Windhoek se krane dalk oor twee seisoene leeg

’n Maatskappy het met ’n oplossing vir groot waterbesparings na vore gekom.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Windhoek het genoeg water om twee reënseisoene te dek, indien dit bykomende waterbronne in die Noorde, asook die Windhoek-akwifer onvolhoubaar gebruik én inwoners 5% water kan bespaar.

Namwater sê egter die huidige beskikbare water sal nie drie jaar hou nie. Selfs om twee jaar te haal, sal beteken die Von Bachdam se dooie bergingwater moet gebruik word.

NamWater se bestuurder van hidrologie, mnr. André Mostert, het gesê volgens die modellering behoort die beskikbare water tot April 2021 te hou.

Hy het die syfers gister tydens ‘n waterseminaar in Windhoek bekend gemaak.

“Die drie jaar-scenario vereis ‘n 8%-besparing. Met ‘n bykomende 3,500 Mm³ (miljoen kubieke meter) wat per jaar vanaf die Noorde gepomp word en selfs as ons 11,000 Mm³/jaar uit die Windhoek-akwifer pomp, kan ons steeds nie drie seisoene oorbrug nie.

“Ons vertrou egter dat daar in die volgende twee reënseisoene ‘n mate van waterinvloei in die damme sal wees,” het Mostert gesê.

AKWIFER STRAF GEBRUIK

“Ons is egter bekommerd dat as ons - soos uit noodweer beplan – só baie water uit die akwifer onttrek, dit teen April 2022 leeg kan wees en die dam ook leeg kan wees. Die probleem is dat die akwifer nie oornag opvul nie,” het Mostert gesê.

Hy het verduidelik daar is nie sekerheid oor hoe die akwifer op die onvolhoubare gebruik sal reageer nie. Boonop sal dit hierna jare neem om te herstel.

“NamWater doen rekenaarmodellering volgens die ergste scenario van geen invloei in damme nie – en wil graag sien dat ons altyd genoeg water vir minstens twee reënseisoene in die damme oor het.”

Hy het gewys dat daar op 4 Junie altesaam 52,269 Mm³ (miljoen kubieke meter) water oor was in die damme wat Sentraal-Namibië van water voorsien – nie eers genoeg om Windhoek se vraag na water oor twee jaar te dek nie.

“Dit beteken ons gaan moet staatmaak op bykomende bronne, soos herwonne water, water wat vanuit die Noorde gepomp word, asook water uit Windhoek se akwifer.”

NEOPERL BIED OPSIE

Intussen meen die Switserse maatskappy Neoperl dat hulle Windhoek ‘n eenvoudige oplossing kan bied wat ‘n groot verskil in waterbesparings kan maak – veral wanneer tyd en geld beperk is.

Hulle vervaardig vloeireguleerders en kraanbelugters, en die installasie hiervan het byvoorbeeld in Australië 100 gigaliter water in een jaar help bespaar.

Die maatskappy se visepresident, mnr. Armin Tettamanti, het tydens die waterseminaar gesê die stad Kuwait het 1,2 miljoen van hul kraanbelugters gratis in huise laat installeer en kon daarna van hul planne om ‘n ontsoutingsaanleg te bou afsien.

“’n Ontsoutingsaanleg is ontsettend duur, kan verreikende gevolge vir die omgewing inhou en vereis ‘n groot hoeveelheid elektrisiteit,” het hy gesê. Hy het gesê die installasie van kraanbelugters en –reguleerders is baie goedkoper as die bou van ‘n ontsoutingsaanleg.

“In die Verenigde Arabiese Emirate het ons by hul Jebel Al-werkerskampe in 180 geboue van die belugters en reguleerders in krane laat installeer. Altesaam 32 000 werknemers werk in hierdie geboue en hul waterrekening was sowat 8 miljoen Amerikaanse dollar per jaar.

“Die installasiekoste was 1,2 miljoen Amerikaanse dollar. Nie net het hulle onmiddellik 35% water bespaar nie, maar binne 18 dae hul koste verhaal met die besparings,” het hy gesê.

‘n Soortgelyke eksperiment is in munisipale geboue in Durban gedoen en waterbesparings van 40% is gemaak.

Hulle het ook voorgestel Namibië stel bouregulasies op vir hoeveel water per minuut deur onder meer krane, storte en toilette kan vloei.

Hul reguleerders kan watervloei afbring na enigiets van 2 tot 8 liter per minuut, waar die gemiddelde kraan in Windhoek 18 liter water per minuut laat deurvloei.

Neoperl word ook in Namibië deur Pearl Waterfree verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!