Windhoek se vyfjaarplan
Windhoek se vyfjaarplan

Windhoek se vyfjaarplan

Augetto Graig
Augetto Graig - Enkele weke ná Windhoek se munisipaliteit sy jaarlikse begroting van N$4,69 miljard vir 2017-'18 bekend gestel het, is die hoofstad se strategiese omkeerplan in die hoofstad bekend gemaak.
“Soos inwoners se behoeftes en doelwitte verander, verander die rol van plaaslike owerhede in 'n hoogs kompeterende omgewing ook. Ons kan nie voortgaan met wat ons die afgelope 20 jaar gedoen het en 'n ander uitkoms verwag nie," het die burgemeester, mnr. Muesee Kazapua, gemaan.
Die bekendstelling van die omkeerplan is ook deur me. Laura McLeod-Katjirua, goewerneur van die Khomasstreek, me. Rachel Jacob, streeksraadvoorsitter en me. Sophia Shaningwa, minister van stedelike en landelike ontwikkeling, bygewoon.
Windhoek beslaan tot 98% van die Khomasstreek, en die plan is in samewerking met die ministerie, asook streeksleierskap opgestel.
Om die hoofstad te omskep in 'n "slim stad wat omgee", word onder meer op gevorderde tegnologie, beste praktyke, asook 'n groen en skoon stad gefokus.
“Dit is nie sake soos gewoonlik nie. Ons moet aanspreeklik wees en skoon oudits hê,” het Kazapua gesê.
Met die toepassing van prestasie-ooreenkomste en 'n nuwe telkaart vir die stadsraad wil Kazapua seker maak “ons is nie hier vir eie belang nie, maar om ons mandaat uit te voer”.
Deel van die vyfjaarplan is die afskryf van 'n gedeelte van die stad se uitstaande skuld van N$500 miljoen.
Ook moet 'n nuwe raamwerk vir ontwikkeling binne die Windhoek-ruimte opgestel word, terwyl fokus ook op die gebruik van die internet vir kommunikasie met stadsvaders sal val.
Sowat N$25 miljoen is opsy gesit vir die opgradering en proklamering van informele nedersettings, asook vir kragvoorsiening en sanitasie oor die volgende twee jaar.
Die stad se uitvoerende hoof, mnr. Robert Kahimise, het gesê die plan behels 17 strategiese doelwitte wat verder in 31 sleutelgebiede verdeel is.
Die doelwitte is gekoppel aan merkers wat vordering sal monitor. Die doelwitte sluit onder meer in beter kliëntediens, slimmer aankope, die gebruik van kommunikasietegnologie, nuwe inkomstebronne, slim openbare vervoer, bemagtiging van jeug, beter toegang tot dienste, ondersteuning van toerisme, handel en beleggings, asook die verskaffing van meer gedienste erwe.
Noodsaaklike finansiering sal deur die ontwikkeling van 'n finansieringsmodel vir vyf tot 10 jaar uitgewerk word. Die begroting vir 32 beplande projekte, programme en inisiatiewe sal van jaar tot jaar hersien word.
Met verwysing na openbare vervoer word 'n trein genoem wat die middestad moontlik met onder meer Okahandja en Rehoboth kan verbind.

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer