Windhoek 'in gróót moeilikheid'
Die moeras waarin die Windhoekse munisipaliteit homself bevind, ken geen einde nie.
Denver Kisting – Terwyl die verbruiker voortaan tot 300% meer vir sekere dienste moet opdok, het die stadsvaders van die Windhoekse munisipaliteit (CoW) pas ’n salarisverhoging van 8% vir hulself goedgekeur.
Dít kom ondanks die feit dat die huidige inflasiekoers van die land 4% beloop.
Die Namibië Statistiekagentskap (NSA) het onlangs dié jongste inflasiekoers vrygestel, wat die helfte minder is as CoW se salarisverhoging van nielede van die bedingingseenheid.
Die salarisverhoging is sedert Sondag 1 Julie vanjaar van krag – dieselfde dag toe die talle tariefverhogings in werking getree het.
Munisipale werknemers wat lid is van die bedingingseenheid ontvang kragtens ’n ooreenkoms met die vakbond ’n salarisverhoging van 9%.
Volgens mnr. Jerome Davis, CoW se strategiese uitvoerende hoof van finansies, is dié ooreenkoms vir ’n tydperk van twee jaar geldig.
Die tweede jaar het ook op 1 Julie afgeskop.
Davis het voorts onthul CoW se begrotingstekort op sy bedryfsbegroting beloop nagenoeg N$650 miljoen.
Windhoekers, wat ingevolge die onlangse tariefverhogings meer moet opdok vir onder meer waterverbruik, parkering, begrafnisse en verassings en die gebruik van munisipale swembaddens, sal voortaan vir krag ook meer moet betaal.
Davis sê in dié verband het die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) ’n verhoging van 7,6% goedgekeur.
Oor die onlangse prysstygings sê Davis: “Die meeste hiervan maak seer.”
Maar, sê hy, dié verhogings is genoodsaak, omdat baie van die geraakte dienste se pryse vir die afgelope 10 jaar onveranderd gebly het.
Davis was die gasspreker tydens die algemene jaarvergadering van die Windhoek Inwoners- en Belastingbetalersvereniging (WRRS) Woensdagaand.
Hoewel CoW nie bankrot is nie “het dit ’n reuse-uitdaging wat kontantvloei betref”.
“Van ’n kontantvloeiperspektief is die stad in die moeilikheid. Ons het nie kontant nie,” sê hy.
CoW spring die etiket van bankrotskap vry omdat sy laste nie sy bates oorskry nie.
Dít, sê Davis, het CoW te danke aan die groot hoeveelheid grond in sy besit.
Volgens CoW se vastebateregister vir die boekjaar geëindig 30 Junie vanjaar het hy 600 000 items.
Davis sê hoewel die vraag na wêreldgehalte geriewe toeneem, steun CoW “op ’n paar individue wat betaling respekteer vir dienste wat hulle ontvang”.
Vanweë CoW se munisipale klassifikasie moet hy die pyp probeer rook sonder wesenlike ondersteuning van die sentrale en streekregering, het Davis voorts gesê.
Veral wat die 120 000 mense in informele nedersettings betref, moet CoW alleen die wa deur die drif probeer trek. “Dit is ’n reuse-uitdaging wat sonder hulp op die skouers van CoW rus. Dit kan nie oornag aangespreek word nie.”
Windhoek het in dié stadium ’n bevolking van sowat 400 000 mense. Dít beteken meer as ’n kwart van sy inwoners woon in informele nedersettings.
Die stad se bevolkingsgroei is tans 3,1% per jaar vergeleke met die nasionale bevolkingsgroei van 2,6%.
“Windhoek lok inwoners van oraloor wat aanvullende uitdagings vir die stad teweeg bring. Al hierdie aanvullende uitdagings moet befonds word.”
CoW het onlangs sowat N$191 miljoen se slegte skuld van weerlose inwoners, soos bejaardes, afgeskryf op voorwaarde dat voorafbetaalde meters geïnstalleer word om te verhoed dat skuld weer ophoop.
Davis het Woensdagaand gesê CoW sal vir dié meters betaal.
Volgens Davis bevind CoW hom in die geldknyp weens “’n aantal jare van meer (geld) bestee as wat inkom, en mens stel dít nie as ’n voorval reg nie – dit is ongelukkig ’n proses en dit is ’n pynlike een”.
Op die kapitale begrotingsfront gaan dit selfs slegter, sê Davis.
Hoewel die Gammams-watersuiweringsaanleg baanbrekerswerk verrig, is die N$1 miljard nie beskikbaar om vir sy opgradering te betaal nie.
“Hoe sal ons dit befonds? Goeie vraag,” sê hy.
Een van die grootste struikelblokke is die feit dat Windhoek nie oor ’n langtermynmodel beskik wat finansiering uiteensit nie, sê hy.
CoW stoei tans om dié plan te beraam, wat die rigting vir die volgende 10 tot 20 jaar moet help bepaal.
Daarmee sal hulle dan geld kan probeer soek om vir al die planne te betaal, sê hy.
Daar word voorsiening vir ’n oorskot van N$20 miljoen in die nuwe elektrisiteitsbegroting gemaak.
Dié 10%-druppel in die krag-emmer moet help betaal vir kapitale projekte ten bedrae van N$200 miljoen.
Verlede jaar moes CoW vir lief neem met ’n laer kragtariefverhoging van die ECB aan hulle as dít wat NamPower ontvang het, sê Davis.
“Dit skep ook probleme.”
CoW het tans sowat 3 500 werknemers in sy diens.
Die grootste gedeelte van munisipale heffings is om ondersteuningspersoneel te betaal, sê Davis.
Hy sê voorts die kantoor van die uitvoerende hoof, mnr. Robert Kahimise, die burgemeester, mnr. Muesee Kazapua, en hul ondersteuningsdienste kos CoW N$205 miljoen per jaar.
Die finansiesafdeling en kliëntediens kos N$170 miljoen, terwyl N$100 miljoen elk vir menslike hulpbronne en inligtingstegnologie begroot word.
Vervoer en streekbeplanning jaag die stad N$200 miljoen uit die sak, terwyl die stadspolisie N$338 miljoen verg.
Afleggings is nie volgens sy kennis in dié stadium ter sprake nie, hoewel 60% van bestaande vakatures gevries is, het Davis gesê.
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, dr. Peya Mushelenga, en sy adjunk, mnr. Derek Klazen, kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie