die brief waarborg niks in terme van die koopkontrak nie en die munisipaliteit het dus die reg om dit te kanselleer.

Die regter het gesê die saak het ver­skeie “ontstellende feite” rakende die verkoop van openbare eiendom uitgelig.

Hy het gesê die munisipaliteit het die koopkontrak klaarblyklik mondelings aangepas en Zest Investments is toegelaat om dit deur te voer sonder die nodige bewys van 'n ­goedgekeurde lening.

Boonop is die ondernemingsbrief aanvanklik as 'n “goeie waarborg” beskou, het Usiku gesê.

Hy het gesê dit is “baie kommerwekkend en ontstellend” dat die ­munisipaliteit so 'n praktyk aanvaar het, veral omdat dit die verkoop van openbare bates behels, wat alle belastingbetalers raak.

“Om vaste eiendom op so 'n roekelose manier te hanteer is om kanse met openbare bates te vat. Dit is 'n ontduiking van die verantwoordelikheid wat die publiek (aan die munisipaliteit) toevertrou,” het Usiku gesê.

Hy het opdrag aan die registrateur van die hoërhof gegee om 'n afskrif van sy beslissing aan Windhoek se munisipaliteit te stuur “in die hoop dat herstellende stappe gedoen word”.

Kommentaar

Republikein 2025-03-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer