Windhoek mu00f3u00e9t steeds water bespaar
Windhoek mu00f3u00e9t steeds water bespaar

Windhoek móét steeds water bespaar

Owerhede was gerat vir die toestroming van vakansiegangers na die Noorde en kusgedeeltes; geen ernstige wateronderbrekings of -tekorte is ervaar nie.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith - Windhoek se waterowerhede is tevrede met die lae watergebruik tydens die vakansieseisoen, maar vra dat inwoners steeds by die besparingsteiken van 5% tydens die warm somerdae hou.

“Alhoewel waterverbruik laag oor die afgelope week was, heers daar groot kommer dat waterverbruik teikens sal verbysteek in die komende weke weens die warm en droë weerstoestande,” het me. Lydia Amutenya, die Windhoek-munisipaliteit se woordvoerder, onlangs aan Namibian Sun gesê.

Die munisipaliteit waarsku dat dit moeilik is om die invloei van water in sentrale damme tydens hierdie reënseisoen te voorspel. Daarom word alle stadsbewoners aangemoedig om water te bespaar en volhoubare maatreëls in te stel sodat nie meer as 90 liter water per persoon per dag in woon- en sakegebiede gebruik word nie.

“Omdat geen bykomende waterbronne tans water aan sentrale Namibië kan verskaf nie en die watervraag voortdurend verhoog, gaan volhoubare gebruik en –bestuur ’n leefwyse raak vir verbruikers wat in dié dele woon.”

Die munisipaliteit hou ook klimaatstoestande dop en waarsku dat in ’n geval van ’n droogte straftariewe vir huishoudelike verbruikers volgens ’n bepaalde waterverbruikersindeks ingestel sal word. Dit sal toegepas word wanneer ’n huishouding meer as 20 kiloliter per maand gebruik. Terselfdertyd sal geen afslag tydens droogtetoestande toegestaan word nie.

Tans kan beperkte afslag vir waterlekkasies slegs in die volgende twee maande gegee word.

“Verbruikers word aangemoedig om hul watermeters gereeld te lees om so finansiële laste weens lekkasies te voorkom,” het Amutenya gesê.

Die weeklikse vloedbulletin wat deur die Namibië Hidrologiese Dienste uitgereik is, het bevestig dat onlangse satellietbeelde geen reën oor Namibië en Botswana waargeneem het nie, terwyl goeie reënneerslae oor die westelike, sentrale en oostelike dele van Angola voorgekom het.

NamWater se weeklikse damverslag wat op 8 Januarie uitgereik is, toon dat die Von Bachdam tans 59,6% vol is, die Swakoppoortdam staan op 40,5% en die Omatakodam op 0,2%.

Die Nautedam staan op 72,3%, die Oanobdam op 72,3% en die Hardapdam op 44,2%.

Die Zambezirivier se vlakke by Katima Mulilo hou aan styg en staan nou op 1,2 m. Riviervlakke is hoër as dieselfde tyd verlede jaar. Die Okavangorivier staan tans op 4,32 m by Rundu en sy vlakke is laer as dieselfde tyd verlede jaar.

ONTSOUTE WATER HELP SWAKOP

Terselfdertyd het Swakopmund, waarheen baie mense tydens die vakansietydperk gaan, nie watertoevoerkwessies tydens die feesseisoen ervaar nie, danksy bykomende ontsoute water wat aangekoop is.

Me. Norika Goaises, die Swakopmund-munisipaliteit se woordvoerder, het aan Namibian Sun gesê alhoewel die dorp baie besoekers ontvang het, is geen watertekorte ervaar nie.

Die munisipaliteit samel nog presiese waterverbruiksyfers vir Desember en Januarie in, maar volgens Goaises was hulle voorberei vir die jaarlikse toestroming van mense.

In Walvisbaai het waterverbruik oor Desember verlaag en was dit minder as die afgelope drie maande, het owerhede gesê.

Me. Grace Amunyela, woordvoerder van Walvisbaai se munisipaliteit, het gesê tussen 22 Desember en 11 Januarie is ’n geskatte 17 973 m³ water gebruik, wat sowat 16% minder is as wat daagliks in November op die dorp gebruik is. In November en Oktober is onderskeidelik gemiddeld 21 331 m³ en 18 617 m³ per dag gebruik.

Die syfers sluit watertoevoer na Namport uit.

NOORDE SE VAKANSIE-DORS GOED HANTEER

Ondanks water wat skaars is, het noordelike dorpe daarin geslaag om ononderbroke dienste oor die feesseisoen verseker.

Die groot toestroming van mense na die Noorde tydens Desember plaas groot druk op bronne vir drinkwater, maar sleuteldorpe in die gebied sê die situasie is goed hanteer en dat watertoevoer nie onderbreek is nie.

In ’n NamWater se omsendbrief in Desember is gesê dat die noordelike bevolking jaarliks “styg en 50% van die land se bevolking gedurende die feestyd oorskry”.

Buiten Outapi, waar water soms verkleur was omdat behandelingsaanlegte oorlaai is, was watertoevoer ononderbroke. Op Oshakati, waar daar na raming tussen 5 000 en 10 000 besoekers tydens Desember opdaag, het die stadsraad vroegtydig stappe gedoen om ’n bestendige watertoevoer te verseker.

Ondangwa, met ’n algemene bevolking van sowat 23 000 mense volgens 2011 se sensus, het ook merkbaar meer mense in Desember gehuisves, maar geen struikelblokke of tekorte is tydens die feesseisoen ervaar nie, het die dorp se woordvoerder, me. Petrina Shitalangaho, gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!