Windhoek Skou spog met nuwe baadjie
Windhoek Skou spog met nuwe baadjie

Windhoek Skou spog met nuwe baadjie

’n Opwindende toevoeging tot vanjaar se skou is die plaasplaza met ’n mak vark en ’n bok met drie horings.
Tanja Bause
Tanja Bause - Die 65ste jaarlikse Windhoek Nywerheids- en Landbouskou (Wias) sal vanjaar van 30 September tot 5 Oktober plaasvind, en dít met ’n nuwe baadjie.

Die skou duur vanjaar net ses dae lank en mnr. Vilbard Usiku, president van die skouvereniging, sê dit is nie die enigste verandering by vanjaar se geleentheid nie.

“Die direkteursraad het besluit om die skou se bestuurskomitee met die gedaanteverwisseling te laat voortgaan. Dit was altyd ’n verskafferskou en word nou ’n gespesialiseerde skou wat hoofsaaklik die aktiwiteite, uitsette en verwante dienste van die vervaardiging-, produksie-, verwerking- en waardetoevoegingsektor van die ekonomie sal uitstal,” sê Usiku.

Volgens mnr. Harald Schmidt, die Windhoek Skou-vereniging (WSS) se uitvoerende hoof, kon hulle moontlik al 200 aansoeke van uitstallers ontvang het as die skou nog sy ou baadjie gedra het.

“Maar omdat ons die skou vanjaar verander om eerder die waardetoevoeging-uitstaller te bevorder, het ons tot dusver net 60 aansoeke ontvang. Ons sal met sowat 160 uitstallers tevrede wees,” sê Schmidt.

Die skou het nou ook sy eie logo en gebruik nie meer die Windhoek Skou-vereniging se logo nie.

Volgens Schmidt verteenwoordig die logo landbou, nywerheid en dienste.

Mnr. Siggi von Lüttwitz, voorsitter van die lewendehawe-beesafdeling, het gesê hulle het weens die voortslepende droogte minder diere by die skou verwag.

“Amper 300 beeste van al nege rasse sal op skou wees. Die boere bring in plaas van 10 beeste net drie of vyf, maar hulle is in ’n uitstekende toestand,” sê hy.

Mnr. Dederick Jankowitz, voorsitter van die kleinvee-afdeling, sê: “Ongeveer 450 diere van drie bokrasse en sewe skaaprasse sal uitgestal word.”

’n Nuwe, opwindende toevoeging tot vanjaar se skou is die plaasplaza met mnr. Hennie Kruger aan die stuur.

“Ons wil kinders meer betrokke by en opgewonde oor die skou maak. Die plaasplaza sal verskillende mak diere uitstal. Daar sal onder meer hoenders, duiwe, papegaaie, hase, dwergbokkies, Dexter-koeie en hanslammers wees. Daar sal ook ’n mak vark en ’n bok met drie horings wees.

“Diere wat kinders aan kan vat. Hulle kan ook na praatjies oor diere en hul versorging kom luister,” het Kruger gesê.

Schmidt sê daar sal nie vanjaar ’n slangpark by die skou wees nie. Die mallemeule en pretpark sal soos gewoonlik deel van die skou wees.

“Die pretpark sal al van 27 September af vir besoekers gereed wees sodat hulle die hele nege dae kan oop wees. Die skou sal dan op 30 September afskop,” sê hy.

Toegang bly onveranderd en beloop N$40 vir volwassenes en N$20 vir studente, terwyl minderjariges en pensioenarisse verniet ingaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!