Windhoek skud haar vere reg vir jazz

Jazz-liefhebbers kan weer eens uitsien na ’n skouspel soos min met verskeie plaaslike en internasionale kunstenaars wat hul jazz-ding gaan doen.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die hooftrekpleister vir vanjaar se Windhoek Jazz Festival is niemand anders nie as die Prinses van Afrika, Yvonna Chaka Chaka.

Katrina Hanse-Himarwa, die eertydse minister van onderwys, kuns en kultuur en die beskermvrou van die fees, het dié onthulling laat verlede week in die hoofstad gemaak.

Dit is die agste agtereenvolgende jazzfees wat die Windhoek-munisipaliteit saam met verskeie vennote en borge aanbied.

Vanjaar se geleentheid word vir Saterdag 2 November beplan, het die munisipaliteit by monde van een van sy woordvoerders, me. Lydia Amutenya, bekend gemaak.

Amutenya sê die fees vind op die Onafhanklikheidstadion plaas. “’n Interessante mengsel van plaaslike kunstenaars, insluitend die jong en talentvolle Rose Black en die Ugly Creatures, is gekies om tydens een van die grootste sosiale geleenthede op die Namibiese vermaakkalender op te tree,” het Amutenya gesê.

Hanse-Himarwa het op haar beurt gesê: “Dit is altyd ’n spesiale gebeurtenis om ’n geleentheid te verteenwoordig wat sinoniem geword het met uitmuntendheid, vernuwing en topgehalte vermaak."

Wat haar betref, kan ’n mens “nie dink aan jazz sonder om ook te dink aan positiwiteit, geesdrif en stil introspeksie (reflection) nie”.

Volgens haar speel jazz ook ’n verenigende rol. “Die magtige aard daarvan stel ’n mens in staat om ’n gemeenskaplike begrip te hê oor ons afhanklikheid van mekaar en vir ’n oomblik die soms kleinlike grense wat ons tussen mekaar stel, te ignoreer.”

Die fees bied jaarliks die kans vir oud en jonk, mans en vroue, Windhoekers en gaste “om die groot gawes wat jazz bied, te vier en te ervaar”, sê Hanse-Himarwa.

Hoewel die genre baie plaaslike talent oplewer, is daar altyd ruimte vir groei, het sy beklemtoon.

Hiernaas bly die handelsmerk een waarmee Namibiërs hul kan vereenselwig, sê sy. “Die aanbied van die fees hou dus aan om beduidend by te dra tot Windhoek se status as ’n diverse, lewendige en kunstenaarvriendelike stad in aanloop tot sy strewe as ’n slim omgeestad teen 2022 te word.”

Hanse-Himarwa het voorts gesê sy besef dis nie ’n maklike taak om te besluit watter kunstenaars aan die fees mag deelneem nie.

Sy haal haar hoed af vir diegene wat daarmee gemoeid is, sê sy.

Die voormalige minister sê Windhoek kan steun op haar toegewyding as beskermvrou. “Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om my verbintenis en steun te verklaar tot die bevordering van musiek in al sy vorme en die ontwikkeling van musici in ons land.”

Me. Tekla Uwanga het namens die stadsraad gesê die plaaslike owerheid wil graag ’n deel bly van dié vlagskipgeleentheid. “Ek dink daar is min plek ter wêreld waar ’n mens op soveel verskillende maniere welkom geheet word soos in Windhoek. Die geleentheid bevorder Windhoek as ’n progressiewe stad, ’n bestemming vir wêreldgehalte vermaak en opwindende beleggingsgeleenthede aangesien Namibië die poort is vir eindelose moontlikhede.”

Lys van kunstenaars:

Namibiërs:

1.) Allistaire and the Swingers Jazz Band

2.) Rose Black

3.) FuJazz Band

4.) William Petersen

5.) Sean K

6.) Dan Shout Quartet

7.) The Ugly Creatures

Suid-Afrika:

1. Yvonne Chaka Chaka

2. Vusi Nova

3. Garth Taylor

Portugal:

1. Cicero Lee

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!