Windhoek praat besigheid

Die hoofstad se burgemeester het 'n beroep op die sakegemeenskap gedoen om meer betrokke by die stad se ontwikkeling te wees.
Augetto Graig
Augetto Graig



Windhoek se munisipaliteit het die sakegemeenskap se samewerking nodig om gebalanseerde ontwikkeling en 'n sterker ekonomie in die hoofstad te bevorder.

Die burgemeester, mnr. Muesee Kazapua, was gister in sy noppies met die goeie opkoms by sy tweede besigheidsforum vanjaar, wat in samewerking met die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) plaasgevind het.

Die geleentheid is op die laaste nipper na die GZ-konferensiesentrum verskuif om die teenwoordige sakeleiers te kan huisves.

Kazapua het die hoofstad se sakegemeenskap geprys vir hul veerkragtigheid te midde die ekonomiese knyptang en voortsleepende droogte.

Hy het na ontwikkelings buite Windhoek as bronne van aansporing verwys – veral die Grove Mall en die padwerke tussen Windhoek en die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, en tussen Windhoek en Okahandja.

“My kommer is dat daar net ontwikkelings aan dié kant is. Wat van verder noord? Baie van ons mense bly daar. Dit is hoog tyd dat ek die sooispitseremonie van 'n reuse- gemengde ontwikkeling in Katutura bywoon,” het hy gesê.

“Ons wil daar ook ontwikkeling sien en ons eie Grove Mall in Katutura om dienste nader aan die mense te bring,” het hy gesê.

Kazapua sê Namibiërs moet krities en strategies oor gebalanseerde ontwikkeling dink.

“Daar is geen manier waarop ek 'n stad kan bestuur wat nie gebalan­seerd is nie,” sê hy.

Mnr. Robert Kahimise, die munisipaliteit se uitvoerende hoof, het statistiek oor tendertoekennings en Windhoek in die algemeen gedeel.

Volgens hom is die stad 'n “olifant” van 'n onderneming, met meer as 3 000 werknemers en 'n ­bedryfsbegroting van tussen N$5 miljard en N$6 miljard 'n jaar.



uitdagings

Van die hoofstad se meer as 400 000 inwoners bly 'n derde in informele nedersettings.

Verouderde infrastruktuur, wat veroorsaak dat pype dikwels bars, en 'n toename in verstedeliking is die twee hoofuitdagings wat die hoofstad in die gesig staar, het hy gesê.

Kahimise sê tussen Julie en September vanjaar het die stadsraad 22 tenders ter waarde van sowat N$261 miljoen toegeken.

Dit sluit in tenders vir dienste soos sekuriteit, advertensies, vullisverwydering, die instandhouding van geboue, sanitasie en bekostigbare behuising.

Hy sê tenders om laekostebehuis­ing tussen Monte Christoweg en die Ongos-ontwikkeling op te rig, is weens klein winsgrense deur plaaslike ondernemings geïgnoreer.

“Ons kan huise vir minder as N$100 000 bou as ons nie grondkoste insluit nie. Maar julle stel nie daarin belang nie. As ons nie ingryp nie, kan ons maar vergeet van bekostigbare behuising in die stad.”

Windhoek se munisipaliteit beplan meer laekostebehuisingsprojekte met konvensionele en alternatiewe boumetodes, het Kahimise gesê.

Teen die einde van Februarie 2020 sal nog N$350 miljoen se tenders deur die hoofstad uitgereik word.

Dit sal tenders vir die rehabilitering van informele nedersettings insluit, asook vir die bou van kragverspreidingsubstasies, die installering van elektriese meters, die bou van paaie, waterverskaffing, ontbossing en die vestiging van nuwe nedersettings.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!